38. Saad
1Sôd.1 By the Qur’ãn wat voortreflikheid besit
2Nee, die ongelowiges is valslik trots en opstandig
3Hoeveel geslagte het Ons nie voorheen reeds vernietig nie, en hulle het uitgeroep toe daar geen tyd meer was om te ontsnap nie
4En hulle is verbaas dat ’n waarskuwer uit hul midde na hulle gekom het, en die ongelowiges sê: Hy is ’n towenaar, ’n leuenaar
5Het hy van die gode ’n enkele God gemaak? Dit is waarlik eienaardig
6En die leiers onder hulle sê: Gaan voort om julle gode aan te hang; dit is sekerlik voortreflik
7Ons het nooit in die vorige godsdiens iets hiervan gehoor nie: dit is niks anders nie as ’n versinsel
8Is die Vermaning aan hóm onder ons geopenbaar? Nee, hulle verkeer in twyfel omtrent My Vermaning. Nee, hulle het nog nie My straf gesmaak nie
9Of besit húlle die skatte van barmhartigheid van u Heer, die Almagtige, die Barmhartige
10Of is die koninkryk van die hemele en die aarde en wat daar- tussen is, húlle s’n? Laat hulle dan hulle middele vermeerder
11Wat ’n sterk leër van bondgenote is nie hier op vlug gejaag nie
12Die volk van Noag en Aad en Farao, die heer van die leërskare, het voorheen ook die profete verloën
13en Thamoed en die volk van Lot en die woudbewoners. Hulle was almal gekant teen die Waarheid
14En hulle almal het niks anders gedoen nie as om hulle bood- skappers te verloën; daarom was My vergelding regverdig
15En hulle wag slegs op ’n enkele roep waarvoor daar geen uistel sal wees nie
16En hulle sê: Ons Heer! Gee ons spoedig ons deel vóór die Dag van Afrekening
17Verdra geduldig wat hulle sê, en dink aan Ons dienaar Dawid, besitter van mag. Hy het hom dikwels tot Allah gewend
18Waarklik, Ons het die berge onderwerp om saam met hom Allah in die aand en in die oggend te verheerlik
19en die voëls bymekaar laat kom. Almal was hom onderdanig
20En Ons het sy koninkryk versterk, en Ons het hom wysheid en ’n beslissende oordeel gegee
21En het u die verhaal van die Teenstanders gehoor? Toe hulle oor die muur geklim en die binnekamer ingegaan het
22en hulle by Dawid gekom het, het hy hulle gevrees. Hulle het gesê: Moenie bang wees nie! Ons is twee prosedeerders, waar- van die een die ander onreg aangedoen het; spreek daarom reg tussen ons in waarheid, en handel nie onregverdig nie, en lei ons na die regte pad
23Dít is my broer; hy het nege-en-neëntig ooie, en ek het maar een ooi. Tog sê hy: Gee haar aan my; en hy het my in die argument oorweldig
24Dawid het gesê: Waarlik, hy het u onreg aangedoen deur u ooi op te eis, terwyl hy reeds baie ooie het. En voorwaar, vele vennote doen mekaar onreg aan, behalwe diegene wat glo en goeddoen; en hulle is maar min! En Dawid het geweet dat Ons hom beproef het, en daarom het hy sy Heer om beskerming gevra, en hy het biddend neergesak en hom tot Allah gewend
25Daarom het Ons hom beskerm en hy het by Ons toenadering gesoek en by Ons ’n voortreflike toevlugsoord gehad
26O Dawid! het Ons gesê, Ons het u as regeerder oor die land aan- gestel; oordeel dus tussen die mense in waarheid, en volg nie hul begeertes nie, anders sal hulle u van die weg van Allah aflei. Hulle wat van die weg van Allah afdwaal, sal gewis ’n hewige straf ontvang, omdat hulle die Dag van Afrekening vergeet
27En Ons het nie die hemel en die aarde en wat tussen hulle is, tevergeefs gemaak nie. Maar dit is die mening van die onge- lowiges. Wee daarom die ongelowiges, vanweë die Vuur
28Sal Ons húlle wat goeddoen, op dieselfde wyse behandel as die korruptes? Of sal Ons die godvresendes met die onheilstigters gelykstel
29Dit is ’n Boek wat Ons aan u geopenbaar het, vol seënwense, dat hulle oor Sy verse mag nadink en dat die verstandige mense kan onthou
30En aan Dawid het Ons Salomo geskenk: ’n voortreflike dienaar. Voorwaar, hy het hom dikwels tot Allah gewend
31Toe vinnige volbloedperde in die aand na hom gebring is
32toe het hy gesê: Ek hou van goeie dinge vanweë die gedagtenis aan my Heer ~ totdat hulle agter ’n skerm verborge was
33toe het hy gesê: Bring hulle terug. Toe het hy hulle bene en nekke begin streel
34En waarlik, Ons het Salomo beproef en op sy troon ’n blote liggaam gesit; daarom het hy hom tot Allah gewend
35Hy het gesê: My Heer! Vergewe my; en skenk my ’n koninkryk wat vir niemand ná my geskik sal wees nie; waarlik, U is die Barmhartigste van alle Gewers
36Daarom het Ons die wind aan hom onderdanig gemaak, om volgens sý bevel saggies te waai waarheen hy sê
37en net so ook die duiwels, elke bouer en duiker
38en nog ander, wat met kettings geboei was
39Dít is Ons gawe; wees daarom vrygewig óf spaarsaam, sonder om rekening te hou
40En waarlik, hy was ná aan Ons, en het in Ons ’n voortreflike toevlug gehad
41En dink aan Ons dienaar Job, hoe hy na sy Heer geroep het: Die duiwel het my met kommer en smart aangetas
42Toe het Ons gesê: Spoor u rydier aan; hier is ’n koel wasplek en drinkwater
43En Ons het aan hom sy volk gegee, en nóg ’n keer soveel, as ’n genadegawe van Ons, en as ’n les vir mense wat begryp
44En Ons het gesê: Neem ’n klompie wêreldse besittings in u hand, en doen goed daarmee, en neig nie tot valsheid nie. Voorwaar, Ons het hom geduldig gevind. ’n Voortreflike dienaar! Waarlik, hy het hom dikwels tot Ons gewend
45En dink aan Ons dienaars Abraham en Isak en Jakob: mense van mag en insig
46En Ons het hulle gesuiwer met ’n suiwerende middel, en met kennis van die uiteindelike Tuiste
47En waarlik, vir Ons was hulle uitverkorenes
48En dink aan Ismaël en Elisa en Zoel-Kiefel; en hulle was almal uitnemend
49Dit is ’n aanmaning. En gewis, daar is ’n voortreflike toevlug vir die godvresendes
50Tuine van Ewigheid waarvan die deure vir hulle wyd oop is
51en waarin hulle hul sal neervly en aanroep, en waarin oorvloedig vrugte en drank is
52En saam met hulle sal daar kuise vroue wees, metgeselle van gelyke leeftyd
53Dít is wat julle belowe word vir die Dag van Oordeel
54Voorwaar, dit is ’n voorsiening van Ons wat nooit uitgeput sal raak nie
55en dít is vir die gelowiges! En vir die opstandiges sal daar sekerlik ’n bose plek wees om na terug te keer
56die Hel! Húlle sal dit binnegaan. Boos is daardie rusplek
57laat hulle dit smaak, ’n kokende en ’n yskoue drank
58en nog meer derglike strawwe van verskillende soorte
59Hulle is ’n groep wat blindelings saam met julle stormloop ~ geen verwelkoming vir hulle nie! Gewis, hulle sal in die Vuur brand
60Hulle sal sê: Wee julle! Daar is geen verwelkoming vir julle nie! Julle het dit vir ons voorberei, en dit is ’n bose rusplek
61Hulle sal sê: Ons Here! Wie dit ook al vir ons voorberei het, vermeerder vir hom ’n dubbele straf in die Vuur
62En hulle sal sê: Wat makeer ons? ~ ons sien glad nie die mense vir wie ons onder die bose gereken het nie
63Het ons dan nie die spot met hulle gedryf nie, of sien ons oë hulle nie
64Dit is sekerlik die waarheid ~ die onderlinge twis van die bewoners van die Vuur
65Sê: Ek is slegs ’n waarskuwer; en daar is geen god buiten Allah nie, die Een, die Onweerstaanbare
66die Heer van die hemele en die aarde en wat tussen hulle is, die Almagtige, die Vergewensgesinde
67Sê: Dit is ’n belangrike boodskap
68en julle probeer daarvan wegskram
69Ek dra geen kennis van ’n getwis onder die verhewe vergadering nie
70Slegs dít is aan my geopenbaar: dat ek ’n duidelike waarskuwer is
71Toe u Heer aan die engele gesê het: Waarlik, Ek gaan die mens uit stof skape
72Wanneer Ek hom dan voltooi en van My gees in hom ingeblaas het, prostreer dan in gehoorsaamheid voor hom neer
73Daarom het al die engele geprostreer
74maar nie Iblies nie. Hy was hoogmoedig en een van die ongelowiges
75Allah het gesê: O Iblies! Wat het u verhinder om voor hóm neer te buig wat Ek met albei My hande geskape het? Is u te trots, of is u te hoog daarvoor
76Hy het gesê: Ek is beter as hy; U het my uit vuur geskape en vir hom het U uit stof geskape
77Allah het gesê: Gaan weg hiervandaan! Voorwaar, u is verdryf
78en My vloek sal op u rus tot op die Oordeelsdag
79Hy het gesê: O my Heer! Vergun my dan uitstel tot die Dag wanneer hulle opgewek sal word
80Allah het gesê: Uitstel word aan u verleen
81tot op die Dag van die bepaalde tyd
82Hy het gesê: By U mag, dan sal ek hulle almal sekerlik verlei
83behalwe U dienaars onder hulle, die gesuiwerdes
84Allah het gesê: Die Waarheid is ~ en die Waarheid spreek Ek
85dat Ek die Hel met u en met almal van hulle wat u volg, sal volmaak
86Sê: Ek vra julle geen beloning daarvoor nie; nóg is ek ’n bedrieër
87Dit is niks anders nie as ’n Vermaning vir die volke
88En sekerlik sal julle ná ’n tyd daarvan te wete kom
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath