Islam
terug

36. Yaseen

1Jaasien

2By die Qur’ãn, vol van wysheid

3U is inderdaad een van die boodskappers

4en op die regte pad

5’n Openbaring van die Almagtige, die Genadevolle

6dat ’n volk daarmee mag waarsku, wie se vaders nie gewaarsku is nie, en wat dus agtelosig is

7Die woord is reeds bewaarheid ten opsigte van die meeste van hulle; dus glo hulle nie

8Ons het sekerlik kettings om hulle nekke gesit wat tot aan hulle ken reik, sodat hulle hoofde omhoog gehef bly

9en Ons het ’n verskansing voor hulle en ’n verskansing agter hulle geplaas; so het Ons hulle dan omsluier, sodat hulle nie kan sien nie

10Dit is vir hulle om‘t ewe of u hulle waarsku of nie waarsku nie; hulle wíl nie glo nie

11U kan slegs hóm waarsku wat die Vermaning volg en die Barmhartige in die verborgene vrees; bring hom dan ’n blye tyding van vergifnis en ’n eervolle beloning

12Voorwaar, dit is Ons wat die dooies laat herlewe, en Ons laat opteken wat hulle vooruitstuur, en ook hulle voetspore; en Ons boekstaaf alles in ’n duidelike verslagboek

13Gee aan hulle die gelykenis van die Bewoners van die Stad toe die apostels daar aangekom het

14Toe Ons twee apostels na hulle gestuur het, het hulle albei verloën; daarna het Ons hulle met ’n derde versterk en hulle het gesê: Waarlik, ons is na julle gestuur

15Hulle het geantwoord: Julle is maar net sulke sterflinge soos ons, en die Barmhartige het niks aan julle geopenbaar nie; julle lieg net

16Hulle het gesê: Ons Heer weet dat ons waarlik na julle gestuur is

17En dit is slegs ons plig om die boodskap duidelik af te lewer

18Die volk het gesê: Waarlik, ons voorspel kwaad van julle. As julle nie ophou nie, sal ons julle gewis stenig, en ’n pynlike straf van ons sal julle sekerlik tref

19Hulle het gesê: Julle teenspoed is met julle. Is dit omdat julle vermaan word? Nee julle is ’n volk wat oortree

20En van die verste uithoek van die stad het ’n man aangehardloop gekom. Hy het gesê: O my volk! Volg die apostels

21volg hom wat geen beloning van julle vra nie. Hulle is op die regte pad

22En watter rede het ek om Hom wat my geskape het en tot wie julle teruggebring sal word, nie te aanbid nie

23Sal ek dan buiten Hom gode aanneem wie se bemiddeling, indien die Barmhartige sou wens om my te benadeel, my niks sal baat nie, en wat my nie sal kan verlos nie

24Dan sal ek inderdaad in openlike dwaling verkeer

25Waarlik, ek glo in julle Heer; luister daarom na my

26Daar is gesê: Gaan die Paradys binne. Hy het gesê: Het my volk maar geweet

27hoe my Heer my vergewe en my een van die geëerdes gemaak het

28En Ons het ná hom nie ’n leërskare uit die hemel na sy volk gestuur nie; Ons stuur dit trouens nooit

29Dit was slegs een enkele kreet, en kyk! hulle was stil

30Wee die dienaars! Nooit kom daar ’n boodskapper nie, of hulle tart hom uit

31Merk hulle dan nie hoeveel geslagte Ons reeds vóór hulle vernietig het nie, geslagte wat nie tot hulle teruggekeer het nie

32En almal ~ ja, waarlik, álmal ~ sal voor Ons gebring word

33En die dorre aarde is vir hulle ’n teken: Ons laat dit herlewe en bring graan daaruit voort, sodat hulle daarvan kan eet

34En Ons het tuine met dadelpalms en druiwe daarin aangelê, en Ons laat fonteine daarin ontspring

35sodat hulle van die vrugte daarvan kan eet. Húlle hande het dit nie gemaak nie. Sal hulle dan nie dank betuig nie

36Eer kom Hom toe wat alles wat op die aarde groei, in pare geskape het, en húlle ook; en selfs ook dít waarvan hulle nie weet nie

37En die nag is vir hulle ’n teken: Ons neem die dag daarvan weg, en kyk! hulle verkeer in duisternis

38en die son beweeg voort na haar bestemming. Hierdie dinge is die verordeninge van die Allermagtige, die Alleswetende

39En vir die maan het Ons kwartiere bepaal, totdat sy soos ’n verdorde palmboomtak sal word

40Die son mag die maan nie inhaal nie, en ook kan die nag die dag nie verbystrewe nie. En almal sweef in ’n bepaalde baan

41En ’n teken vir hulle is dat Ons hulle nageslag in die belaaide skip laat klim

42En Ons het vir hulle nog meer soortgelyke skepe gegee, waarop hulle sal vaar

43En as Ons wil, kan Ons hulle laat verdrink; dan sal daar geen helper vir hulle wees nie, ook sal hulle nie gered word nie

44behalwe deur Ons genade, en as vermaak vir ’n bepaalde tyd

45En wanneer dit aan hulle gesê word: Waak teen dít wat vóór julle is en teen dít wat agter julle is, sodat barmhartigheid aan julle betoon kan word

46Maar geen teken van hul Heer bereik hulle nie, of hulle draai hulle daarvan weg

47En wanneer aan hulle gesê word: Bestee van wat Allah aan julle geskenk het, dan sê die ongelowiges aan die gelowiges: Sal ons hom voed wat, indien Allah wou, homself kon gevoed het? Julle verkeer slegs in dwaling

48En hulle sê: Wanneer sal hierdie belofte vervul word, indien julle opreg is

49Hulle wag slegs op ’n plotselinge straf wat oor hulle sal kom terwyl hulle nog aan die stry is

50Daarom sal hulle nie in staat wees om nog ’n testament te maak nie, ook sal hulle na hul families nie terugkeer nie

51En die basuin sal geblaas word, en kyk! vanuit hul grafte sal hulle na hul Heer aangesnel kom

52Hulle sal sê: Wee ons! Wie het ons uit ons slaap gewek? Dít is wat die Barmhartige belowe het, en die boodskappers het die waarheid gespreek

53Daar sal slegs ’n enkele kreet wees, en kyk! hulle sal voor Ons gebring word

54Op hierdie Dag dan sal geen siel enige onreg aangedoen word nie; en julle sal vir niks beloon word nie, behalwe vir jul dade

55Voorwaar, op dié Dag sal die bewoners van die Hemel gelukkig aan die werk wees

56Hulle en hul eggenotes sal hul in die skadu op verhoogde sofa’s neervly

57Hulle sal vrugte daarin hê, en wat hulle ook al verlang, hulle sal dit ontvang

58Vrede! ’n Woord van die Genadevolle Heer

59En hou julle eenkant op hierdie Dag, o julle misdadigers

60Het Ek julle nie gelas nie, o Kinders van Adam, dat julle die duiwel nie moet dien nie? ~ waarlik, hy is jul openlike vyand

61en dat julle My moet dien? Dit was die regte weg

62En tog het hy ’n groot gedeelte van julle laat verdwaal. Kon julle dit dan nie verstaan nie

63Dít is die Hel wat aan julle belowe is

64Gaan dit Vandag binne, omdat julle ongelowig was

65Op dié Dag sal Ons hulle monde verseël, maar hulle hande sal met ons praat, en hulle voete sal getuienis aflê van alles wat hulle verdien het

66En as Ons wou, sou Ons hulle oë uitgehaal het, dan sou hulle strewe om eerste oor die weg te kom, maar hoe sou hulle sien

67En as Ons wou, sou Ons hulle in hul plekke van gedaante laat verwissel het, dan sou hulle nie in staat wees om vorentoe of agtertoe te gaan nie

68En hy aan wie Ons ook ’n lang lewe gee, hom laat Ons ook afneem aan lewenskrag. Wil hulle dan nie verstaan nie

69En Ons het hom2 nie in die digkuns onderrig nie; dit pas hom ook nie. Dit is niks anders nie as ’n vermaning, en ’n duidelike Qur’ãn

70om die lewendes te waarsku en sodat die woord teen die ongelowiges bewaarheid kan word

71Sien hulle dan nie dat ons met Ons hande vir hulle vee geskape het nie, waaroor hulle baas is

72En Ons het dit aan hulle diensbaar gemaak, sodat hulle op party kan ry en van sommige kan eet

73Hulle trek voordeel daaruit en dit gee hulle ook iets om te drink. Sal hulle dan nie dank betuig nie

74Hulle aanbid gode buiten Allah en hoop dat dit hulle sal help

75Hierdie dinge kan hulle nie help nie, en hulle sal as ’n skare teen hulle ingeroep word

76Moenie dat hulle praatjies u verontrus nie. Voorwaar, Ons weet wat hulle in die geheim doen, en wat hulle openlik doen

77Sien die mens nie dat Ons hom uit ’n sperm geskape het nie? Maar kyk! hy is ’n openlike twissoeker

78En hy stel ’n gelykenis teenoor Ons, en vergeet sy eie ontstaan. Hy sê: Wie kan die beendere laat herlewe as hulle vergaan het

79Sê: Hy wat die eerste maal lewe aan hulle gegee het, sal hulle laat herlewe; en Hy is die Kenner van die hele skepping

80Hy wat vir julle uit die groen boom vuur verwek, sodat julle dit kan aanwend

81Is Hy wat die hemele en die aarde geskape het, dan nie in staat om die gelyke daarvan te skep nie? Ja! En Hy is die Skepper van alles, die Alleswetende

82Voorwaar, wanneer Hy Hom iets voorneem, is Sy gebod slegs: Wees! En dit word

83Eer Hom dus, in Wie se hand die Koninkryk van alle dinge is! Tot Hom sal julle teruggebring word. Hulle Wie In Rye Georden Is

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath