Islam
terug

20. Taa-haa

1Tô-haa

2Ons het nie die Qur’ãn aan u geopenbaar sodat dit u moes laat faal nie

3maar dit is ’n vermaning vir hom wat vrees

4’n Openbaring van Hom wat die aarde en die hemele geskape het

5Die Barmhartige is op die Troon van Mag bevestig

6Aan Hom behoort alles wat in die hemele is en op die aarde, en wat tussen hulle is, en alles wat onder die grond is

7En of u hard praat of nie, Hy ken tog alle geheime, en ook dit wat die diepste verborge is

8Allah! ~ Daar is geen God nie behalwe Hy. Hy het die reinste name

9En het u die verhaal van Moses gehoor

10Hoe hy ’n vuur gesien en aan sy volk gesê het: Bly hier; ek be- speur ’n vuur; miskien sal ek u daarvandaan ’n brandende vuur- kool kan saambring; of dalk ontvang ek daar nog lig

11En toe hy daar naby kom, het ’n stem na hom geroep: O Moses

12Voorwaar, Ek is u Heer. Trek u skoene uit, want u bevind u in die heilige vallei van Toewa

13En Ek het u uitverkies; luister daarom na wat geopenbaar word

14Voorwaar, Ek is Allah; daar is geen god nie, behalwe Ek; aanbid My daarom en onderhou die gebed tot My gedagtenis

15Waarlik, die Uur sal kom ~ Ek is voornemens om dit bekend te maak ~ dan sal elke siel beloon word volgens sy strewe

16Laat hom wat nie daarin glo nie en sy eie neigings volg, u nie daarvan weerhou nie, anders sal u vergaan

17En wat is in u regterhand, o Moses

18Hy het geantwoord: Dit is my staf; ek leun daarop, en ek slaan daarmee blare af vir my skape, en ek gebruik dit ook vir ander doeleindes

19Hy het gesê: Werp dit neer, o Moses

20Hy het dit neergewerp; en kyk! dit was ’n kronkelende slang

21Toe het Hy gesê: Gryp dit, en moenie bang wees nie. Ons sal dit weer maak soos dit was

22En druk u hand teen u sy; dit sal wit en ongeskonde uitkom ~ nog ’n teken

23Sodat Ons nog groter tekens van Ons aan u kan toon

24Gaan na Farao; hy het inderdaad die perke oorskry

25Hy het gesê: My Heer! Verruim my bors vir my

26en Vergemaklik my taak vir my

27en ontknoop tog my tong

28sodat hulle my woorde kan verstaan

29En gee aan my ’n helper uit my familie

30Aäron, my broer

31Versterk my krag deur hom

32en laat hom deel in my taak

33sodat ons U kan verheerlik

34en vir altyd aan U kan dink

35Voorwaar, U sien ons elke oomblik aan

36Hy het gesê: U smeekbede is verhoor, o Moses

37En waarlik, Ons het voorheen reeds aan u ’n ander guns bewys

38toe Ons aan u moeder as volg geopenbaar het

39Plaas hom in ’n kissie en werp dit in die rivier; daarna sal die rivier dit aan die oewer afgee, waar ’n vyand van My en van hom, hom sal vind en aanneem. En Ek het u met My liefde omhul, sodat u voor My oë opgevoed kon word

40En toe het u suster verbygekom en gesê: Sal ek u na iemand neem wat hom sal versorg? So het Ons u aan u moeder terug- besorg, sodat haar oë verkoel kon word en sy kon ophou treur. En u het ’n man om die lewe gebring, maar Ons het u van smart verlos, en u op verskeie maniere beproef. En u het jare lank onder die volk van Mede vertoef. Daarna het u, soos verorden is, hierheen gekom

41En Ek het u vir My uitverkies

42Gaan uit, u en u broer, met My tekens, en laat nie na om aan My te dink nie

43Gaan u albei na Farao, want waarlik, hy het oortree

44Spreek sagte woorde met hom; miskien sal hy ag slaan, of vrees

45Toe het hulle geantwoord: Ons Heer! Ons vrees dat hy teenoor ons geweld sal gebruik, of dat hy opstandig sal wees

46Hy het gesê: Moenie vrees nie, want Ek is met julle! ~ Ek hoor, en Ek sien

47Daarom moet julle albei na hom gaan en sê: Ons is waarlik boodskappers van u Heer; laat daarom die Kinders van Israel saam met ons weggaan, en doen hulle geen leed aan nie. Ons het voorwaar aan u ’n boodskap van u Heer gebring; en die vrede rus op hom wat dié leiding volg

48Dit is aan ons geopenbaar dat die straf hom sal agterhaal wat dit verwerp, of wegdraai

49Farao het gesê: Wie is u Heer, o Moses

50Hy het geantwoord: Ons Heer is Hy aan wie alles hul skepping te danke het, en van wie alle leiding uitgaan

51Hy het gesê: Wat is dan die toestand van die vorige geslagte

52Toe het Moses gesê: My Heer teken dit alles in ’n boek aan; my Heer dwaal nie, en vergeet ook nie

53Dit is Hy wat die aarde uitgestrek het, en vir julle paaie daarin gemaak het; en Hy stuur reën uit die wolke neer, waardeur pare van alle plantsoorte voortgbring word

54Eet en laat julle vee wei! Voorwaar, daar is tekens hierin vir mense wat verstaan

55Uit die aarde het Ons julle geskape, en Ons sal julle daartoe laat terugkeer, en daaruit sal Ons julle weer opwek

56Ons het inderdaad al Ons tekens aan Farao getoon, maar hy het dit verwerp en geweier om te glo

57Hy het gesê: Het u na ons gekom om ons deur u towerkuns uit ons land te verdryf, o Moses

58Maar ons kan ook gelykwaardige towerkuns voortbring. Maak daarom ’n afspraak met ons wat óns nie sal breek nie en u ook moet hou, en laat ons op ’n gerieflike plek bymekaarkom

59Moses het gesê: U afspraak sal plaasvind op die dag van die Fees; en laat u volk in die voormiddag byeenkom

60Daarop het Farao teruggegaan, en sy plan beraam, en weer gekom

61Moses het vir hulle gesê: Wee julle! Moenie ’n leuen teen Allah versin nie, anders sal Hy julle deur straf vernietig; hy wat ’n leuen versin, sal altyd faal

62Daarna het hulle met mekaar geargumenteer, en die samekoms geheim gehou

63Hulle het gesê: Hierdie twee is waarlik towenaars wat julle met hulle towerkuns uit jul land wil verdryf en al julle instellings wil vernietig

64Besluit dan oor julle planne en tree in rye na vore; en voorwaar, hy wat die knapste is, sal vandag slaag

65Hulle het gesê: O Moses! Sal u werp, of sal ons eerste werp

66Sy antwoord was: Nee, werp julle. En kyk! hulle tou en hul stokke het, deur towerkuns, gelyk asof dit hardloop

67Toe het Moses vrees in sy hart gekoester

68Ons het gesê: Moenie vrees nie; voorwaar, u sál die oorwinnar wees

69En werp neer wat u in u regterhand hou; dít sal verslind wat hulle voortgebring het. Wat hulle voortgebring het, is slegs die sette van ’n towenaar, en nooit sal ’n towenaar slaag nie, waarvandaan hy ook al kom

70Toe het die towenaars op hulle aangesigte geval, en gesê: Ons glo in die Heer van Aäron en Moses

71Farao het gesê: Glo julle in hom voordat ék julle daartoe verlof gegee het? Voorwaar, hy is die slimme van wie julle jul towerkuns geleer het. Daarom sal ek julle hande en julle voete aan die teenoorgestelde kant laat afsny, en ek sal julle op die stamme van palmbome kruisig, en julle sal met sekerheid weet wie van ons se straf strenger en langduriger is

72Hulle het gesê: Ons kan nie aan u woorde voorkeur gee bo die duidelike bewyse wat aan ons getoon is, en bo Hom wat ons geskape het nie. Besluit derhalwe soos dit u behaag. U kan slegs oor die lewe van hierdie wêreld besluit

73Waarlik, ons glo dat ons Heer ons foute sal vergewe, asook die towery waartoe u ons gedwing het. En Allah is die Allerbeste en Ewige

74Waarlik, hy wat as skúldige na sy Heer kom, vir hom is daar die Hel. Hy sal daarin nie sterf en ook nie lewe nie

75En wie na Hom as gelowige kom, en goeie dade verrig het ~ vir hulle is daar hoë range

76en hulle sal bly in Tuine van Ewigheid waardeur riviere vloei. En sodanig is die beloning van hom wat homself louter

77En Waarlik, Ons het aan Moses geopenbaar: Reis met my die- naars gedurende die nag, en baan vir hulle ’n droë weg deur die see, sonder vrees dat u ingehaal sal word; en moenie bang wees nie

78Daarna het Farao hulle met sy leërskare agtervolg; maar die see het hulle verswelg en heeltemal bedek

79En Farao het sy volk mislei, en geensins reg gelei nie

80O Kinders van Israel! Ons het julle waarlik van jul vyand verlos en ’n verbond met julle aan die regterkant van die berg gesluit en manna en kwartels vir julle afgestuur

81Eet van die goeie dinge waarvan Ons julle voorsien het, en gaan julle daarmee nie te buite nie, anders sal My toorn op julle neerdaal; en hy op wie My toorn neerdaal, sal voorwaar vernietig word

82Maar Ek is sekerlik Vergewensgesind teenoor hom wat berou het en glo en goeddoen en die leiding volg

83En wat het u so haastig van u volk laat weggaan, o Moses

84Hy het gesê: Hulle volg in my spoor, en ek het my tot U gehaas, my Heer, sodat U welbehae in my mag hê

85Hy het gesê: Ons het u volk in u afwesigheid sekerlik beproef, en die Samiri het hulle mislei

86Toe het Moses na sy volk teruggekeer, toornig en bedroef. Hy het gesê: O my volk! Het julle Heer julle nie aangename dinge belowe nie? Het die beloofde tyd dan vir julle te lank geduur, of het julle begeer dat die toorn van julle Heer op julle moet neerdaal, en het julle daarom jul belofte aan my verbreek

87Hulle het geantwoord: Ons het nie uit eie beweging die belofte aan u verbreek nie, maar ons was genoodsaak om die las van die sierade van die volk te dra; daarom het ons dit weggegooi; en so het Samiri ook aan die hand gedoen

88Toe het hy ’n beeld van ’n kalf voortgebring wat ’n loeiende geluid gemaak het, en hulle het gesê: Dít is julle god en die god van Moses, maar hy het vergeet

89Kon hulle dan nie merk dat dit nie in staat is om hulle te antwoord, en dat dit geen voor- of nadeel vir hulle kon bewerk nie

90En Aäron het sekerlik voorheen aan hulle gesê: O my volk! Julle word slegs daarmee beproef; en waarlik, julle Heer is die Barmhartige God. Volg my dus, en gehoorsaam my bevel

91Maar hulle antwoord was: Ons sal waarlik nie ophou om die kalf te aanbid voordat Moses nie eers na ons teruggekeer het nie

92Moses het gesê: O Aäron! Wat het u verhinder ~ toe u sien dat hulle afgedwaal het

93om my te volg? Het u dan my gebod verontagsaam

94Hy het geantwoord: O seun van my moeder! Gryp my nie aan my baard en ook nie aan my hoof nie. Ek was bang dat u sou sê: U het ’n skeuring onder die Kinders van Israel teweeggebring, en nie op my woord gewag nie

95Moses het gesê: Wat was u bedoeling, o Samiri

96Hy het gesê: Ek het bemerk wat hulle nie bemerk het nie; toe het ek ’n handvol stof van die boodskapper se voetstappe geneem en dit weggegooi. So het my siel dit aan my opgedra

97Hy het gesê: Gaan weg! Dit is vir u om in hierdie lewe te sê: Raak my nie aan nie! En aan u word ’n straf belowe wat u nie sal kan ontwyk nie. En kyk na jou god van wie jy gesê het dat hy aanbid moet word. Ons sal dit sekerlik verbrand en daarna oor die see verstrooi

98Slegs Allah is julle Heer; daar is geen god nie behalwe Hy. Hy omvat alle dinge in Sy kennis

99So vertel Ons aan u die nuus van wat voorheen gebeur het. En Ons het inderdaad vir u ’n Vermaning van Onsself gegee

100Wie daarvan wegdraai, sal op die Opstandingsdag sekerlik ’n las dra

101waaronder hy altyd gebuk sal gaan. En sleg sal hulle las wees op die Dag van Opstanding

102die Dag waarop die basuin geblaas sal word; en Ons sal die skuldiges op daardie Dag met blou oë bymekaar bring

103hulle wat in die geheim met mekaar beraadslaag en gesê het: Julle het slegs tien dae vertoef

104Ons weet goed wat hulle antwoord sal wees as die regverdigste onder hulle sou sê: Julle het maar net ’n dag lank vertoef

105En hulle vra u uit aangaande die berge. Sê: My Heer sal hulle soos stof verstrooi

106en daarvan ’n vlakte maak, glad en gelyk

107waarin u geen kromheid en ongelykheid sal bespeur nie

108Op dié Dag sal hulle die Oproeper volg in wie daar geen ongeregtigheid is nie; en die stemme voor die Barmhartige God sal sag wees, sodat u niks anders as ’n dowwe klank sal hoor nie

109Op daardie Dag sal daar geen bemiddeling wees nie, behalwe vir hom aan wie die Barmhartige dit toestaan en met wie se woorde Hy tevrede is

110Hy weet wat voor hulle is en wat ager hulle is, hoewel hulle dit met hul kennis nie kan omvat nie

111En die gesigte sal hulle verootmoedig in die teenwoordigheid van die Lewende, die Selfonderhoudende. En hy wat onregverdig van inbors is, is inderdaad verlore

112En wie goeie werke verrig en ’n gelowige is, hy hoef geen onregverdigheid te vrees nie, ook sal geen beloning wat hom toekom, teruggehou word nie

113Ons het dit as ’n Arabiese Qur’ãn geopenbaar, en daarin duidelike waarskuwings geuiter, sodat hulle teen die kwaad kan waak en dat dit vir hulle as ’n vermaning kan dien

114Verhewe dan is Allah, die Ware Koning. En haas u nie met die Qur’ãn voordat die openbaring daarvan aan u heeltemal voltooi is nie, en sê: O my Heer! Vermeerder my in kennis

115En sekerlik het Ons voorheen ’n opdrag aan Adam gegee, maar hy het dit vergeet; en Ons het in hom geen begeerte tot ongehoorsaamheid gevind nie

116En toe Ons aan die engele gesê het: Prostreer julleself voor Adam, het hulle prostreer, behalwe Iblies; hy het geweier

117Ons het gesê: O Adam! Hy is ’n vyand van u en u vrou. Laat daarom nie toe dat hy julle uit die Tuin verdryf nie, anders sal julle bedroef word

118Voorwaar, dis bestem dat julle daarin nie nakend of honger sal wees nie

119En ook dat julle geen dors sal ken, of nie blootgestel sal wees aan die hitte van die son nie

120Maar die duiwel het hom kwaad ingefluister; hy het gesê: O Adam! Sal ek u na die Boom van Ewigheid lei, en na ’n koninkryk wat nimmer sal vergaan

121Toe het hulle albei daarvan geëet, waardeur hulle naaktheid aan hulle duidelik geword het; en toe het hulle begin om hulself met die blare van die Tuin te bedek. En Adam was sy Heer ongehoorsaam, en hy is teleurgestel

122Toe het sy Heer hom uitverkies en tot hom gekeer, en hom gelei

123Hy het gesê: Gaan julle almal hiervandaan voort, want julle sal mekaar se vyande wees. Maar daar sal sekerlik leiding van My tot julle kom. Wie dan My leiding volg, hy sal nie mislei word of ongelukkig wees nie

124Maar diegene wat hulle daarvan wegdraai, sal in armoede lewe, en op die Dag van Opstanding sal Ons so iemand met blindheid slaan

125Hy sal sê: My Heer! Waarom het u my met blindheid geslaan, terwyl ek voorheen nog kon sien

126Allah sal sê: Ons tekens het na u gekom en u het geen ag daarop geslaan nie. Daarom is u ook op hierdie Dag verlate

127So vergeld Ons die buitensporiges en hulle wat nie in die tekens van hul Heer glo nie. En voorwaar, die straf van die Hiernamaals is strenger en langer van duur

128Is dit dan nie vir hulle duidelik hoeveel geslagte in wie se ou woonplekke hulle nou rondtrek, Ons voorheen reeds vernietig het nie? Voorwaar, hierin is ’n teken vir mense met begrip

129En was dit nie dat u Heer reeds ’n woord uitgevaardig het en ’n termyn vasgestel het nie, sou die straf hulle sekerlik agterhaal het

130Verdra geduldig wat hulle sê, en verheerlik die lof van u Heer vóór die opgaan van die son en vóór haar ondergang; en verheerlik Hom gedurende die ure van die nag en die dele van die dag, sodat u weltevrede mag wees

131En vermoei u oë nie deur te staar na die heerlikheid van die wêreld wat Ons aan verskeie van hulle gegee het om hulle mee te beproef nie. Die voorsiening van u Heer is beter en van langer duur

132En spoor u volk aan tot die gebed, en volhard daarin. Ons vra geen lewensonderhoud van u nie; Ons onderhou u. En die salige einde is vir húlle wat teen die kwaad waak

133En hulle sê: Waarom bring hy ons nie ’n teken van sy Heer nie? Het daar dan nie ’n duidelike bewys na hulle gekom in die vorm van alles wat in die geskrifte vermeld is nie

134En as Ons hulle vóór die koms daarvan met straf vernietig het, sou hulle gesê het: Ons Heer! Waarom het U ons nie ’n boodskapper gestuur nie, sodat ons U tekens kon gevolg het voordat skande en skaamte oor ons gekom het

135Sê: Ons wag elkeen; so moet julle ook wag. Julle sal weldra te wete kom wie op die regte pad is en wie die ware weg volg

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath