30. Ar-kamer
1Alief, Laam, Miem
2Die Romeine is verslaan
3In ’n nabygeleë land, maar ná hulle nederlaag sal hulle weer ’n oorwinning behaal
4binne nege jaar. Die gebod is Allah s’n vóór dit en ná dit. En op daardie dag sal die gelowiges hulle verheug
5in die hulp van Allah. Hy help wie Hy wil, en Hy is die Almagtige, die Genadige
6Dít is die beloefte van Allah! Allah faal nie in Sy beloftes nie; maar die meeste mense weet dit nie
7Hulle ken slegs die skyn van die wêreldse lewe, maar aangaande die Hiernamaals is hulle argeloos
8Dink hulle nie daaroor in hul binneste nie? Allah het die hemele en die aarde en alles wat daartussen is, nie anders geskape nie as in waarheid, en vir ’n vasgestelde tyd. En tog is die meeste mense ontkenners van die ontmoeting met hulle Heer
9Het hulle nie op die aarde gereis en gesien wat die einde was van diegene vóór hulle nie? Hulle was sterker in mag as hulle, en het die land bewerk, en daarop gebou, meer as wat hulle gebou het. En hulle boodskappers het met duidelike bewyse by hulle gekom. Dus was dit nie Allah wat hulle onreg aangedoen het nie, maar hulle het hulself onreg aangedoen
10Bitter dan was die einde van die kwaaddoeners, omdat hulle die tekens van Allah verwerp en daarmee gespot het
11Allah laat die skepping ontstaan, dan herhaal Hy dit; daarna sal julle na Hom terugkeer
12En die dag waarop die Uur sal kom, sal die misdadigers wanhopig word
13En hulle sal geen bemiddelaars onder hulle afgode vind nie, en hulle sal hul afgode verwerp
14En op die dag waarop die Uur sal kom, sal hulle van mekaar geskei word
15Dan sal hulle wat gelowig was en goeie werke verrig het, in ’n Tuin geluk vind
16Maar hulle wat nie wou glo nie en Ons tekens en die ontmoeting en die Hiernamaals verwerp het, sal voor die straf te staan kom
17Loof Allah wanneer julle die aand ingaan, en wanneer julle die dag begin
18En aan Hom behoort alle lof in die hemele en op aarde, en wanneer die son sak en in die namiddag
19Hy bring die lewende uit die dode voort en ook die dode uit die lewende, en Hy gee die aarde lewe ná haar dood. En so sal julle ook voortgebring word
20En van Sy tekens is dat Hy julle uit stof geskape het; en kyk! julle is mense wat kan versprei
21En van Sy tekens is dít: dat Hy uit julle midde vroue vir julle geskape het, sodat julle gemoedsrus in hulle kan vind; en Hy het liefde en teerheid tussen julle geplaas. Daarin is voorwaar tekens vir ’n volk wat nadink
22En onder Sy tekens is daar die skepping van die hemele en die aarde, en die verskeidenheid van tale wat julle praat, en julle kleure. Waarlik, daarin is tekens vir die geleerdes
23En van Sy tekens is julle slaap gedurende die nag en julle soeke na Sy oorvloed bedags. Daarin is sekerlik tekens vir ’n volk wat wil luister
24En een van Sy tekens is dít: dat Hy julle die blitsstrale wys as vrees en hoop, en dat Hy water uit die wolke afstuur waarmee hy die aarde laat herlewe ná haar dood. Hierin is sekerlik tekens vir ’n volk wat verstaan
25En nog een van Sy tekens is dít: dat Hy die hemel en die aarde laat voortbestaan deur Sy gebod. Dan, wanneer Hy julle eenmaal roep ~ van die aarde ~ kyk! dan tree julle nader
26En aan Hom behoort elkeen wat in die hemele en op die aarde is. Almal is Hom gehoorsaam
27En dit is Hy wat die skepping laat ontstaan, en dit is vir Hom baie maklik. En Hom kom tereg toe die mees verhewe beskry- winge in die hemele en op die aarde; en Hy is die Almagtige, die Allerwyse
28Hy vertel vir julle ’n gelykenis aangaande julleself. Het julle onder julle ondergeskiktes, deelgenote in dít waarvan Ek julle voorsien het, sodat julle dienaangaande gelyk kan word; en vrees julle húlle, soos hulle mekaar vrees? So maak Ons Ons tekens duidelik aan ’n volk wat verstaan
29Nee, die onregverdiges volg hul eie neigings sonder kennis. En wie kan hom lei vir wie Allah laat dwaal? Vir hulle sal daar geen helpers wees nie
30Wend daarom julle aangesig opreg tot die ware godsdiens, ooreenkomstig die natuur waarna Allah die mens geskape het. Die skepping van Allah ken geen verandering nie. Dit is die ware geloof ; maar die meeste mense weet dit nie
31Bekeer julle tot Hom, en kom julle plig teenoor Hom na, en onderhou die gebed, en wees nie van die heidene nie
32ook nie saam met hulle wat hul godsdiens verdeel en sektes vorm nie, terwyl elke groep hul verheug in wat hulle het
33En as ’n ramp oor die mense kom, roep hulle hul Heer aan en bekeer hul tot Hom; en as hy hulle Sy barmhartigheid laat ondervind, kyk! dan vereenselwig sommige van hulle ander met hulle Heer
34en is ondankbaar vir dít wat Ons aan hulle gegee het. Vermaak julle ’n tydjie; maar julle sal dit weldra te wete kom
35Of het Ons enige gesag vir hulle neergestuur wat uitspraak gee aangaande dít wat hulle met Hom vereenselwig
36En wanneer Ons die mense barmhartigheid laat smaak, verheug hulle hul daarin; maar as ’n kwaad oor hulle kom as gevolg van wat hulle eie hande verrig het, kyk! dan is hulle wanhopig
37Sien hulle dan nie dat Allah die voorsiening vergroot en verklein vir wie Hy wil nie? Daarin is waarlik tekens vir ’n volk wat glo
38Gee dan aan die familie wat hulle toekom, asook aan die behoeftiges en die reisigers. Dit is die beste vir hulle wat die welbehae van Allah verlang, en hulle is dié wat sal slaag
39En wie geld op rente uitleen sodat dit kan toeneem deur wat ander besit, by Allah neem dit nie toe nie; slegs dít wat julle as offergawes bestee terwyl julle die welbelhae van Allah verlang
40Dit is Allah wat julle geskape het, wat vir julle sorg en julle daarna laat sterf; waarna Hy julle sal laat herleef. Is daar enigeen onder julle afgode wat iets dergeliks kan doen? Heilig is Hy, en verhewe bo wat hulle met Hom vereenselwig
41Boosheid het oor die land en die see gekom ten gevolge van dít wat die hande van die mense bewerk het, sodat Hy hulle ’n deel van wat hulle doen, kon laat smaak, en sodat hulle hul kon bekeer
42Sê: Reis deur die land, en kyk wat was die einde van diegene wat voorheen geleef het! Die meeste van hulle was heidene
43Wend dan u aangesig opreg tot die ware godsdiens, voordat die onafwendbare Dag van Allah kom. Op daardie Dag sal die mensdom geskei word
44Wie nie glo nie, sal verantwoordelik wees vir sy ongeloof; en wie goeddoen, hulle het goed vir hulle eie siele voorberei
45sodat Hy diegene wat glo en goeddoen, mag beloon uit Sy oorvloed. Voorwaar, Hy het die ongelowiges nie lief nie
46En een van Sy tekens is dit: dat Hy die winde met blye voor- uitsigte uitstuur, sodat Hy julle van Sy genade mag laat smaak; en dat die skepe op Sy gebod mag vaar, en dat julle na Sy oorvloed mag soek, en dat julle dankbaar mag wees
47En sekerlik het Ons vóór julle boodskappers na hul volke gestuur wat met duidelike bewyse by hulle gekom het. Daarna het Ons die misdadigers gestraf. En dit is altyd Ons plig om die gelowiges te help
48Dit is Allah wat die winde voortstuur sodat hulle ’n wolk laat oprys, dan versprei Hy dit in die lug soos Hy wil, en Hy breek dit, sodat julle die reën uit hulle midde sien neerstort. En wan- neer Hy dit laat val op wie van Sy dienaars hy wil, kyk! dan verheug hulle hulle
49ofskoon hulle voorheen, voordat dit oor hulle afgestuur is, wan- hopig was
50Kyk dan na die tekens van Allah se barmhartigheid, hoe Hy die aarde laat herlewe ná haar dood. Voorwaar, Hy is die Opwekker van die dode; en Hy het mag oor alle dinge
51En as Ons ’n droë wind stuur, en hulle sien hoe dit die plante verdor, sal hulle sekerlik in hulle ongeloof volhard
52Waarlik, u kan nie die dooies laat hoor nie, nóg kan die dowes iemand hoor roep wanneer hulle u hul rug toekeer
53Ook kan u die blindes van hulle dwaling nie aflei nie. U kan slegs húlle laat hoor wat in Ons tekens glo, sodat hulle hul onderdanig maak
54Dit is Allah wat julle uit ’n toestand van swakheid geskape het, waarna Hy aan die swakke krag gegee het, en wat ná die krag, weer die swakheid en grysheid verorden. Hy skep wat Hy wil, en Hy is die Alleswetende, die Allermagtige
55En die Dag waarop die Uur kom, sal die misdadigers sweer dat hulle slegs ’n uur gelewe het. So word hulle bedrieg
56Maar hulle aan wie kennis en geloof gegee is, sal sê: Volgens die verordening van Allah het julle inderdaad tot die Dag van Opstanding vertoef. En nou is dit die Opstandingsdag, maar julle het dit nie geweet nie
57Daarom sal hulle verontskuldiginge die onregverdiges op daardie Dag nie baat nie, ook sal aan hulle geen welwillendheid bewys word nie
58Waarlik, Ons het in hierdie Qur’ãn allerlei gelykenisse aan die mense voorgehou. Waarlik, as u aan hulle ’n teken toon, sal die ongelowiges sê: Julle is slegs bedrieërs
59So verseël Allah die harte van hulle wat nie wíl weet nie
60Wees dan geduldig; waarlik, die Belofte van Allah is waar; en laat hulle wat geen sekerheid het nie, u nie verontrus nie
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath