7. Al-A'raaf
1Alief, Laam, Miem, Sôd
2’n Boek aan u geopenbaar ~ laat u bors daarom nie benoud wees nie ~ sodat u daarmee mag waarsku.. Dit is ’n aanmaning vir die gelowiges
3Volg wat julle Heer aan julle geopenbaar het, en volg geen ander beskermers nie, buiten Hom; hoe min onthou julle
4En hoeveel stede het Ons nie vernietig nie! So het Ons straf hulle gedurende die nag oorval of tydens hulle middagslaap
5Tog, toe Ons straf oor hulle gekom het, was hulle uitroep niks anders as: Ons was inderdaad kwaaddoeners
6En Ons sal hulle na wie die boodskappers gestuur was, sekerlik ondervra, en Ons sal die boodskappers ook ondervra
7Dan sal Ons hulle die waarheid vertel, want Ons is nooit afwesig nie
8En die oordeel op daardie Dag sal regverdig geskied; hulle wie se goeie dade swaar sal weeg, sal die suksesvolles wees
9En hulle wie se goeie dade maar lig sal weeg, het hulle siele benadeel omdat hulle ten opsigte van ons tekens onregverdig was
10En waarlik, Ons het julle op die aarde gevestig en julle daar van lewensmiddele voorsien; hoe weinig dankbaar is julle nie
11En Ons het julle geskape en vorm gegee; toe het Ons aan die engele gesê: Prostreer voor Adam. Hulle het geprostreer, behalwe Iblies; hy was nie een van dié wat geprostreer het nie
12Hy2 het gesê: Wat het u verhinder om u te prostreer toe Ek u gebied het? Hy het geantwoord: Ek is beter as hy; U het my uit vuur geskape, terwyl U hom uit klei geskape het
13Allah het gesê: Vertrek hiervandaan! Want dit is nie vir u om hier hoogmoedig te wees nie. Gaan heen! Want u is gewis een van die veragtelikes
14Hy het gesê: Verleen aan my uitstel tot aan die Dag waarop hulle opgewek sal word
15Allah het gesê: Aan u is uitstel verleen
16Hy het geantwoord: Omdat U my as dwalende veroordeel het, sal ek in U regte weg vir hulle op loer lê
17dan sal ek hulle sekerlik van voor, van agter, van die regter- en van die linkerkant byloop; en U sal die meeste van hulle nie dankbaar vind nie
18Allah het gesê: Gaan weg hiervandaan, verag en verworpe! Wie van hulle u ook al volg, Ek sal die Hel met julle almal vul
19O Adam! Woon u en u vrou in die Tuin, en eet waarvan u wil, maar nader hierdie boom nie, anders sal u tot die onregverdiges behoort
20Maar die duiwel het hulle slegte ingewinge ingeblaas, naamlik, dat hy aan hulle sou openbaar wat hul verborge swakhede is, en hy het gesê: U Heer het u hierdie boom verbied uit vrees dat u engele sal word of dat u onsterflik sal word
21En hy het aan hulle altwee gesweer: Ek is vir julle waarlik ’n opregte raadgewer
22So het hy dan hulle ondergang deur bedrog veroorsaak. En toe hulle van die vrugte van die boom geëet het, het hulle skaamte vir hulle duidelik geword, en toe begin albei hulself te bedek met die blare van die Tuin. En hulle Heer het na hulle geroep en gesê: Het Ek julle daardie boom nie verbied nie, en het Ek julle nie gesê dat die duiwel sekerlik julle openlike vyand is nie
23Hulle het geantwoord: Ons Heer! Ons het onsself onreg aan- gedoen en as U ons nie vergewe, en ons nie genade betoon nie, sal ons sekerlik verloorders wees
24Hy het gesê: Gaan heen ~ sommige van julle sal die vyande van ander wees. En daar is vir julle op die aarde ’n woonplek en voorsiening vir ’n bepaalde tyd
25Hy het gesê: Daarop sal julle lewe en daarop sal julle sterwe, en daarvandaan sal julle weer opgewek word
26O Kinders van Adam! Ons het vir julle klere gestuur om julle skaamte te bedek, en kleding vir verfraaiing, en kleding wat teen kwaad beskerm ~ dit is die beste. Dit is ’n boodskap van Allah waaruit julle kan leer
27O Kinders van Adam! Laat die duiwel julle nie verlei soos toe hy julle ouers uit die Tuin verdryf het en hulle klere van hulle afgetrek en hulle daardeur hul skaamte getoon het nie. Waarlik, hy sien julle, hy en sy gevolg, van waar julle hom nie kan sien nie. Ons het waarlik die duiwels vriende gemaak van die ongelo- wiges
28En wanneer hulle ’n slegte daad begaan en sê: Ons het gevind dat ons vaders dit gedoen het en dat Allah ons dit ook beveel. Sê: Waarlik, Allah gebied nie slegte dade nie. Sê julle iets van Allah waartoe julle nie die reg het nie
29Sê: My Heer beveel regverdigheid. En rig julle gesigte behoorlik op tydens elke aanbidding, en roep Hom aan in opregtheid en gehoorsaamheid. Soos Hy julle laat ontstaan het, so sal julle terugkeer
30Sommige het Hy reg gelei, maar wat die ander betref ~ die verdoemenis is hul verdiende loon. Waarlik, hulle het die duiwels in plaas van Allah as vriend geneem, en hulle dink dat hulle reg gelei is
31O Kinders van Adam! Wees oplettend op julle versiering tydens elke aanbidding, en eet en drink, maar verkwis nie; waarlik, Allah het die verkwisters nie lief nie
32Sê: Wie het die klere van Allah, wat Hy vir Sy dienaars gemaak het, en die goeie voorsiening, verbied? Sê: Dit is vir die gelowiges in die lewe van hierdie wêreld , en alleen vir hulle op die Weeropstandingsdag. Aldus maak Ons die tekens duidelik vir ’n volk wat begryp
33Sê: My Heer verbied slegs onfatsoenlikheid ~ hetsy openlik of in die geheim ~ en sonde en onregverdige verdrukking, en dat julle dít met Allah vereenselwig waartoe Hy julle geen reg verleen het nie, en dat julle van Allah sê wat julle nie kan bewys nie
34En vir elke nasie is daar ’n termyn: daarom, wanneer die tyd aanbreek, sal selfs nie eens ’n uur uitstel aan hulle verleen word nie, en ook kan dit nie verkort word nie
35O Kinders van Adam! As boodskappers vanuit jul midde My tekens aan julle verduidelik, dan moet julle teen die kwaad waak en goeie dade verrig, want dan sal geen vrees oor julle kom nie, en sal julle ook nie treur nie
36Maar hulle wat Ons tekens verloën en hoogmoedig wegdraai ~ hulle sal die bewoners van die Vuur wees; daarin sal hulle bly
37Wie is dan onregverdiger as hy wat ’n leuen teen Allah versin of Sy tekens verloën? Dit is hulle wat ’n lot sal ondergaan soos dit in die Boek verorden is; dan, wanneer Ons boodskappers by hulle aankom om hulle te laat sterwe, sal hulle sê: Waar is die dinge wat julle buiten Allah aangeroep het? Hulle sal antwoord: Hulle het ons verlaat. En hulle sal teen hulself getuig dat hulle ongelowiges was
38Hy sal sê: Gaan die Vuur binne, en bly saam met die volkere van die djien en mense wat vóór julle heengegaan het. Steeds wanneer ’n volk binnegaan, sal hy sy sustervolk vervloek; totdat, wanneer hulle die een na die ander daarin aankom, die laastes van hulle met betrekking tot die eerstes sal sê: Ons Heer! Húlle het ons laat afdwaal; gee hulle daarom dubbele straf. Hy sal sê: Daar is vir elkeen ’n dubbele straf; julle weet dit net nie
39En die eerstes sal aan die laastes sê: Julle het geen voorkeur bo ons nie; ondergaan daarom die straf vir wat julle verdien het
40Vir hulle wat Ons tekens verloën en hulself hoogmoedig daarvan wegkeer, sal die deure van die Hemel nie oopgemaak word nie, ook sal hulle nie die Tuin binnegaan nie voordat die kameel deur die oog van ’n naald kan gaan. So vergeld Ons die misdadigers
41’n Bed van Hel sal hulle kry en bo-oor hulle ’n bedekking daarvan. Want so vergeld Ons die onregverdiges
42En aangaande hulle wat glo en goed doen ~ Ons belas geen siel bo sy vermoë nie ~ hulle is die bewoners van die Tuin; daarin sal hulle bly
43Welke wrok daar ook al in hulle harte mag wees, Ons sal dit verwyder ~ riviere vloei verby hulle. En hulle sê: Alle lof kom Allah toe, Hy wat ons hierheen gelei het! En ons sou nie die weg gevind het nie, was dit nie dat Allah ons tereggewys het nie. Die boodskappers van Ons Heer het inderdaad die waarheid gebring. En dáár sal hulle toegeroep word: Dít is die Tuin wat as erfenis aan julle bemaak is vir alles wat julle gedoen het
44En die bewoners van die Tuin sal na die bewoners van die Vuur roep: Ons het bevind dat dít wat ons Heer ons belowe het, die waarheid is; het julle ook bevind dat wat julle Heer júlle belowe het die waarheid is? Hulle sal sê: Ja. Dan sal ’n woordvoerder onder hulle uitroep: Die vloek van Allah rus op die kwaad- doeners
45wat ander van die weg van Allah weerhou en wens om dit ongelyk te maak, en wat nie aan die Hiernamaals glo nie
46En tussen hulle is ’n sluier. En op die Verhewe Plekke is manne, wat almal aan hulle merktekens herken. En tot die bewoners van die Tuin roep hulle uit: Vrede op julle! Hulle het dit nog nie binnegegaan nie, hoewel hulle daarop hoop
47En wanneer hulle oë na die bewoners van die Vuur gerig is, sê hulle: Ons Heer! Plaas ons nie saam met die onregverdiges nie
48En die bewoners van die Verhewe Plekke sal uitroep tot die mense, wat hulle aan hul merktekens herken, en sê: Julle versamelinge van skatte en julle verwaandheid was vir julle geen- sins tot voordeel nie
49Is dít diegene van wie julle gesweer het dat Allah nie genade aan hulle sou skenk nie? Gaan die Paradys binne; daar sal geen vrees oor julle kom nie, nóg sal julle treur
50En die bewoners van die Vuur sal tot die bewoners van die Tuin uitroep: Giet water oor ons uit, of iets waarmee Allah julle voorsien het. Hulle sal antwoord: Waarlik, Allah het dit vir die ongelowiges verbied
51Wie hulle godsdiens as ydele pret en as ’n speletjie opgeneem het, en wie deur die lewe van die wêreld bedrieg is, sal Vandag deur Ons vergeet word, soos hulle die ontmoeting van hierdie Dag van hulle verontagsaam het, en soos hulle Ons tekens ontken het
52En sekerlik het Ons hulle ’n Boek gebring wat Ons met kennis verduidelik het, ’n leiding en ’n genade vir ’n volk wat glo
53Wag hulle op iets anders as die finale gevolge daarvan? Op die Dag wanneer die finale gevolge daarvan kom, wat hulle vantevore verontagsaam het, sal hulle sê: Inderdaad het die boodskappers van Ons Heer die waarheid gebring. Is daar enige bemiddelaars wat ten gunste van ons sal pleit? Kon ons maar teruggestuur word, sodat ons beter dade kon doen as dié wat ons gedoen het! Waarlik, hulle het hul siele verloor, en dít wat hulle versin het, het hulle in die steek gelaat
54Waarlik, julle Heer is Allah, wat die hemele en die aarde in ses tydperke geskape het, en Hy is op die Troon van Mag gevestig. Hy laat die nag die dag omhul in ’n strenge opeenvolging van dag en nag. Die son en die maan en die sterre word deur Sy gebod in diens gestel. Voorwaar, die skepping en die gebod is Syne. Geseënd is Allah, die Heer van die Wêrelde
55Roep julle Heer ootmoedig en in die geheim aan. Hy het die oortreders waarlik nie lief nie
56En skep geen wanorde op die aarde nadat dit georden is nie, en roep Hom aan met vrees en hoop. Gewis, die barmhartigheid van Allah is vir die weldoeners naby
57En dit is Hy wat die winde as draers van blye tyding vóór Sy barmhartigheid uitstuur; totdat Ons hulle, wanneer hulle ’n groot wolk dra, na ’n dorre land aandrywe; daarna stuur Ons die water daarop af, en bring daardeur alle soorte vrugte voort. So wek Ons die dooie op, sodat julle daaruit kan leer
58En die goeie land ~ die plantegroei kom daar in oorvloed voort deur die gebod van die Here. En die swak land ~ dit lewer alleen skaarste op. So herhaal Ons die tekens vir ’n volk wat dankbaar is
59Waarlik, Ons het Noag na sy volk gestuur, en hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen God nie buiten Hom. Ek vrees vir julle die straf van ’n groot Dag
60Die leiers van sy volk het geantwoord: Ons merk dat u grootliks dwaal
61Hy het gesê: O my volk! Daar is geen dwaling in my nie, maar ek is ’n boodskapper van die Heer van die Wêrelde
62Ek dra die boodskappe van my Heer oor en gee julle goeie raad, en ek weet deur Allah wat julle nie weet nie
63Verwonder julle jul dat ’n vermaning van julle Heer tot julle kom deur ’n man uit jul midde, en dat hy julle durf waarsku sodat julle teen die sonde kan waak en daar barmhartigheid aan julle bewys kan word
64Maar hulle het hom verloën; Ons het hom en wie saam met hom in die ark was, gered, en Ons het diegene wat Ons tekens verwerp het, laat verdrink. Hulle was inderdaad ’n blinde volk
65En na die volk van Aad het Ons hul broer Hüd gestuur. Hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen ander God buiten Hom nie. Sal julle dan nie teen die sonde waak nie
66Die ongelowige leiers van sy volk het gesê: Ons sien u aan as ’n dwaas en ons dink dat u ’n leuenaar is
67Hy het geantwoord: O my volk! Daar is geen dwaasheid in my nie, maar ek is ’n boodskapper van die Heer van die Wêrelde
68Ek dra aan julle die boodskappe van die Here oor, en ek is vir julle ’n eerlike raadgewer
69Verwonder julle jul dat ’n vermaning van julle Heer na julle gekom het deur ’n man uit jul midde, en dat hy julle durf waarsku? Onthou hoe Hy julle ná die volk van Noag as opvol- gers aangestel het, en julle oorvloedig in mag laat toeneem het. Dink daarom aan die gunste van Allah sodat julle suksesvol kan wees
70Hulle het gesê: Het u na ons gekom sodat ons Allah alleen moet aanbid, en moet prysgee wat ons vaders aanbid het? Laat u dreigemente dan op ons neerkom, indien u opreg is
71Hy het geantwoord: Inderdaad het daar straf en toorn van julle Heer op julle neergedaal. Argumenteer julle met my omtrent name wat julle en julle vaders aangeroep het? Allah het aan hulle geen gesag verleen nie. Wag dan; ek is saam met julle onder die wagtendes
72So het Ons hom en diegene saam met hom deur Ons barmhartig- heid gered, en Ons het die lewenswortels afgesny van hulle wat Ons tekens verwerp het en ongelowig was
73En na Thamoed het Ons hul broer Salieg gestuur. Hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen ander God buiten Hom nie. Duidelike bewyse het inderdaad tot julle gekom. Dit is die kamelin van Allah, ’n teken vir julle. Laat haar daarom op Allah se aarde wei, en doen haar geen leed aan nie, anders sal ’n smartlike straf julle oorval
74En onthou julle hoe Hy ná Aad julle as opvolgers aangestel het, en julle in die land gevestig het? Julle het paleise op die vlaktes gebou, en julle het die berge uitgehol vir huise. Dink daarom aan die gunste van Allah, en verrig geen verderf op die aarde nie
75Die verwaande leiers van sy volk het aan die gelowiges, wat deur hulle as swak beskou is, gesê: Weet julle waarlik dat Salieg deur sy Heer gestuur is? Hulle het geantwoord: Ons glo waarlik in dít waarmee hy gestuur is
76Dié wat aanmatigend was, het gesê: Voorwaar, ons glo nie in dít waarin u glo nie
77Toe het hulle die kniesening van die kamelin afgesny en teen die gebod van hulle Heer gerebelleer, en gesê: O Salieg, laat u dreigemente oor ons neerkom indien u ’n boodskapper is
78Toe het die aardbewing hulle oorweldig en hulle was bewe- ginglose liggame in hul huise
79Toe het Salieg hom van hulle weggedraai en gesê: O my volk! Ek het julle die boodskap van my Heer gebring en julle goeie raad gegee, maar julle het die goeie raadgewers nie lief nie
80En Lot het Ons gestuur toe hy aan sy volk gesê het: Julle verrig gruwels soos niemand ter wêreld vóór julle nog verrig het nie
81Waarlik, julle benader mans met wellus in plaas van vroue. Julle is ’n volk wat die perke oorskry
82Die antwoord van sy volk was slegs: Verdryf hulle uit die stad, want hulle is manne wat hulself rein wil hou
83Dus het Ons hom en sy volgelinge gered, met die uitsondering van sy vrou ~ en sy was een van hulle wat moes agterbly
84En Ons het ’n reën oor hulle laat neergiet. Kyk nou wat was die einde van die skuldiges
85En Ons het hul broer Shoe-eib na Mede gestuur. Hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen God buiten Hom nie. Jul Heer het duidelike bewyse aan julle getoon. Gee daarom volle maat en gewig, en verminder van niemand s’n iets nie, en rig geen onheil in die land aan ná die ordening daarvan nie. Dit is vir julle beter om gelowiges te wees
86En lê nie op elke pad op die loer om hom wat glo te bedreig en van die weg van Allah af te hou nie, en om Sy weg ongelyk te maak nie. En onthou hoe Hy julle vermenigvuldig het toe julle min was, en kyk wat was die einde van die onheilsaaiers
87En as daar tussen julle ’n groep is wat glo in dít waarmee ek gestuur is, en ’n ander groep wat nie glo nie, wag dan geduldig totdat Allah uitspraak tussen ons sal gee; en Hy is die Beste Regter
88Die verwaande leiers van sy volk het gesê: Ons sal jou, Sjoe-eib, en hulle wat saam met jou glo, sekerlik uit ons stad verdryf tensy julle tot óns godsdiens terugkeer. Hy het gesê: Selfs al haat ons dit
89Ons sou ’n leuen teen Allah versin as ons tot u godsdiens terugkeer nadat Allah ons daarvan gered het. En dit pas ons nie om daarna terug te keer nie, behalwe as dit Allah, ons Heer, sou behaag. Ons Heer omvat alle dinge in Sy kennis. Op Allah vertrou ons. Oordeel daarom, ons Heer, met geregtigheid tussen ons en ons volk; U is die Beste Regter
90En die leiers van sy volk, wat ongelowig was, het gesê: As julle Sjoe-eib volg, sal julle waarlik verloorders wees
91Daarom het ’n aardbewing hulle oorval, en hulle liggame was verstar in hul huise
92Hulle wat Shoe-eib tot leuenaar gemaak het, was asof hulle nog nooit daarin gewoon het nie ~ hulle wat Shoe-eib ’n leuenaar genoem het, hulle was die verloorders
93Daarna het hy hom van hulle teruggedraai en gesê: O my volk! Ek het die boodskappe van my Heer aan julle oorgedra en ek het julle van goeie raad bedien; waarom sou ek dan oor ’n ongelowige volk treur
94En Ons het nog nooit ’n profeet na ’n stad gestuur sonder dat ons die inwoners daarvan met teëspoed en lyding getref het nie, sodat hulle hulself kan verootmoedig
95Daarna het Ons die kwaad met goed vervang, totdat hulle seëninge oorvloedig geword het en hul gesê het: Lyding en geluk het waarlik aan ons vaders geraak. So het Ons hulle dan oorrompel terwyl hulle dit nie besef het nie
96En indien die inwoners van die stede maar geglo en bewus van Allah was, sou Ons sekerlik die seëninge van die hemele en die aarde vir hulle oopgestel het. Maar hulle het Ons verwerp, daarom het Ons hulle oorweldig omdat hulle dit verdien het
97Is die stedelinge dan beveilig teen Ons straf as dit snags oor hulle sou kom, terwyl hulle slaap
98Of is hulle teen Ons straf beveilig as dit soggens oor hulle sou kom, terwyl hulle speel
99Is hulle dan beveilig teen Allah se voorneme? Maar niemand waan homself veilig teen Allah se voorneme nie, behalwe hulle wat vergaan
100Is dit nog nie duidelik vir hulle wat die aarde van sy vroeëre bewoners beërwe het nie, dat, as dit Ons behaag, Ons hulle om hul ongeregtigheid se onthalwe sal verdelg, en hulle harte sal verseël sodat hulle nie sal luister nie
101So was dit in die stede waarvan Ons al iets aan julle vertel het. En Ons boodskappers het waarlik met duidelike bewyse na hulle gegaan, maar hulle wou weer nie glo wat hulle voorheen verwerp het nie. So verseël Allah die harte van die ongelowiges
102En by die meeste van hulle het Ons geen getrouheid aan die verbond gevind nie; en Ons het gevind dat die meeste van hulle oortreders was
103En daarna het Ons Moses met Ons tekens na Farao en sy kapteins gestuur, maar hulle het nie daaraan geglo nie. Kyk hoe was die einde van die onheilsaaiers
104En Moses het gesê: O Farao! Ek is waarlik ’n boodskapper van die Heer van die Wêrelde
105terwyl ek daarop ag slaan om niks behalwe die waarheid omtrent Allah te sê nie. Ek het inderdaad met duidelike bewyse van jul Heer tot julle gekom; laat die Kinders van Israel daarom met my saamgaan
106Hy het gesê: As u met ’n teken gekom het, toon dit dan, as u die waarheid praat
107Toe het hy3 sy stok weggegooi, en kyk, dit was ’n slang
108En hy het sy hand te voorskyn gehaal, en kyk, dit was wit (en deurskynend) vir die aanskouers
109Die kapteins van Farao se volk het gesê: Hy is gewis ’n bedrewe towenaar
110Hy is voornemens om julle uit jul land te verdryf. Wat raai julle aan
111Hulle het gesê: Gee aan hom en sy broer uitstel, en stuur roepers die stede in
112om elke bedrewe towenaar na u te bring
113En die towenaars het na Farao gekom en gesê: Ons moet natuurlik ’n beloning ontvang, as ons die oorhand kry
114Hy4 het geantwoord: Ja, en julle sal sekerlik onder my uitverkorenes wees
115Hulle het gesê: O Moses! Sal u werp, of sal ons eerste werp
116Hy het geantwoord: Werp! En toe hulle werp, het hulle die oë van die mense bedrieg en hulle bang gemaak, en hulle het ’n knap towervertoning gelewer
117En Ons het aan Moses geopenbaar: Werp u stok neer, en kyk! dit het al hulle valsheid verorber
118So is die waarheid dan bevestig, en dít wat hulle gedoen het, het niksbeduidend geword
119So is hul dan daar verslaan en hulle moes vernederd terugkeer
120En die towenaars het op die grond neergeval
121en gesê: Ons glo in die Heer van die Wêrelde
122die Heer van Moses en Aäron
123Farao het geantwoord: Julle glo in hom voordat ek julle daartoe toestemming gegee het? Dit is waarlik ’n sameswering wat julle in die stad gesmee het, sodat julle die bewoners daaruit kan dryf; maar julle sal dit weldra te wete kom
124Ek sal gewis julle hande en julle voete aan teenoorgestelde kante laat afkap, dan sal ek julle almal saam laat kruisig
125Hulle het geantwoord: Ons sal dan waarlik na Ons Heer terugkeer
126En u neem alleen wraak op ons omdat ons in die tekens van ons Heer geglo het toe dit na ons gekom het. Ons Heer! Verleen standvastigheid aan ons, en gee dat ons in onderdanigheid aan U mag sterf
127En die kapteins van Farao se volk het gesê: Sal u Moses en sy volk toelaat om in die land wanorde te skep en u gode te versaak? Hy het geantwoord: Ons sal hulle seuns ombring en hulle vroue spaar; en waarlik, ons is sterker as hulle
128Moses het aan sy volk gesê: Smeek Allah om hulp en wees geduldig. Voorwaar, die aarde behoort aan Allah ~ Hy gee dit as erfdeel aan Sy dienaars soos dit Hom behaag. En die einde behoort aan die godvresendes
129Hulle het geantwoord: Ons is vervolg voordat u tot ons gekom het en sedert u tot ons gekom het. Hy het gesê: Miskien gaan jul Heer julle vyande verdelg, en julle as regeeerders oor die land aanstel, dan sal Hy sien hoe julle optree
130En Ons het waarlik die volk van Farao met droogte en skaarste van vrugte beproef, sodat hulle kennis kon neem
131Maar wanneer iets goeds hulle toegeval het, het hulle gesê: Dit kom ons toe. En wanneer iets slegs oor hulle gekom het, dan het hulle die teëspoed toegeskryf aan Moses en dié wat saam met hom was. Maar voorwaar, hulle teëspoed is eweneens van Allah, hoewel die meeste van hulle dit nie weet nie
132En hulle het gesê: Watter tekens u ook aan ons mag toon om ons daarmee te mislei ~ in u sal ons waarlik nie glo nie
133Toe het Ons die wydverspreide dood, en die sprinkane en die luise en die paddas en die bloed ~ as duidelike tekens ~ oor hulle neergestuur. Dog hulle het hulself hoogmoedig gedra, en hulle was ’n misdadige volk
134En toe die plaag hulle oorval het, het hulle gesê: O Moses! Pleit vir ons by u Heer, want Hy het ’n verbond met u gesluit. As u
135Maar toe Ons die plaag, waaronder hulle vir ’n bepaalde tyd moes ly, van hulle verwyder het, kyk! toe het hulle hul belofte verbreek
136Daarom het Ons dan vergelding geëis en hulle in die see verdrink, omdat hulle Ons tekens verwerp en verontagsaam het
137En Ons het hulle wat as swakkelinge beskou is, die oostelike deel van die land laat erwe én die westelike deel, wat Ons geseën het. En die blye tyding van u Heer is vir die Kinders van Israel vervul, omdat hulle geduldig was. En alles wat Farao en sy volk gemaak het en wat hulle gebou het, het Ons vernietig
138En Ons het die Kinders van Israel oor die see geneem. Toe kom hulle by ’n volk wat aan afgode geheg was. Hulle het gesê: O Moses! Maak vir ons ’n god soos die gode wat húlle het. Hy het geantwoord: Julle is waarlik ’n onkundige volk
139Aangaande hierdie dinge: dít waarmee hulle hul besig hou, sal vernietig word; en alles wat hulle hande doen, is tevergeefs
140Hy het gesê: Sal ek vir julle ’n ander god as Allah soek, terwyl Hy julle bo al die skeppings laat uitblink het
141En onthou hoe Ons julle verlos het van die volk van Farao, wat julle aan ’n strawwe marteling onderwerp het deur julle seuns om te bring en julle vroue te spaar. En daarin was ’n swaar beproewing van julle Heer
142En Ons het vir Moses dertig nagte aangewys en nog tien bygesit, en die aangewese tyd van sy Heer was veertig nagte; en Moses het aan sy broer Aäron gesê: Wees my plaasvervanger onder die volk in my afwesigheid, en tree goed op, en volg nie die weë van die onrusstokers nie
143En toe Moses op Ons vasgestelde tyd aangekom en sy Heer tot hom gespreek het, het hy gesê: My Heer! Toon U aan my, sodat ek U kan aanskou. Hy het geantwoord: U kan My nie aanskou nie, maar kyk na die berg; en as dit op sy plek bly, dan sal u My kan sien. Toe sy Heer dus Sy glorie aan die berg geopenbaar het, het Hy dit aan stukke laat breek en Moses het bewusteloos neergeval. Toe hy daarna weer tot sy bewussyn kom, het hy gesê: Heilig is U! Tot U wend ek my, en ek is die eerste gelowige
144Hy het gesê: O Moses! Ek het u deur My boodskappe en My woorde bo die mense uitverkies. Hou u daarom vas aan wat Ek u gegee het, en wees dankbaar
145En Ons het vir hom op tablette allerhande waarskuwings en ’n duidelike uitleg van alle dinge gegee. Hou dus daaraan vas, en beveel ook u volk om daaraan vas te hou. Ek sal julle weldra die tuiste van die oortreders toon
146En Ek sal hulle wat op aarde ten onregte hoogmoedig wandel, van My tekens laat wegdraai. En hoewel hulle allerlei tekens sien, sal hulle nie daarin glo nie, en as hulle die weg van regverdigheid sien, sal hulle nie daarop wandel nie; maar as hulle die pad van dwaling sien, sal hulle daarop loop. Dit is omdat hulle Ons tekens verloën en verontagsaam het
147En hulle wat Ons tekens verwerp en die ontmoeting van die Hiernamaals verloën ~ hulle werke sal verlore gaan. Sal hulle dan vir iets anders beloon word as wat hulle gedoen het
148En die volk van Moses het in sy afwesigheid ’n kalf uit hulle ornamente vervaardig ~ ’n lewelose liggaam, wat ’n loeiende geluid voortbring. Kon hulle dan nie sien dat dit nie met hulle praat nie, en vir hulle ook nie leiding gee nie? Hulle het dit as hulle god aangeneem en só oortree
149En toe hulle wroeging gevoel en ingesien het dat hulle inderdaad gedwaal het, het hulle gesê: As ons Heer ons geen barmhartigheid betoon en Hy ons nie vergewe nie, sal ons sekerlik van die verloorders wees
150En toe Moses na sy volk terugkeer, was hy verontwaardig en bedroef. Hy het gesê: Wat julle agter my rug gedoen het, was sondig. Wil julle die oordeel van julle Heer verhaas? En hy het die tablette neergegooi, sy broer aan die hoof gegryp en na hom toe getrek. Aäron het gesê: Seun van my moeder! Die volk het my vir ’n swakkeling aangesien en my amper doodgemaak. Laat my vyande tog nie oor my verheug wees nie, en reken my nie onder die oortreders nie
151Hy5 het gesê: My Heer, vergewe my en my broer, en laat ons tot U barmhartigheid toe, want U is die Allergenadigste van hulle wat genadebetoon
152En hulle wat die kalf vir ’n god geneem het ~ die toorn van hul Heer en die vernedering in hierdie lewe sal hulle sekerlik oorval. En so beloon Ons die skeppers van leuens
153En hulle wat sondig, maar daarna berou betoon, en glo ~ dan is u Heer waarlik Vergewensgesind, Genadevol
154En toe die toorn van Moses daarna bedaar het, het hy die tablette opgetel. En daar was leiding en genade vir húlle wat hul Heer vrees
155En Moses het sewentig manne uit sy volk gekies vir die afspraak wat Ons bepaal het. Toe die aardbewing hul oorval, het hy gesê: My Heer! As dit U behaag het, kon U vir hulle en vir my reeds voorheen vernietig het. Sal U ons dan verdelg vir wat die onkundiges onder ons gedoen het? Dit is niks anders as ’n beproewing van U nie. U laat daardeur afdwaal wie U wil, en U lei daarmee wie U wil. U is ons Beskermheer; vergewe ons daarom en bewys barmhartigheid aan ons; U is tog die Groot Vergewer
156En skenk aan ons die goeie in hierdie wêreld en ook in die Hiernamaals, want waarlik, ons het ons tot U gewend. Hy het geantwoord: My straf sal Ek oplê op wie Ek wil, maar My barmhartigheid omvat alle dinge. So skenk Ek dit aan die opregtes en die wie Zakaat6 betaal, en wat in Ons tekens glo
157Hulle wat die Boodskapper, die ongeletterde Profeet,7 volg, van wie hulle ’n beskrywing in die Tora en die Evangelie sal vind; hy gebied hulle om goed te doen en belet hulle die kwade, en hy veroorloof hulle die goeie dinge en verbied hulle die slegte, en onthef hulle van hul las en die boeie wat hulle gebind het. Hulle wat daarom in hom glo, hom eer en hom ondersteun, en die lig volg wat saam met hom gestuur is ~ hulle sal waarlik suksesvol wees
158Sê: O mensdom! Ek is die Boodskapper van Allah tot julle almal, van Hom aan Wie die koninkryk van die hemele en die aarde behoort. Daar is geen God nie behalwe Hy. Hy skenk die lewe en ook die dood. Glo daarom in Allah en Sy Boodskapper, die ongeletterde Profeet wat in Allah en Sy woorde glo, en volg hom sodat u reg gelei kan word
159En daar is ’n deel van die volk van Moses wat deur die waarheid gerig word en daardeur regverdig handel
160En Ons het hulle as afsonderlike nasies, in twaalf stamme, verdeel. En toe sy volk hom om water gevra het, het Ons aan Moses gesê: Slaan die rots met u staf, en twaalf fonteine het daardeur ontspring. Elke stam het sy drinkplek geken. En Ons het die wolke vir skaduwee bo hulle laat saampak, en ook vir hulle manna en kwartels gestuur ~ Eet van die goeie dinge waarmee Ons julle voorsien het ~ En hulle het Ons geen skade berokken nie, maar hulleself kwaad aangedoen
161En toe dit aan hulle gesê is: Woon in hierdie stad en eet daarvan net waar julle wil, en vra om vergifnis, en gaan die poorte ootmoedig binne; Ons sal al julle tekortkominge vergewe. Ons sal nog meer gee aan hulle wat goeie dade doen
162Maar die onregverdiges tussen hulle het hierdie woord vervang met ’n ander wat nooit gesê is nie, daarom het Ons ’n pessiekte uit die hemel op hulle afgestuur, om hulle ongeregtigheid se onthalwe
163En vra hulle omtrent die stad wat aan die see lê. Hoe hulle die Sabbat onteer het met die vis wat aan die oppervlakte van die water verskyn het, en hoe, op die dag toe hulle die Sabbat onteer het, dit nie verskyn het nie. So het Ons hulle dan versoek omdat hulle oortreders was
164En toe ’n groepie van hulle gesê het: Waarom preek julle vir ’n volk wat deur Allah vernietig gaan word, of wat Hy met ’n sware tugtiging gaan tref? het ’n ander groep geantwoord: Om onskuldig voor julle Heer te wees, en sodat hulle teen die sonde mag waak
165En toe hulle die vermaning vergeet het, het Ons húlle gered wat die kwade belet het; en die onregverdiges het Ons met ’n streng kastyding aangegryp, om hulle sondigheid se onthalwe
166En toe hulle in opstandigheid volhard het met die verbode dinge, het Ons aan hulle gesê: Wees ape, veragd en verworpe
167En toe het u Heer laat blyk dat Hy mense na hulle sal stuur wat hulle tot op die Weeropstandingsdag met martelinge sal kwel. Voorwaar, u Heer is gou met die vergelding, en Hy is waarlik ook Vergewensgesind, Genadevol
168En Ons het hulle op die aarde in groepe verdeel. Sommige van hulle is regverdig, en ander nie. En Ons het hulle met voorspoed én teenspoed beproef sodat hulle hul kan bekeer
169En ná hulle het daar ’n bose geslag gekom wat die Boek geërwe het, en die verganklike dinge van hierdie lae lewe aangehang het. En hulle sê: Dít sal ons vergewe word. Maar as daar nog méér soortgelyke dinge na hulle gekom het, sou hul dit ook aanvaar het. Was daar van hulle nie ’n gelofte in die Boek om niks anders as die waarheid van Allah te praat nie? En hulle bestudeer wat daarin is. En die tuiste in die Hiernamaals is vir die godvresendes veel beter. Verstaan julle dan nie
170En aangaande húlle wat aan die Boek vashou en in die gebed volhard ~ Ons sal die beloning van die opregtes gewis nie laat verlore gaan nie
171En toe Ons die berg bokant hulle laat skud het asof dit maar ’n kleed was, het hulle gevrees dit sal op hulle val: Hou styf vas aan wat Ons julle gegee het en oordink wat daarin staan, sodat julle teen die sonde kan waak
172En toe u Heer uit die lende van die Kinders van Adam ’n nageslag voortgebring het, en hulle teen hulself laat getuig het: Is ek nie julle Heer nie? Hulle het geantwoord: Ja, ons getuig; sodat julle nie op die Weeeropstandingsdag sal kan sê: Ons was nie bewus hiervan nie
173of dat julle sal sê: Dit was ons vaders wat voorheen deelgenote met Allah vereenselwig het; ons is maar afstammelinge van hulle. Wil U óns verdelg oor wat die leuenaaars gedoen het
174So verduidelik Ons die tekens sodat hulle hul kan bekeer
175En vertel aan hulle van hom aan wie Ons Ons tekens gegee het, maar wat sy rug daarop gedraai het ~ dat die duiwels hom agterhaal en hy een van dié was wat vergaan het
176En as Ons wou, kon Ons hom daardeur verhef het, maar hy het aan die aaardse vasgehou en sy bose neigings gevolg. Hy is soos ’n hond ~ as u hom wegja, laat hy sy tong uithang, en as u hom laat rus, steek hy ook sy tong uit. So is die mense wat Ons tekens verloën. Vertel daarom hierdie verhaal sodat hulle dit kan oordink
177Boos is die volk wat Ons tekens verloën en hulle eie siele skade aandoen
178Hy wat deur Allah gelei word, is op die regte pad; en dié wat Hy laat dwaal ~ hulle delf die onderspit
179Voorwaar, die Hel het Ons vir baie mense, en vir die djien, gemaak ~ hulle het harte waarmee hulle nie verstaan nie, oë waarmee hulle nie sien nie, en ore warmee hulle nie hoor nie. Hulle is soos vee; nee, hulle het nog verder afgedwaal. Hulle is die agtelosiges
180Die naam van Allah is Allerverhewe; roep Hom daarby aan, en laat hulle met rus wat die heiligheid van Sy name skend. Hulle sal vir hulle dade vergeld word
181En tussen Ons skeppings is daar ’n gemeente wat deur die waarheid gelei word, en daardeur geregtigheid laat geskied
182En hulle wat Ons tekens verloën ~ Ons sal hulle stap vir stap in die verderf inlei, sonder dat hulle dit besef
183Ek verleen uitstel aan hulle. My planne is waarlik onfeilbaar
184Besef hulle dan nie dat hulle metgesel geen kranksinnige is nie? Hy is slegs ’n duidelike waarskuwer
185Besef hulle dan nie dat Allah die koninkryk van die hemele en die aarde en alle ander dinge geskape het nie, en dat hulle verdoemenis nader kom nie? In watter aankondiging sal hulle dan hierna glo
186Vir wie Allah laat dwaal, kan daar geen gids wees nie. Hy laat hulle in hul koppigheid blindelings swerwe
187Hulle sal u uitvra na die Uur waarop dit sal gebeur. Sê: Slegs my Heer dra kennis daarvan. En alleen Hy sal dit openbaarmaak. Vir die hemele en die aarde is dit belangrik. En dit sal onverwags kom. Hulle vra u net asof dit u kommer besorg. Sê: Kennis daarvan het slegs Allah; maar die meeste mense weet dit nie
188Sê: Ek beheer geen goed of kwaad vir eie voordeel nie, behalwe dít wat Allah behaag. En as ek die Onsigbare geweet het, sou ek ’n oorvloed van die goeie gehad het, en geen kwaad sou my aangeraak het nie. Ek is maar net ’n waarskuwer en ’n draer van blye tydinge vir ’n volk wat glo
189Dit is Hy wat julle van een siel geskape het, en daaruit ook vir die man ’n gesellin gemaak het, sodat hy troos in haaar mag vind. En nadat hy haar bedek het, dra sy ’n ligte las en gaan daarmee rond. En wanneer dit swaar word, roep hulle albei Allah, hulle Heer, aan: As U ons ’n goeie kind gee, sal ons waarlik tussen die dankbares wees
190Maar as Hy hulle ’n goeie kind gee, skrywe hulle deelgenote aan Hom toe, aangaande dít wat Hy aan hulle albei gegee het. Verhewe is Allah bo wat hulle met Hom vereenselwig
191Vereenselwig hulle dít wat niks kan skep nie dan met Hom, terwyl hulle self geskape is
192Dít wat aan ander geen hulp kan verleen nie, en ook nie hulself kan help nie
193En as julle hulle tot navolging oproep, sal hulle nie gehoor gee nie. Dit is vir julle om ‘t ewe, of julle hulle nooi of nie
194Voorwaar, hulle wat julle buiten Allah aanroep, is slawe net soos julle. Roep hulle dan aan en laat hulle julle beantwoord, as julle die waarheid spreek
195Het hulle voete waarmee hulle loop, of het hulle hande waarmee hulle vashou, of het hulle oë waarmee hulle sien, of het hulle ore warmee hulle hoor Sê: Roep julle afgode aan en smee saam planne teen my en verleen my geen uitstel nie
196Waarlik, my Vriend is Allah, Wie die Boek geopenbaar het, en Hy begunstig die regverdiges
197En wat julle buiten Hom aanroep, is nie in staat om julle te help nie; hulle kan hulself nie help nie
198En as julle hulle nooi om te volg, luister nie na hulle nie; en u merk hoe hulle na u staar, maar hulle sien nie
199Vra om vergifnis, doen goeie dade, en draai weg van die onkundiges af
200En as ’n valse beskuldiging van die duiwel u sou kwel, neem dan u toevlug tot Allah; waarlik Hy is Allerhorend, Alleswetend
201Hulle wat teen die kwaad waak wanneer die duiwel hulle versoek, hulle word oplettend, en kyk! hulle sien
202En hulle bose broers neem in dwaling toe, en hou nie daar op nie
203En wanneer u hulle geen teken bring nie, sê hulle: Waarom eis u dit nie? Sê: Ek volg alleen wat my Heer aan my geopenbaar het. Dit is duidelike bewyse van julle Heer, en leiding en genade vir ’n volk wat glo
204En wanneer die Qur’ãn voorgedra word, luister daarna en wees stil, sodat barmhartigheid aan julle mag geskied
205En dink aan u Heer in die oggend en in die aand met nederigheid en vrees en sonder luidrugtigheid, en wees nie agtelosig nie
206Waarlik, húlle wat naby u Heer is, is nie vol hoogmoed in Sy diens nie, en hulle verheerlik Hom en prostreer voor Hom
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath