Islam
terug

31. Luqman

1Alief, Laam, Miem

2Dit is verse van die Boek van Wysheid

3’n leiding en ’n genade vir die weldoeners

4wat die gebed onderhou en die Zakaat2 betaal, en wat van die Hiernamaals verseker is

5Dit is húlle wat die leiding van hulle Heer volg, en dit is húlle wat sal slaag

6En onder die mense is daar diegene wat deur ydele praatjies, sonder kennis, ander van die pad van Allah wil laat afdwaal, en wat daarmee die spot dryf; vir hulle sal daar ’n vernederende straf wees

7En wanneer Ons tekens aan hom voorgedra word, draai hy met minagting daarvan weg asof hy dit nie gehoor het nie en asof daar doofheid in sy ore is. Verkondig vir hom ’n pynlike straf aan

8Voorwaar, hulle wat glo en goeie werke verrig, vir hulle is daar Tuine van geluk

9daarin sal hulle bly. ’n Belofte van Allah wat gestand gedoen sal word. En Hy is die Allermagtige, die Allerwyse

10Hy het die hemele geskape sonder dat hulle op sigbare pilare rus, en Hy het op die aarde berge geplaas sodat dit nie saam met julle sal bewe nie, en Hy het daarop allerlei diere geplaas. En Ons stuur water af uit die wolke, waarmee Ons allerlei edel gewasse laat groei

11Dít is Allah se skepping. Toon My nou wat diegene geskape het wat naas Hom gestel word. Nee, die onregverdiges verkeer duidelik in dwaling

12En waarlik, Ons het wysheid aan Loekmaan geskenk, en gesê: Wees Allah dankbaar, want hy wat dankbaar is, is dankbaar ter wille van sy eie siel; en hy wat ondankbaar is: sekerlik is Allah Selfgenoegsaam, Lofwaardig

13En toe het Loekmaan aan sy seun gesê: O my seun! Vereenselwig niemand met Allah nie; voorwaar, die toeskrywing van deelgenote aan Hom is ’n groot ongeregtigheid

14En Ons het die mens aangaande sy ouers opgelê ~ sy moeder het hom in swakte op swakte gedra, en sy borsvoeding het twee jaar in beslag geneem ~ en gesê: Betuig dank aan My, en aan u ouers. Tot My is die uiteindelike terugkeer

15En indien hulle3 by u daarop aandring dat u met My moet vereenselwig waarvan u geen kennis het nie, gehoorsaam hulle nie; en leef met hulle in hierdie wêreld saam op ’n behoorlike wyse, en volg die weg van hom wat hom tot My bekeer; dan sal u na My terugkeer en Ek sal u inlig oor wat u gedoen het

16O my liewe seun! Al sou dit die gewig van ’n mosterdsaadjie wees, en al sou dit selfs in ’n rots gevind word, of in die hemel of op aarde, Allah sal dit sekerlik openbaar maak. Voorwaar, Allah is Aldeurdringend, Welbewus

17O my liewe seun! Onderhou die gebed, en beveel die goeie en verbied die kwade, en verdra geduldig wat u ook oorkom. Waarlik, dit is ’n ernstige saak

18En moenie u gesig met minagting vir die mense verberg nie, en gaan ook nie hoogmoedig in die land rond nie. Waarlik, Allah het geen verwaande grootprater lief nie

19En slaan die regte koers in terwyl u rondwandel, en laat u stem sag wees. Voorwaar, die stemme wat die meeste gehaat word, is die gebalk van die esels

20Sien julle dan nie dat Allah alles wat in die hemele en alles wat op die aarde is, vir julle in diens gestel het nie, en dat Hy Sy gunste ryklik aan julle, sowel uiterlik as innerlik, geskenk het nie? En onder die mense is daar hy wat argumenteer oor Allah sonder kennis of enige leiding of liggewende Boek

21En wanneer aan hulle gesê word: volg dít wat Allah geopenbaar het, sê hulle: Nee, ons volg die weg waarop ons ons vaders gevind het. Wat? Selfs al het die duiwel hulle tot die Brandende Vuur uitgenooi

22En wie homself aan Allah onderdanig maak en goeddoen aan ander, het inderdaad aan ’n sterk greep gegryp. Die einde van alle sake berus by Allah

23En wie nie glo nie, laat sy ongeloof u nie verdriet aandoen nie. Na Ons is hulle terugkeer, dan sal Ons hulle inlig oor wat hulle gedoen het. Waarlik, Allah weet goed wat in die innerlike aan- gaan

24Ons skenk hulle genot vir ’n rukkie, dan sal Ons hulle vir ’n streng straf aandryf

25En as u hulle vra: Wie het die hemele en die aarde geskape? Sal hulle sekerlik antwoord: Allah. Sê: Alle lof behoort aan Allah! Maar die meeste van hulle weet dit nie

26Aan Allah behoort alles wat in die hemele en op die aarde is. Voorwaar, Allah is die Selfgenoegsame, die Lofwaardige

27En as al die bome op die aarde penne was, en die oseaan, met nog sewe oseane daarby gevoeg, ink was, sou die woorde van Allah nie uitgeput kon word nie. Voorwaar, Allah is Almagtig, Allerwys

28O mense! Julle Skepping en julle Opstanding is slegs soos ’n ademtog. Voorwaar, Allah is Alleshorend, Allessiende

29Sien u dan nie dat Allah die nag in die dag laat oorgaan, en dat Hy die dag in die nag laat oorgaan, en dat Hy die son en die maan aan julle diensbaar gemaak het ~ elk volg sy baan tot op ’n vasgestelde tyd ~ en dat Allah Bewus is van wat julle doen nie

30Dit is omat Allah die Waarheid is, en diegene wat hulle buiten Hom aanroep, vals is, en omdat Allah die Verhewene, die Grote is

31Sien u dan nie dat die skepe op die see vaar deur die guns van Allah nie, sodat Hy julle Sy tekens kan wys? Waarlik, daarin is tekens vir elkeen wat geduldig en dankbaar is

32En wanneer ’n golf soos ’n wolk hulle omhul, roep hulle na Allah, opreg in hulle gehoorsaamheid aan Hom. Maar wanneer Hy hulle veilig aan wal bring, is daar sommige wat ’n middeweg volg. En niemand ontken Ons tekens nie, behalwe elke onbetroubare, ondankbare skepsel

33O mense! Wees bewus van jul Heer, en vrees die Dag wanneer geen vader sy seun iets sal baat nie, en die seun sy vader ook nie van enige nut sal wees nie. Voorwaar, die belofte van Allah is waar; laat die lewe van hierdie wêreld julle derhalwe nie bedrieg nie, en laat die aartsbedrieër julle ook nie omtrent Allah bedrieg nie

34Voorwaar, Allah alleen besit kennis van die Uur. Hy stuur die reën af en hy weet wat in die baarmoeders is. En geen siel weet wat hy môre sal verdien nie. En geen siel weet in watter land hy sal sterf nie. Voorwaar, Allah is Alleswetend, Allerbewus

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath