Islam
terug

26. Ash-Shu'araa

1Tô-Sien-Miem

2Dit is die verse van ’n Boek wat verduidelik

3Miskien sal u tot die dood toe treur omdat hulle ongelowig is

4As Ons wou, kon Ons ’n teken uit die hemel gestuur het, waar- voor hulle hul nekke sou buig

5En daar kom geen nuwe Vermaning van die Barmhartige tot hulle nie, of hulle keer hulle daarvan weg

6Hulle het dit waarlik verloën, maar weldra sal hulle weet wat hulle bespot het

7Kyk hulle nie na die aarde, hoeveel voortreflike soorte Ons daarop laat groei nie

8Sekerlik is daar ’n teken hierin; maar die meeste van hulle glo nie

9En waarlik, u Heer is die Almagtige, die Genadige

10En toe u Heer Moses geroep het, het Hy gesê: Gaan na die on- regverdige volk

11die volk van Farao. Sal hulle dan nie teen die kwaad waak nie

12Toe het hy gesê: My Heer! Ek vrees dat hulle my sal verstoot

13en my bors is vereng, en my tong is nie welsprekend nie; laat kom daarom vir Aäron ook

14En bowendien het hulle ’n aanklag van misdaad teen my; daarom vrees ek dat hulle my sal doodmaak

15Hy het gesê: Geensins! Gaan julle albei dan met ons tekens; waarlik, Ons is saam met julle, Luisterend

16Kom dan na Farao, en sê: Ons bring ’n boodskap van die Heer van die Wêrelde

17Stuur die Kinders van Israel saam met ons

18Farao het gesê: Het ons u nie as ’n kind onder ons opgevoed nie? En u het baie jare van u lewe saam met ons gewoon

19En u het daardie daad van u gepleeg, en u is nog ondankbaar

20Moses het gesê: Ek het dit gedoen toe ek nog tot die dwalendes behoort het

21Daarom het ek van julle gevlug toe ek julle gevrees het; maar my Heer het aan my wysheid verleen en my een van die boodskappers gemaak

22En is dit ’n guns waaraan u my herinner: dat u die Kinders van Israel tot slawe gemaak het

23Farao het gesê: En wát is die Heer van die Wêrelde

24Hy het gantwoord: Die Heer van die hemele en die aarde en wat daartussen is, indien julle seker wil wees

25Farao het aan diegene wat rondom hom was, gesê: Hoor julle nie

26Hy het gesê: Julle Heer en die Heer van julle voorvaders

27Farao het toe geantwoord: Waarlik, die boodskapper wat julle gestuur het, is kranksinnig

28Moses het gesê: Hy is die Heer van die Ooste en die Weste en wat tussen hulle is, indien julle kan begryp

29Farao het gesê: As u ’n ander god buiten mý aanneem, sal ek u sekerlik in die gevangenis werp

30Toe het Moses gesê: Selfs al sou ek u ’n duidelike teken toon

31Farao het gesê: Bewys dit dan, indien u een van die opregtes is

32Daarop het hy sy staf neergewerp, en kyk! dit was ’n slang

33en hy het sy hand uitgestrek, en kyk! dit het vir die toeskouers deurskynend gelyk

34Farao het aan die owerstes rondom hom gesê: Hy is inderdaad ’n bedrewe towenaar

35wat verlang om met sy towerkuns julle uit jul land te verdryf. Watter raad doen julle nou aan die hand

36Hulle het gesê: Verleen aan hom en sy broer uitstel, en stuur aankondigers na die stede

37dat hulle elke bedrewe towenaar na u kan bring

38Daarop is die towenaars byeenversamel vir die afspraak op ’n vasgestelde dag

39en dit is aan die volk gesê: Sal julle ook bymekaarkom

40Moontlik kan ons die towenaars volg, as hulle die oorwinnaars is

41Toe die towenaars dus gekom het, het hulle aan Farao gesê: Sal daar ’n beloning vir ons wees as ons die oorwinnaars is

42Hy het gesê: Ja, seker, bowendien sal julle van diegene wees wat baie na aan my is

43Moses het aan hulle gesê: Werp neer wat julle te werpe het

44Toe het hulle hul toue en stokke neergegooi, en gesê: By die mag van Farao, ons sál die oorhand kry

45Daarna het Moses sy staf neergewerp, en kyk! dit het hulle versinsels verorber

46Daarna het die towenaars hul op die grond neergewerp

47hulle het gesê: Ons glo in die Heer van die Wêrelde

48die Heer van Moses en Aäron

49Farao het gesê: Julle glo in hom voordat ék julle verlof gee? Hy is seker julle leier, die persoon wat julle in die toorkuns onderrig het. Maar julle sal dit weldra te wete kom. Ek sal sekerlik julle hande en julle voete aan teenoorgestelde kante afsny, en ek sal julle almal kruisig

50Hulle het gesê: Dis niks; ons sal waarlik na ons Heer terugkeer

51Ons hoop dat ons Heer ons sondes sal vergewe, want ons is die eerste gelowiges

52En Ons het aan Moses geopenbaar, en gesê: Vertrek met My dienaars gedurende die nag, want julle sal agtervolg word

53En Farao het bodes na die stede gestuur wat moes sê

54Dit is slegs ’n klein groepie

55maar hulle het ons sekerlik vertoorn

56en ons is ’n goedgewapende menigte

57Om hierdie rede het Ons hulle uit hul tuine en van die fonteine verdrywe

58en van hul skatte en voortreflike wonings

59So het dit gebeur. En Ons het dit as ’n erfenis aan die Kinders van Israel gegee

60En toe het hulle by sonopkoms hul agternagesit

61En toe die twee skares mekaar raaksien, het die metgeselle van Moses uitgeroep: Ons sal sekerlik ingehaal word

62Hy het gesê: Geensins! Waarlik, my Heer is met my. Hy sal my lei

63Toe het Ons aan Moses geopenbaar: Slaan op die see met u staf. En die see het in twee verdeel, en elke deel was soos ’n berg

64En daar het Ons die ander laat nader kom

65En Ons het Moses gered, en almal wat saam met hom was

66Toe het Ons die ander laat verdrink

67Sekerlik is daar ’n teken hierin; tog glo die meeste van hulle nie

68En voorwaar, u Heer is die Almagtige, die Genadige

69En verkondig aan hulle die verhaal van Abraham

70Hoe hy aan sy vader en aan sy volk gesê het: Wat aanbid julle

71En hulle antwoord was: Ons aanbid beelde en ons sal aan hulle toegewyd bly

72Toe het hy gesê: Hóór hulle as julle hul aanroep

73Of bring hulle ’n voor- of nadeel vir julle

74Hulle het geantwoord: Nee, ons het gevind dat ons vaders so doen

75Toe sê hy: Sien julle dan wat julle aanbid

76julle en julle voorvaders

77Waarlik, hulle is my vyande, maar nie die Heer van die Wêrelde nie

78wat my geskape het, en daarna vir my die weg aangewys het

79en wat aan my voedsel en drank gee

80en my genees wanneer ek siek is

81en my sal laat sterf en my daarna tot die lewe sal terugbring

82en wat, hoop ek, my tekortkominge sal vergewe op die Dag van Oordeel

83My Heer! Skenk my wysheid, en plaas my by die opregtes

84en verorden vir my ’n goeie nagedagtenis onder die toekomstige geslagte

85en maak my ’n erfgenaam van die Tuin van Saligheid

86en vergewe my vader, want hy is sekerlik een van die verdwaaldes

87en verneder my nie op die Dag wanneer die mense opgewek sal word nie

88die Dag waarop kinders of skatte niemand sal baat nie

89maar wanneer slegs hy wat met toegewyde hart aan Allah be- hoort, guns sal vind

90En die Paradys sal vir die godvresendes naby gebring word

91en die Hel sal vir die goddeloses onthul word

92en dit sal aan hulle gesê word: Waar is diegene wat julle aanbid het

93buiten Allah? Kan hulle julle help, of hulself help

94So sal hulle halsoorkop in die Hel gedompel word, hulle en die goddeloses

95en die skare van die duiwel, almal tesame

96Hulle sal sê, terwyl hulle daarin twis

97By Allah! Ons het waarlik gedwaal

98toe ons julle aan die Heer van die Wêrelde gelykgestel het

99En niemand behalwe die misdadigers het ons verlei nie

100Daarom het ons geen bemiddelaars

101ook nie ’n boesemvriend nie

102As ons maar net kon terugkeer, sou ons ook gelowiges wees

103Hierin is waarlik ’n teken, maar die meeste van hulle glo nie

104En vorwaar, u Heer is die Magtige, die Genadige

105Die volk van Noag het die boodskappers verloën

106Toe hulle broer Noag aan hulle gesê het: Sal julle dan nie teen die kwaad waak nie

107Waarlik, ek is ’n getroue boodskapper vir julle

108Wees bewus van Allah en gehoorsaam my

109En ek vra julle geen beloning daarvoor nie; my loon is slegs by die Heer van die Wêrelde

110Kom daarom julle plig teenoor Allah na, en gehoorsaam my

111Hulle het geantwoord: Sal ons in u glo terwyl slegs die onaan- sienlikes u volg

112Hy het gesê: En wat weet ek van hulle dade af

113Hulle rekening is alleen by my Heer, as julle dit maar besef

114En ek gaan die gelowiges nie verdryf nie

115ek is slegs ’n duidelike waarskuwer

116Hulle het gesê: As u nie ophou nie, o Noag, sal ons u sekerlik stenig

117Hy het gesê: My Heer! My volk het my verloën

118Oordeel daarom regverdig tussen hulle en my; en red my en die gelowiges wat saam met my is

119Daarom het Ons hom gered en diegene wat met hom in die ark was

120Daarna het Ons die res laat verdrink

121Hierin is waarlik ’n teken, maar die meeste van hulle glo nie

122Voorwaar, u Heer is die Magtige, die Genadige

123Aad het die boodskappers verloën

124Toe hulle broer Hüd aan hulle gesê het: Sal julle dan nie teen die kwaad waak nie

125Waarlik, ek is ’n getroue boodskapper vir julle

126Wees bewus van Allah, en gehoorsaam my

127En ek vra julle geen beloning daarvoor nie; my loon is slegs by die Heer van die Wêrelde

128Bou julle ’n monument op elke hoogte vir ydele vermaak

129En bou julle kastele sodat julle vir ewig kan lewe

130En wanneer julle gryp, gryp julle soos verdrukkers

131Wees bewus van Allah, en gehoorsaam my

132Kom julle plig na teenoor Hom wat alles wat julle weet aan jul geskenk het

133Hy skenk aan julle vee en kinders

134en tuine en fonteine

135Ek vrees namens julle inderdaad die straf van ’n smartlike Dag

136Hulle het geantwoord: Dit is vir ons dieselfde of u vermaan en of u nie een van die vermaners is nie

137Dit is niks anders as versinsels van die vorige volke nie

138En ons sal nie gestraf word nie

139Daarom het hulle hom veloën, en Ons het hulle verdelg. Daarin is waaarlik ’n teken, maar die meeste van hulle glo nie

140En voorwaar, u Heer is die Magtige, die Genadige

141Thamoed het die boodskappers verloën

142Toe hulle broer Salieg aan hulle gesê het: Sal julle dan nie teen die kwaad waak nie

143Waarlik, ek is ’n getroue boodskapper vir julle

144Wees bewus van Allah, en gehoorsaam my

145En ek vra julle geen beloning daarvoor nie; my loon is slegs by die Heer van die Wêrelde

146Sal julle dan veilig gelaat word in wat hier is

147in tuine en fonteine

148en koringvelde en dadelpalms vol pragtige blomskedes

149En met knaphandigheid hol julle huise in die berge uit

150Wees bewus van Allah, en gehoorsaam my

151En gehoorsaam nie die bevel van die verkwisters nie

152wat onheil op die aarde saai en hulself nie verbeter nie

153Hulle het gesê: U is betower

154U is slegs ’n sterfling soos ons ~ bring ons dan ’n teken, indien u opreg is

155Hy het gesê: Hier is ’n kamelin; sy het haar beurt om te drink, en julle het julle beurt om te drink, op ’n vasgestelde tyd

156En doen haar geen kwaad aan nie, anders sal die straf van ’n smartlike Dag julle inhaal

157Maar hulle het haar kniesening afgekap, en daarna het hulle spyt gehad

158maar die straf het hulle ingehaal. Voorwaar, daarin is ’n teken, maar die meeste van hulle glo nie

159En waarlik, u Heer is die Magtige, die Genadige

160Die volk van Lot het die boodskappers verloën

161Toe hulle broer Lot aan hulle gesê het: Sal julle nie teen die kwaad waak nie

162Waarlik, ek is ’n getroue boodskapper vir julle

163Wees bewus van Allah, en gehoorsaam my

164Ek vra julle geen beloning daarvoor nie; my loon is slegs by die Heer van die Wêrelde

165Gaan julle in by mans van alle skepsels

166en verlaat julle jul vrouens wat julle Heer vir jul geskape het? Nee, julle is ’n volk wat die perke oorskry

167Hulle het gesê: As u nie ophou nie, o Lot, sal u sekerlik verban word

168Hy het gesê: Waarlik, ek vind julle dade veragtelik

169My Heer! Red my en my volgelinge van wat hulle doen

170Daarom het Ons hom en al sy volgelinge gered

171behalwe ’n ou vrou wat agter gebly het

172Toe het Ons die ander verdelg

173En Ons het ’n reën op hulle laat giet; en boos was die reën op húlle wat gewaarsku was

174Daarin is waarlik ’n teken, maar die meeste mense glo nie

175En voorwaar, u Heer is die Magtige, die Genadige

176Die Bewoners van die Woud het die boodskappers verloën

177Toe Sjoe-eib tot hulle gespreek het: Sal julle dan nie teen die kwaad waak nie

178Waarlik, ek is ’n getroue boodskapper vir julle

179Wees bewus van Allah, en gehoorsaam my

180En ek vra julle geen beloning daarvoor nie; my loon is slegs by die Heer van die Wêrelde

181Gee die volle maat, en behoort nie tot die bedrieërs nie

182En weeg met ’n behoorlike skaal

183En doen die mense nie te kort in wat hulle toekom nie, en verrig geen onheil op die aarde nie

184En wees bewus van Hom wat julle en ook die vorige geslagte geskape het

185Hulle het gesê: U is betower

186u is maar net ’n sterfling soos ons, en ons beskou u as ’n leuenaar

187Laat dus ’n deel van die hemel op ons val, as u opreg is

188Hy het gesê: My Heer weet goed wat julle doen

189En hulle het hom verloën. Toe het die straf van die Dag van Bedekking hulle ingehaal. Dit was waarlik die straf van ’n smartlike dag

190Voorwaar, daarin is ’n teken, maar die meeste van hulle glo nie

191En waarlik, u Heer is die Magtige, die Genadige

192En waarlik, hierdie Boek is ’n openbaring van die Heer van die Wêrelde

193Die Getroue Siel het dit gebring

194na u hart, sodat u ’n waarskuwer kan wees

195in duidelike Arabies

196En dieselfde is sekerlik in die geskrifte van die volke wat julle voorafgegaan het

197Is dit nie ’n teken vir hulle dat die geleerdes onder die Kinders van Israel dit weet nie

198En indien Ons dit aan ’n vreemdeling geopenbaar het

199en hy dit aan hulle voorgelees het, sou hulle nooit daarin geglo het nie

200Só laat Ons dit die harte van die skuldiges binnedring

201Hulle sal nie daarin glo voordat hulle die smartlike straf nie sien nie

202Maar dit sal plotseling oor hulle kom terwyl hulle dit nie verwag nie

203Dan sal hulle sê: Sal daar aan ons uitstel verleen word

204Wens hulle nog dat Ons straf verhaas moet word

205Sien u, as Ons hulle dit gun om die jare te geniet

206en daar kom tot hulle wat aan hul belowe is

207sal dít wat hul geniet het, hulle niks baat nie

208En nooit het Ons ’n stad vernietig nie, of sy het haar waarskuwers gehad

209wat vermaan het. En Ons is nooit onregverdig nie

210En die duiwels het dit nie gebring nie

211En dit kom hulle nie toe nie, nóg het hulle die mag om dit te doen

212Waarlik, selfs om dit te hoor, word hulle nie gegun nie

213En roep geen ander god buiten Allah aan nie, anders sal u een van die gestrafdes word

214En waarsku u naaste familie

215en wend u met sagmoedigheid tot die gelowiges wat u volg

216Maar indien hulle u nie gehoorsaam nie, sê: Ek aanvaar geen skuld vir u dade nie

217En stel u vertroue in die Magtige, die Genadige

218wat u sien wanneer u opstaan

219en wat u bewegings merk wanneer u saam met ander prostreer

220Waarlik, Hy is die Alleshorende, die Alleswetende

221Sal ek u meedeel op wie die duiwels neerdaal

222Hulle daal op elke verstokte leuenaar en sondaar neer

223en hulle leen hulle ore uit, en die meeste van hulle is leuenaars

224En die digters! Die afgedwaaldes volg hulle

225Sien u nie dat hulle in elke vallei ronddwaal nie

226en dat wat hulle sê, hulle nie doen nie

227Behalwe die gelowiges, wat glo en goeie werke doen en Allah altyd onthou, en hulself verdedig as hulle verdruk word. Maar die kwaaddoeners sal weldra weet watter wending hul saak sal neem

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath