Islam
terug

52. By-Tur

1By die Berg

2En by die geskrewe Boek

3op afgerolde perkamente

4En die veelbesoekte Huis

5en die verhewe gewelf

6en die boordvolle see

7Die straf van u Heer sal sekerlik voltrek word

8daar is niemand om dit af te weer nie

9op die Dag wanneer die hemel in beroering sal kom

10en die berge al vlugtende sal verdwyn

11wee dan op dié Dag die leuenaars

12wat hulle in ydele gesprekke vermaak

13die Dag waarop hulle na die Helvuur met geweld aangedryf sal word

14daar sal gesê word: Dít is die Vuur wat julle verloën het

15Is dít dan towerkuns, of sien julle nie

16Brand daarin, en toon geduld of ongeduld; dit sal dieselfde wees vir julle. Julle word slegs gestraf vir wat julle gedoen het

17Die godvresendes sal sekerlik in Tuine en geluksaligheid wees

18verheug oor dít wat hulle Heer aan hulle geskenk het; en hulle Heer het hulle van die Brandende Vuur gered

19Eet en drink met genoeë ~ as verdienste vir julle dade

20en vly jul neer op trone wat in rye gerangskik is. En Ons sal hulle met reine metgeselle laat trou

21En die gelowiges en wie se nageslag hulle in die geloof volg ~ Ons sal hulle met hulle nageslag verenig, en Ons sal niks aan hulle werke afdoen nie. Elke man is ’n gelofte vir wat hy verdien

22En Ons sal hulle voorsien van vrugte en vleis volgens hulle verlange

23Daarin sal hulle ’n beker van hand tot hand aangee, waarin nóg ydelheid nóg sonde sal wees

24En rondom hulle sal seuns van hulle loop asof hulle verborge pêrels was

25En hulle sal na mekaar toe aankom en uitvra

26hulle sal sê: Voorwaar, ons het voorheen gevrees ter wille van ons families

27en Allah was ons genadig, en Hy het ons van die straf van die Warm Wind gered

28Waarlik, Ons het Hom voorheen aangeroep; gewis, Hy is die Goedgunstige, die Genadige

29Vermaan dan, want deur die guns van u Heer is u nóg ’n waarsêer, nóg ’n kranksinnige

30Of hulle sê: ’n Digter! ons verwag vir hom die slegste ongelukke van die tyd

31Sê: Wag! Ek wag net soos julle

32Of bied hulle verstand hul dit aan? Of is hulle ’n opstandige volk

33Of sê hulle: Hy het dit versin. Nee, hulle het geen geloof nie

34Laat hulle dan soortgelyke spreuke voortbring, indien hulle opreg is

35Of is hulle deur níks geskape? Of is húlle die skeppers

36Of het húlle die hemele en die aarde geskape? Nee, hulle is van niks seker nie

37Of het hulle die skatte van u Heer by hulle? Of het hulle volkome gesag

38Of het hulle ’n leer wat na die hemel reik, met behulp waarvan hulle kan inluister? Laat hulle luisteraar dan ’n duidelike gesag voortbring

39Of het Hy dogters en julle seuns

40Of vorder u ’n loon van hulle, sodat hulle onder skuld gebuk gaan

41Of besit hulle die onsigbare, sodat hulle dit kan neerskryf

42Of wil hulle ’n plan beraam? Maar die ongelowiges sal deur hulle eie plan verstrik word

43Of het hulle ’n god buiten Allah? Allah is verhewe bo wat hulle met Hom vereenselwig

44En as hulle ’n stuk van die hemel sien val, sal hulle sê: Opgehoopte wolke

45Laat staan hulle dan totdat hulle hul Dag ontmoet waarop hulle gestraf sal word

46die Dag wanneer hulle samesweringe hulle nie sal baat nie, en hulle ook nie gehelp sal word nie

47En voorwaar, vir die kwaaddoeners is daar straf bo straf; maar die meeste van hulle weet dit nie

48En wag geduldig op die oordeel van u Heer, want sekerlik sien Ons u; en verheerlik die lof van u Heer wanneer u ontwaak

49en ook gedurende die aand, en as die sterre verdwyn

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath