42. Ash-Shura
1Gaa-Miem
2Ein-Sien-Kôf
3Net so openbaar Allah, die Almagtige, die Allerwyse, aan u; en aan hulle vóór u het Hy reeds openbaar
4Aan Hom behoort alles wat in die hemele en op die aarde is; Hy is die Allerhoogste, die Allergrootste
5Die hemele mag byna uitmekaarbars bo-oor hulle, maar die engele verheerlik die lof van hulle Heer en vra vergifnis vir diegene wat op die aarde is. Waarlik, Allah is die Vergewensgesinde, die Genadige
6En hulle wat beskermers buiten Hom neem ~ Allah waak oor hulle; en u is nie ’n voog oor hulle nie
7En Ons het ’n Arabiese Qur’ãn aan u geopenbaar, sodat u die Moeder van Stede3 en wie in haar omstreke is, kan waarsku, en verdere waarskuwings kan uitreik omtrent die Dag van Versameling waaroor daar geen twyfel kan wees nie. Sommige sal in die Paradys wees en sommige sal in die Brandende Vuur wees
8En as Allah wou, kon Hy van hulle een enkele volk gemaak het, maar Hy laat in Sy barmhartigheid toe wie Hy wil. En die kwaaddoeners sal nóg beskermer nóg helper hê
9Of het hulle beskermers buiten Hom geneem? Maar Allah is die enigste Beskermer, en Hy wek die dooies op, en Hy het mag oor alle dinge
10En waaroor julle ook al mag verskil, die beslissing daarvan berus by Allah. Daarom is Allah my Heer; in Hom stel ek my vertroue, en tot Hom bekeer ek my
11Die Skepper van die hemele en die aarde. Hy het julle in pare geskape, net soos Hy die vee ook in pare geskape het, en Hy laat julle daardeur vermenigvuldig. Niks is soos Hy nie; en hy is die Alleshorende, die Allessiende
12Aan Hom behoort die skatte van die hemele en die aarde; ~ Hy vergroot en verkort die voorsiening in vir wie Hy wil. Voorwaar, Hy het kennis van alle dinge
13Hy het aan julle die godsdiens verduidelik wat Hy Noag opgelê het, en wat Ons aan u geopenbaar het, en wat Ons Abraham en Moses en Jesus opgelê het ~ om die godsdiens in ere te hou en nie verdeeld daaroor te wees nie. Vir die heidene is dit ’n moeilike weg waarnatoe u hulle roep. Allah kies vir Hom wie Hy wil en lei tot Hom wie in berou na Hom kom
14En hulle was nie verdeeld nie behalwe nadat die kennis tot hulle gekom het, en slegs deur selfsugtige afguns onder mekaar. En was dit nie dat ’n woord van u Heer dit voorafgegaan het vir ’n vasgestelde tyd nie, dan was die saak tussen hulle sekerlik al beslis. En diegene wat die Boek ná hulle geërf het, verkeer seker- lik in ’n verontrustende twyfel daaroor
15Nooi hulle dan hiernatoe uit, en wees standvastig soos u beveel is en volg nie hulle slegte begeertes na nie, en sê: Ek glo in dit wat Allah in die Boek geopenbaar het, en ek is beveel om regverdig tussen julle te oordeel. Allah is ons Heer en julle Heer. Vir ons ons werke; en vir julle julle werke. Daar bestaan geen argument tussen ons en julle nie. Allah sal ons bymekaar versamel en tot Hom is die terugkeer
16En hulle wat oor Allah argumenteer nadat hulle Hom onderdanig was, hulle smekinge dra by hulle Heer geen krag nie; daar is toorn oor hulle en daar sal ’n streng straf vir hulle wees
17Dit is Allah wat die Boek met waarheid geopenbaar het, en ook die Weegskaal; wat sal u laat begryp dat die Uur dalk naby is
18Diegene wat nie daarin glo nie wil dit verhaas, en die gelowiges vrees dit, en hulle weet dat dit die Waarheid is. Waarlik, diegene wat redekawel oor die Uur, het reeds ver afgedwaal
19Allah is Genadig teenoor Sy dienaars; Hy gee lewensmiddele aan wie Hy wil; en Hy is die Sterke, die Allermagtige
20Wie die oes van die Hiernamaals begeer, sy oes sal Ons vir hom laat toeneem; maar hy wat na die oes van hierdie wêreld verlang, vir hom gee Ons daarvan; maar in die Hiernamaals sal hy geen aandeel hê nie
21Of het hulle dan afgode wat vir hulle ’n godsdiens voorgeskryf het waartoe Allah geen toestemming verleen het nie? En was dit nie dat die woord van oordeel reeds uitgevaardig is nie, dan sou daar sekerlik nou tussen hulle geoordeel word. En vir die kwaaddoeners is daar gewis ’n pynlike straf
22U sal die onregverdiges sien vrees as gevolg van wat hulle verdien het, en dit sal hulle sekerlik tref. En hulle wat glo en goeddoen, sal in die Tuine van die Paradys wees. Hulle sal by hulle Heer vind alles wat hulle begeer . Dít is die groot goedertierenheid
23Aangaande hierdie dinge bring Allah ’n blye tyding aan Sy dienaars wat glo en goeddoen. Sê: Ek vra julle geen beloning hiervoor nie, behalwe dat julle mekaar moet liefhê. En wie goeie dade doen, Ons sal dit vir hom laat toeneem. Waarlik, Allah is Vergewensgesind, Erkentlik
24Of sê hulle: Hy het ’n leuen teen Allah versin? As Allah dit wou hê, kon Hy u hart teen hulle verseël het. En Allah wis die valsheid uit en bevestig die waarheid met Sy woorde. Voorwaar, Hy weet wat in die harte van mense is
25En dit is Hy wat berou van Sy dienaars aanvaar en hulle bose dade uitwis, en Hy weet wat julle doen
26en Hy beantwoord die gelowiges wat goeie werke doen, en gee hulle nog meer uit Sy oorvloed. En op die ongelowiges wag daar ’n streng straf
27En as Allah die voorsiening vir Sy dienaars vergroot het, sou hulle sekerlik op aarde in opstand gekom het; maar Hy stuur dit af met mate soos Hy dit goedvind. Waarlik, Hy is die Allerbewuste, die Siener van Sy dienaars
28En dit is Hy wat die reën afstuur nadat hulle daaraan gewanhoop het, en Hy versprei Sy barmhartigheid. En Hy is die Vriend, die Lofwaardige
29Een van Sy tekens is die skepping van die hemele en die aarde, en die lewende wesens wat Hy in hulle albei geplaas het. En Hy is Magtig genoeg om hulle bymekaar te versamel wanneer Hy wil
30En watter ongeluk julle ook mag oorkom, dit is wat julle hande bewerk het; maar Hy vergewe baie dinge
31En julle kan nie op die aarde ontsnap nie, nóg het julle ’n enkele vriend of helper buiten Allah
32En een van Sy tekens is die skepe wat soos berge op die see vaar
33As Hy wil, kan Hy die wind stil maak sodat die skepe beweging- loos op die see lê. Hierin is waarlik tekens vir elke geduldige en dankbare persoon
34Of Hy kan hulle laat vernietig omdat hulle dit verdien het, maar Hy vergewe dikwels
35sodat hulle wat oor Ons tekens redekawel, tot insig kan kom. Vir hulle is daar geen toevlug nie
36Wat aan julle gegee is, is slegs ’n voorsiening vir die lewe van hierdie wêreld, en wat by Allah is, is beter en van langer duur vir diegene wat glo en hulle vertroue in hul Heer stel
37en diegene wat die groot sondes en die onwelvoeglikhede vermy, en hulle wat vergewe wanneer hulle kwaad aangedoen word
38en diegene wat na hulle Heer luister en die gebed onderhou, en wie se sake deur wedersydse beraadslaging beslis word, en wat bestee van wat Ons aan hulle gegee het
39en diegene wat hulself verdedig wanneer ’n groot onreg hulle aangedoen word
40En die kwaad sal met die gelyke daarvan vergeld word, maar wie vergewe en versoening begeer, sy beloning is by Allah. Voorwaar Hy het die kwaaddoeners nie lief nie
41En wie homself verdedig nadat hy onderdruk is, teen hulle dan is daar geen verwyte nie
42Verwyte is slegs teen die verdrukkers en wie ten onregte op die aarde wanorde stig. Vir hulle is daar ’n smartlike straf
43En wie dan geduldig is en vergewe ~ dit is sekerlik ’n saak van groot beslissing
44Hy vir wie Allah laat dwaal, sal geen beskermer hê buiten Hom nie. En u sal die kwaaddoeners sien wanneer hulle die straf aanskou, en wanneer hulle sal sê: Is daar dan geen uitkoms nie
45En u sal hulle sien as hulle na die Vuur gebring word: veroot- moedig omdat hulle verneder is, terwyl hulle oë neergeslaan is. En die gelowiges sal sê: Die verloorders is húlle wat hul persoon en hul volgelinge op die Opstandingsdag sal verlooor. Kyk! die kwaaddoeners sal ’n blywende straf ontvang
46En hulle sal buiten Allah geen helpende vriend hê nie. En vir hom wat Allah laat dwaal, sal niemand ’n weg kan vind nie
47Luister na julle Heer voordat die Dag van Allah kom wat niemand kan afweer nie. Julle sal geen toevlug op daardie Dag hê nie, nóg enige kans om te ontken
48Maar as hulle weg draai, dan het Ons u nie as oppasser oor hulle aangestel nie. U plig is slegs om die boodskap af te lewer. En waarlik, wanneer Ons die mens Ons barmhartigheid laat smaak, dan verheug hy hom daarin; maar indien ’n kwaad hulle tref as gevolg van wat hulle eie hande vooruitgestuur het, dan is die mens waarlik ondankbaar
49Aan Allah behoort die koninkryk van die hemele en die aarde. Hy skep wat Hy wil. Hy skenk dogters aan wie Hy wil en seuns aan wie Hy wil
50of Hy skenk hulle sowel seuns as dogters; en Hy maak onvrug- baar wie Hy wil. Voorwaar, Hy is Alleswetend, Allermagtig
51Dit is nie aan die mens toegestaan dat Allah met hom sal praat nie, behalwe deur openbaringe, of van agter ’n sluier, of deur ’n boodskapper te stuur om deur Sy gebod te openbaar wat Hy wil. Voorwaar, Hy is Verhewe, die Allerwyse
52En Ons het aan u deur Ons gebod ’n besielende Boek geopenbaar. U het nie geweet wat die Boek was, of wat geloof was nie, maar Ons het dit tot ’n lig gemaak waardeur Ons leiding verleen aan diegene van Ons dienaars soos Ons wil. En voorwaar u lei na die regte pad
53die pad van Allah, aan Wie alles behoort wat in die hemele en op die aarde is. Nou waarlik, tot Allah is die uiteindelike terug- keer van alle dinge
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath