Islam
terug

41. Fussilat

1Gaa, Miem

2’n Openbaring van die Barmhartige, die Genadige

3’n Boek waarvan die verse verduidelik word; ’n Arabiese Qur’ãn vir ’n volk wat weet

4Goeie nuus, en ’n waarskuwing. Maar die meeste mense draai weg daarvan, en wil nie luister nie

5En hulle sê: Ons harte is gesluier teen dít waartoe u ons roep, en daar is doofheid in ons ore, en tussen u en ons is ’n skerm; gaan daarom aan met u werk, ons werk ook

6Sê: Ek is maar net so ’n sterfling soos julle. Dit is aan my geopen- baar dat julle God een God is; hou dus op die reguit pad na Hom en vra om Sy beskerming. En wee die heidene

7Hulle wat geen offergawes gee nie en wat nie in die Hiernamaals glo nie

8Diegene wat glo en goeddoen, vir hulle is daar sekerlik ’n beloning wat nooit teruggetrek sal word nie

9Sê: Verwerp julle werklik vir Hom wat die aarde in twee tydperke geskape het, en rig julle gelykes naas Hom op, terwyl Hy tog die Heer van die Wêrelde is

10Hy het daarin op die oppervlak van die aarde berge opgerig, en Hy het dit geseën en daarin voedingsmiddele bepaal, in vier tydperke, vir alle soekers ewe veel

11Daarna het Hy Hom tot die Hemel gewend ~ en dit was ’n soort wasem ~ toe het Hy daaraan en aan die aarde gesê: Kom julle albei, gewillig of onwillig. Beide het gesê: Ons kom gewillig

12So het Hy hulle in twee tydperke verorden as sewe hemele, en vir elke hemel sy taak aangewys. En Ons het die laagste hemel as ’n beskerming met ligte versier. Dit is die verordening van die Allermagtige, die Alleswetende

13Maar as hulle afkerig is, sê dan: Ek waarsku julle teen ’n blits- straal soos die blitsstraal wat Aad en Thamoed bewusteloos geslaan het

14Toe die boodskappers hulle van voor en van agter genader het en gesê het: Aanbid niemand buiten Allah; het hulle gesê: As ons Heer wou, sou Hy engele afgestuur het. Daarom glo ons nie in dít waarmee u gestuur is nie

15Wat Aad dan aanbetref, hulle was ten onregte arrogant in die land, en het gesê: Wie is sterker as ons? Sien hulle dan nie dat Allah wat hulle geskape het, sterker is as hulle nie? En hulle het Ons tekens ontken

16En Ons het ’n skreeuende wind gedurende noodlottige dae op hulle afgestuur, sodat Ons hulle ’n straf van vernedering in die lewe van hierdie wêreld kon laat smaak. En die straf van die Hiernamaals is gewis nog meer vernederend, en hulle sal nie gehelp word nie

17En wat Thamoed betref, Ons het hulle die regte weg aangewys, maar hulle het blindheid bo leiding verkies, daarom het die blits van ’n vernederende straf hulle getref, omdat hulle dit verdien het

18En hulle wat geglo het en godvresend was, het Ons gered

19En op die Dag wanneer die vyande van Allah in die Vuur versamel sal word, sal hulle in groepe verdeel word

20En wanner hulle daarnatoe aankom, sal hulle ore en hulle oë en hulle velle getuienis teen hulle aflê oor wat hulle gedoen het

21En hulle sal aan hulle velle sê: Waarom getuig julle teen ons? Dit sal sê: Allah, wat alles laat praat, het ons ook laat praat, en Hy het julle geskape en tot Hom sal julle teruggebring word

22En julle het nie julleself verberg uit vrees dat julle ore en julle oë en julle velle getuienis teen julle sal aflê nie; julle het gedink dat Allah niks van julle dade af weet nie

23En die valse gedagtes wat julle oor julle Heer gekoester het, het julle na die verderf gelei, daarom is julle verloorders

24Al is hulle nou geduldig, sal die Vuur nogtans hulle verblyfplek wees. Al smeek hulle om genade, aan hulle sal geen genade betoon word nie

25Ons het vir hulle geselle gegee wat dít wat voor hulle is en dít wat agter hulle is aantreklik sal laat lyk; en die woord is bewaarheid teen die nasies van djien en mense wat vóór hulle heengegaan het: gewis, hulle is verloorders

26En die ongelowiges sê: Moenie na hierdie Qur’ãn luister nie, maar maak geraas as dit voorgelees word; miskien kry julle nog die oorhand

27Maar Ons sal die ongelowiges sekerlik ’n streng straf laat ondergaan, en Ons sal hulle sekerlik vergeld vir die boosste van hulle dade

28Die beloning van Allah se vyande is die Vuur. Daarin sal vir hulle ’n verblyfplek wees om in te bly. ’n Vergelding, omdat hulle Ons tekens verwerp het

29En die ongelowiges sal sê: Ons Heer! Wys ons diegene aan onder die djien en mense wat ons verlei het, sodat ons hulle onder ons voete kan vertrap, en sodat hulle verneder kan word

30Diegene wat sê: Ons Heer is Allah, en op die regte weg voort- gaan, die engele daal neer op hulle, en sê: Moenie vrees nie, en treur ook nie, en ontvang die goeie nuus van die Paradys wat aan julle belowe is

31Ons is julle vriende in die lewe van hierdie wêreld en ook in die Hiernamaals, en julle sal daarin verkry wat julle siele verlang en daarna waarom julle vra

32’n Geskikte geskenk van die Vergewensgesinde, die Genade- volle

33En wie se woorde is welgevalliger as hy wat Allah aanroep en goeddoen, en sê: Ek behoort sekerlik tot diegene wat hul onderwerp

34En goed en kwaad is nie eenders nie. Weerstaan die kwaad deur middel van die goeie. En kyk, tussen jou en jou vyand sal ’n boesemvriendskap ontluik

35En aan niemand word dit toegeken nie, behalwe aan hulle wat geduldig is, en aan niemand word dit toegeken nie behalwe aan die ontvanger van ’n groot gawe

36En as ’n valse inblasing van die duiwel u kwel, soek dan toevlug by Allah. Waarlik, Hy is die Alleshorende, die Alleswetende

37En onder Sy tekens is daar die nag en die dag en die son en die maan. En prostreer nie voor die son nie, en ook nie voor die maan nie, maar prostreer voor Allah, wat hulle geskape het, indien dit Hy is vir wie julle aanbid

38Maar as hulle hoogmoedig is, dan is daar nog altyd diegene by u Heer wat Hom dag en nag verheerlik en daarvan nie moeg word nie

39En dit is ’n teken van Hom: dat u die aarde doodstil sien staan, maar wanneer Ons water daarop neerstuur, dan roer dit en swel uit. Hy wat die lewe daaraan skenk, het sekerlik ook die mag om dooies op te wek. Waarlik, Hy het mag oor alle dinge

40Hulle wat Ons tekens verdraai, is aan Ons nie onbekend nie. Is hy wat in die Vuur gewerp sal word dan beter daaraan toe as hy wat op die Opstandingsdag veilig sal wees? Doen wat julle wil; waarlik, Hy sien alles wat julle doen

41Diegene wat nie in die Vermaning glo wanneer dit na hulle kom nie, sal die verloorders wees; en waarlik, dit is ’n Onoorwinlike Boek

42Valsheid kan dit nie van voor of van agter benadeel nie: ’n openbaring van die Allerwyse, die Lofwaardige

43Niks word aan u gesê nie, behalwe wat ook aan die boodskappers vóór u gesê is. Waarlik, u Heer is die Heer van Vergifnis, en die Heer van die Smartlike Straf

44En indien Ons ’n Qur’ãn in ’n vreemde taal gegee het, sou hulle gesê het: Waarom is sy boodskappe nie duidelik gemaak nie? Hoe nou? ’n Vreemde taal, en ’n Arabier! Sê: Dit is ’n leiding tot genesing vir die gelowiges. En aangaande diegene ~ die ongelowiges ~ daar is ’n doofheid in hulle ore, en dit is vir hulle onduidelik. Hulle word vanaf ’n afgeleë plek geroep

45En inderdaad het Ons aan Moses die Boek gegee, maar geskille het daaroor ontstaan. En was dit nie dat ’n woord van u Heer reeds voorafgegaan het nie, sou daar sekerlik ’n oordeel tussen hulle uitgespreek gewees het, want waarlik, hulle verkeer daaroor in ’n verontrustende twyfel

46Wie goeddoen, doen dit vir sy eie siel; en wie kwaad bedrywe, doen dit tot sy eie nadeel. En u Heer is geensins onregverdig teenoor Sy dienaars nie

47Slegs Hy besit kennnis aangaande die Uur. En uit geen blomskede kom vrugte voort, en geen vrou word swanger of verlos, sonder dat Hy daarvan weet nie. En op die Dag wanneer Hy aan hulle sal vra: Waar is My deelgenote? Sal hulle sê: Ons verklaar aan U dat geeneen van ons getuienis daarvan kan aflê nie

48En diegene wat hulle voorheen aangeroep het, sal hulle in die steek laat, en hulle sal weet dat hulle nie kan ontsnap nie

49En die mens word nie moeg om die goeie te aanbid nie, maar as die kwaad hom tref, dan is hy wanhopig, sonder hoop

50En as Ons hom barmhartigheid laat smaak nadat hy kommer gehad het, dan sê hy: Dit kom my toe, en ek reken nie dat die Uur ooit sal aanbreek nie; en as ek na my Heer teruggebring word, sal ek by Hom sekerlik net die allerbeste vind. Maar Ons sal die ongelowiges spoedig omtrent hulle dade inlig, en Ons sal hulle straf met ’n swaar straf

51En wanneer Ons aan die mens guns bewys, draai hy weg en word afvallig; maar wanneer die kwaad hom aanraak, kyk! dan bid hy baie lang gebede

52Sê: Sien julle, as die Qur’ãn van Allah is en julle glo nie daarin nie, wie verkeer dan in ’n groter dwaling as hy wat hom daarteen verset

53Ons sal weldra Ons tekens in afgeleë streke en onder hulle eie volk toon, totdat dit vir hulle heeltemal duidelik is dat dit die Waarheid is. Is dit nie genoeg dat u Heer ’n Getuie oor alle dinge is nie

54Nou verkeer hulle sekerlik in twyfel aangaande die ontmoeting met hulle Heer. Kyk! Hy omvat alle dinge

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath