48. Al-Fath
1Voorwaar, Ons het aan u ’n duidelike oorwinning verleen
2sodat Allah u beweerde tekortkominge van die verlede en van die toekoms kan bedek, en dat Hy Sy guns aan u kan volbring en u op die regte pad kan lei
3en dat Allah u met ’n magtige hulp mag ondersteun
4Dit is Hy wat gemoedsrus in die harte van die gelowiges geplaas het, sodat Hy geloof by hulle geloof kan toevoeg. En aan Allah behoort die skare van die hemele en die aarde, en Allah is Alleswetend, Allerwys
5sodat Hy die gelowige mans en die gelowige vroue in Tuine waardeur riviere vloei, kan toelaat ~ om daarin te bly ~ en hulle van hul gebreke kan suiwer; en in die oë van Allah is dit iets groots
6En dat Hy die huigelagtige mans en die huigelagtige vroue, en die heidene en die heidinne ~ wat bose gedagtes teen Allah verkondig ~ kan straf. Teëspoed sal oor hulle kom; en Allah is toornig op hulle en het hulle vervloek en die Hel vir hulle voorberei; en dit is ’n bose bestemming
7Aan Allah behoort die skare van die hemele en die aarde; en Allah is die Allermagtige, die Allerwyse
8Ons het u waarlik gestuur as ’n getuie en as ’n draer van goeie nuus en as ’n waarskuwer
9sodat julle in Allah en Sy Boodskapper kan glo, en hom steun en hom vereer. En dat julle Hom soggens en saans kan verheerlik
10Voorwaar, hulle wat die eed van getrouheid teenoor u aflê, lê die eed van getrouheid teenoor Allah af. Die hand van Allah is bó hulle hande. Wie dan die eed verbreek, breek dit slegs ten koste van sy eie siel. En wie sy gelofte aan Allah nakom, aan hom sal Hy ’n groot beloning skenk
11En daardie bewoners van die woestyn wat agterlangs gebly het, sal aan u sê: Ons besittings en ons gesinne het ons besig gehou; vra daarom vergifnis vir ons. Hulle sê met hulle tonge dinge wat nie in hulle harte is nie. Sê: Wie kan dan vir julle enigiets van Allah verkry indien Hy voornemens is om julle te benadeel, of indien Hy voornemens is om aan julle goed te doen? Nee, Allah is altyd Bewus van wat julle doen
12Nee, julle het gedink dat die Bolodskapper en die gelowiges nooit na hulle gesinne sal terugkeer nie, en dit was vir julle harte aanloklik gemaak en julle het ’n slegte gedagte gekoester, en julle is ’n volk wat sal vergaan
13En wie nie in Allah en Sy Boodskapper glo nie ~ voorwaar, Ons het ’n Brandende Vuur vir die ongelowiges voorberei
14En aan Allah behoort die koninkryk van die hemele en die aarde. Hy vergewe wie Hy wil en straf wie Hy wil. En Allah is altyd Vergewensgesind, Genadig
15Hulle wat agter gebly het, sal sê ~ wanneer julle op ’n veldtog uitgaan om winste te behaal: Laat ons toe om julle te volg. Hulle wil die woord van Allah verander. Sê: Julle sal ons nie volg nie. Allah het voorheen reeds so gesê. Maar hulle sal sê: Nee, julle is jaloers op ons. Nee, hulle begryp maar min
16Sê tot die bewoners van die woestyn wat getalm het: Julle sal gou- gou teen ’n volk van gedugte krygers opgeroep word om teen hulle te veg totdat hulle hul oorgee. Dan, as julle gehoorsaam is, sal Allah julle ’n goeie beloning gee; maar as julle ons die rug toekeer soos julle voorheen gedoen het, sal Hy julle met ’n pynlike kastyding straf
17Daar rus geen skuld op die blinde nie, nóg rus daar skuld op die parapleeg of op die sieke. En wie Allah en Sy Boodskapper nie gehoorsaam nie, hom sal Hy met ’n pynlike kastyding straf
18Allah was inderdaad tevrede met die gelowiges toe hulle die eed van getrouheid onder die boom afgelê het, en Hy het geweet wat in hulle harte was, daarom het Hy hulle gemoedsrus gegee en hulle met ’n spoedige oorwinning beloon
19en met baie winste wat hulle sal behaal. En Allah is Allermagtig, Allerwys
20Allah het baie wins aan julle belowe, wat julle sal verkry; en Hy het voorlopig vir julle hierdie een gegee en die hande van die mense van julle weerhou, sodat dit ’n teken vir die gelowiges kan wees en dat Hy julle op die regte pad kan lei
21en ander oorwinnings wat julle nog nie kan behaal nie, word sekerlik deur Allah beheer; en Allah het mag oor alle dinge
22En as die ongelowiges met julle veg, sal hulle julle sekerlik die rug toekeer, dan sal hulle nóg beskermer nóg helper vind
23Want so is die handelwyse van Allah, soos dit voorheen ook was; en u sal geen verandering in die handelwyse van Allah vind nie
24En dit is Hy wat hulle hande van julle, en julle hande van hulle, in die vallei van Mekka weerhou het, nadat Hy julle die oorwin- ning oor hulle gegee het. En Allah is altyd die Siener van wat julle doen
25Dit is húlle wat nie wou glo nie, en die weg tot die Heilige Moskee vir julle toegesit en die doel van die offerande probeer verydel het. En was dit nie om die gelowige mans en die gelowige vroue wat julle nie geken het nie, kon julle hulle vertrap het, dan sou iets haatliks julle onwetend getref het weens hulle ~ sodat Allah tot Sy barmhartigheid toelaat wie Hy wil. As hulle apart gewees het, sou Ons diegene onder hulle wat nie geglo het nie, sekerlik met ’n pynlike kastyding gestraf het
26Toe hulle wat nie geglo het nie, veragting in hulle harte verberg het ~ die veragting van onwetendheid ~ het Allah Sy gemoedsrus op Sy Boodskapper en op die gelowiges afgestuur en hulle die woord van pligsbetragting laat nakom; en hulle was daarop geregtig, en was dit werd. En Allah het kennis van alle dinge
27Allah het inderdaad die visioen van Sy Boodskapper waarheid laat word. Julle sal die Heilige Moskee, as Allah wil, in veiligheid binnegaan, met julle hoofde geskeer en julle hare kortgesny en sonder vrees. Maar Hy weet wat julle nie weet nie, daarom het Hy ’n nabye oorwinning vóór dit verorden
28Dit is Hy wat Sy Boodskapper met die leiding en die godsdiens van die Waarheid gestuur het, sodat Hy dit oor alle ander gods- dienste mag laat seëvier. En Allah is Voldoende as Getuie
29Moegammad is die Boodskapper van Allah, en diegene saam met hom is onwrikbaar teen die ongelowiges gekant, en sagmoedig onder mekaar. U sien hulle vooroorbuig en in prostrasie tydens die gebed, terwyl hulle soek na die genade en welbehae van Allah. Hulle merke is op hulle aangesig as gevolg van hulle prostrasie. Dít is hulle beskrywing in die Tora ~ én hulle beskrywing in die Evangelie: soos koringsaad wat sy loot laat uitsprei en dit dan versterk sodat dit stewig word en op sy stingel ferm staan, tot vreugde van die saaiers; en dat Hy die ongelowiges gevolglik daarmee kan vertoorn. Allah het aan diegene wat glo en goeie dade verrig, vergifnis en ’n groot beloning belowe
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath