21. Al-Anbiyaa
1Vir die mense het die afrekening reeds naby gekom, en tog draai hulle in agteloosheid weg
2Daar kom geen nuwe Vermaning tot hulle van hulle Heer nie, of hulle luister argeloos daarna
3En hulle harte is agteloos. En hulle ~ die kwaadstigters ~ beraadslaag in die geheim en sê: Hy is niemand anders nie as ’n gewone sterfling soos julle self ook is; sal julle jul dan aan betowering oorgee terwyl julle dit kan sien
4Hy het geantwoord: My Heer weet alles wat in die hemele en op die aarde gesê word, en Hy is die Alleshorende, die Alleswetende
5Nee, sê hulle: ’n Mengelmoes van drome! Nee, hy het dit versin! Nee, hy is ’n digter! Laat hom dan ’n teken vir ons bring soos dié waarmee die vorige profete gestuur is
6Vóór hulle het geen stad wat vernietig is, geglo nie; hoe sal húlle dan glo
7En vóór u het Ons slegs manne gestuur aan wie Ons openbaring gestuur is; vra gerus die volgelinge van die Vermaning, indien julle dit nie weet nie
8Ons het ook nie aan hulle liggame gegee wat voedsel nie nodig het nie, en hulle was ook nie onsterflik nie
9So het Ons Ons beloftes gestand gedoen, en Ons het hulle gered en ook almal wat Ons wou; en Ons het die buitensporiges ver- delg
10Ons het inderdaad ’n Boek aan julle geopenbaar waardeur julle aansien kan verwerf. Verstaan julle dan nie
11En hoeveel stede wat vol van onregverdigheid was, het Ons vernietig! En daarna het Ons ’n ander volk verwek
12En toe hulle Ons Mag ondervind het, kyk! toe het hulle op die vlug geslaan
13Moenie vlug nie, en keer terug tot julle maklike leefwyse waaraan julle gewoond was, en na julle wonings, sodat julle ondervra kan word
14Hulle het geantwoord: O wee ons! Waarlik, ons was onreg- verdig
15En hierdie uitroep van hulle het nie opgehou nie totdat Ons hulle afgesny, uitgewis het
16En Ons het nie die hemel en die aarde en wat tussen hulle is, as ’n grap geskape nie
17As Ons daarvan ’n spel wou maak, sou Ons dit vir Onsself gehou het; maar dít wou Ons nie doen nie
18Nee, Ons stel die Waarheid teen die valsheid, sodat dit sy kop kan verbrysel, en kyk! dit verdwyn. En wee julle vir wat julle beskryf
19En aan Hom behoort alles wat in die hemele en op die aarde is. En diegene wat saam met Hom is, is nie te trots om Hom te dien nie, of te moeg daarvan nie
20Hulle verheerlik Hom snags en bedags, en hulle word daar nie moeg van nie
21Of het hulle gode uit die aarde geneem wat lewe gee
22En indien daar in die hemele en op die aarde gode buiten Allah was, sou dit alles in chaos verkeer het. Verhewe is Allah, die Heer van die Troon, bo dit wat hulle beskryf
23Hy kan nie ondervra word aangaande Sy dade nie, maar húlle sal ondervra word
24Of het hulle gode buiten Hom geneem? Sê: Bring julle bewyse. Hier is ’n vermaning van diegene wat saam met my is, en ’n vermaning van diegene wat vóór my gewees het. Nee, die meeste van hulle ken die Waarheid nie, en hulle is daarvan afkerig
25En Ons het geen boodskapper vóór u gestuur nie sonder dat Ons aan hom geopenbaar het: Daar is geen God nie buiten My; daarom aanbid slegs vir My
26En hulle sê: Die Barmhartige het ’n seun vir Homself geneem. Heilig is Hy! Nee, hulle is geërde dienaars
27hulle praat nie voordat Hy nie praat nie, en hulle doen slegs wat Hy beveel
28Hy weet wat voor hulle is en wat agter hulle is, en vir niemand tree hulle in nie, behalwe vir diegene wat Hom behaag; en hulle sidder uit vrees vir Hom
29En wie van hulle ook al sou sê: Ek is ’n god naas Hom, so iemand sal Ons met die Hel vergeld. Want só beloon Ons die onregverdiges
30Sien die ongelowiges nie dat die hemele en die aarde toegemaak was, en dat Ons dit weer oopgemaak het nie? En Ons het uit water alles gemaak wat lewendig is. Sal hulle dan nie glo nie
31En Ons het op die aarde stewige berge geplaas, anders sou hulle met hulle gebewe het; en Ons het daarin wye paaie gemaak sodat hulle die regte koers kan inslaan
32En Ons het die hemele ’n bewaakte gewelf gemaak; nietemin ignoreer hulle hierdie tekens
33En dit is Hy wat die nag en die dag en die son en so ook die maan geskape het. Alles beweeg in hulle bane
34En Ons het aan geen mens vóór u ’n ewigdurende lewe geskenk nie. As ú sterf, sal húlle dan vir ewig lewe
35Elke siel sal die dood proe. En Ons gee aan julle goed en kwaad as ’n beproewing. En tot Ons sal julle terugkeer
36En wanneer die ongelowiges u sien, dan doen hulle niks anders nie as om u te spot; en hulle sê: Is dit hy wat van julle gode praat? En wanneer melding gemaak word van die Barmhartige God, verloën hulle Hom
37Die mens is met ’n haastige natuur geskape. Ek sal My tekens weldra aan julle toon, maar vra My nie om gou te maak nie
38En hulle sê: Wanneer sal hierdie belofte werklikheid word? Sê ons, indien julle opreg is
39As die ongelowiges maar geweet het van die tyd wanneer hulle nie in staat sal wees om die Vuur van hulle gesigte af te weer nie, ook nie van hulle rûe nie, en hulle nie gehelp sal word nie
40Nee, dit sal skielik op hulle afkom, en dit sal hulle verbyster; en hulle sal nie die mag hê om dit af te weer nie; ook sal aan hulle nie uitstel verleen word nie
41En boodskappers vóór u is inderdaad bespot, maar dít waarmee hulle gespot het, het die spotters getref
42Sê: Wie beskerm julle dag en nag behalwe die Barmhartige? Nee, hulle draai weg van die oordenkinge van hulle Heer
43Of het hulle gode wat hulle teen Ons kan beskerm? Hulle kan hulself nie help nie, ook kan niks hulle teen Ons beskerm nie
44Nee, Ons het aan hulle en hul vaders ’n voorsiening gegee, totdat hulle lewens verleng is. Sien hulle nie dat Ons die land besoek en die grense daarvan inperk nie? Sal hulle dan die oorhand kry
45Sê: Ek waarsku julle slegs deur middel van openbaringe; dog die dowe hoor nie die aanroep wanneer hulle gewaarsku word nie
46En indien ’n ademteug van die kastyding van u Heer hulle sou aanraak, sal hulle sê: O wee ons! Ons was inderdaad onreg- verdig
47Ons sal ’n weegskaal van geregtigheid opstel op die Dag van Opstanding, sodat geen enkele siel in enige opsig onreg aangedoen sal word nie. Selfs die gelyke van ’n mosterdsaad se gewig sal nie ongemerk verbygaan nie. Ons is Genoegsaam as ’n Rekenaar
48En voorwaar, Ons het Moses en Aäron die Maatstaf en ’n lig en ’n vermaning gegee vir diegene wat teen die kwaad waak
49wat hulle Heer in die verborgene vrees, en voorbereid is op die Uur
50En dit is ’n geseënde Vermaning wat Ons geopenbaar het. Sal julle dit dan ontken
51En waarlik, Ons het voorheen aan Abraham sy regskapenheid geskenk, en Ons het hom goed geken
52Toe hy aan sy vader en aan sy volk gesê het: Wat is hierdie beelde waaraan julle so geheg is
53Hulle het geantwoord: Ons het gevind dat ons vaders hulle aan- bid
54Toe het hy gesê: Voorwaar, julle sowel as julle vaders verkeer in duidelike dwaling
55Hulle het gesê: Het u ons die waarheid gebring, of speel u met ons
56Hy het geantwoord: Nee, julle Heer is die Heer van die hemele en die aarde. Hy het julle geskape; en ek is een van diegene wat daarvan getuig
57En, by Allah! Ek sal sekerlik teen julle afgode ’n plan beraam nadat julle weggegaan en julle rûe daarvoor gedraai het
58So het hy hulle aan stukke gebreek, behalwe die grootste, sodat hul tot hom kon terugkeer
59Toe het hulle gesê: Wie het dit aan ons gode gedoen? Voorwaar, hy moet ’n kwaaddoener wees
60Hulle het gesê: Ons het ’n jongeling met die naam van Abraham van hulle hoor praat
61Hulle het gesê: Bring hom voor die oë van die volk; miskien kan hulle getuig
62Hulle het gesê: Het ú dit aan ons gode gedoen, o Abraham
63Hy het geantwoord: Sekerlik het iemand dit gedoen. Die grootste van hulle is hierdie een; maar vra vir húlle indien hulle kan praat
64En toe het hulle tot inkeer gekom en aan mekaar gesê: Gewis, julle is self kwaaddoeners
65Toe het hulle hul hoofde laat sak: U weet goed dat hulle nie kan praat nie
66Hy het gesê: Dien julle dan buiten Allah die dinge wat julle geensins kan baat of skade kan berokken nie
67Skande oor julle en oor dít wat julle buiten Allah aanbid! Het julle dan nie verstand nie
68Hulle het gesê: Verbrand hom, en help jul gode indien julle enigiets wil doen
69Ons het gesê: O vuur! Wees koel en vreedsaam vir Abraham
70Hulle wou hom skade berokken, maar dit was húlle wat die slegste daarvan afgekom het
71En Ons het hom en Lot gered, en aangewys vir die land wat Ons vir die volke geseën het
72En Ons het Isak aan hom gegee, en Jakob as kleinseun. En Ons het hulle almal opreg gemaak
73En Ons het leiers van hulle gemaak, wat die volk op Ons bevel gelei het, en Ons het aan hulle geopenbaar dat hulle moet goed doen en die gebed onderhou en gunste moet gee, en hulle het Ons alleen gedien
74En aan Lot het Ons wysheid en kennis gegee, en Ons het hom verlos uit die stad van gruwels. Voorwaar, hulle was ’n bose volk, oortreders
75en Ons het hom in Ons barmhartigheid opgeneem; hy was sekerlik een van die weldoeners
76En toe Noag ons voorheen aangeroep het, het Ons sy gebed beantwoord en hom en sy volk van ’n groot rampspoed verlos
77En Ons het hom gehelp teen die volk wat Ons tekens verwerp het. Voorwaar, hulle was ’n bose volk, en daarom het Ons hulle laat verdrink
78En toe Dawid en Salomo uitspraak gegee het aangaande die weiveld waar die volk se skape gedurende die nag verdwaal het, was Ons Getuie van hulle oordeel
79En Ons het Salomo insig in die saak gegee. En aan elkeen van hulle het Ons wysheid en kennis geskenk. En Ons het die berge en die voëls genoodsaak om saam met Dawid Ons lofpryse te besing
80En Ons het hom onderrig in die smee van pantsers om julle teen aanvalle te beskerm; sal julle dan nie dankbaar wees nie
81En aan Salomo het Ons die geweldige wind onderdanig gemaak. Deur Sy gebod het dit gewaai in die rigting van ’n land wat Ons geseën het. En Ons het kennis van alle dinge
82En onder sy duikers was daar ook van die duiwels, en hulle het ook ander werk vir hom verrig; en Ons het oor hulle gewaak
83En Job, toe hy sy Heer aangeroep het: Kwellinge het my getref, en U is die Genadigste van die genadiges
84Toe het Ons sy gebed beantwoord en hom van moeilikhede verlos, en Ons het aan hom sy volk teruggegee en boonop nog die gelyke van hulle; ’n genade van Ons en ’n herinnering aan My onderdane
85En Ismael en Iederies en Dhoel-Kiefil; hulle almal was tussen die geduldiges
86en Ons het hulle in Ons genade opgeneem. Sekerlik, hulle was onder die weldoeners
87En Dhoen-Noen,1 toe hy toornig van sy volk af weggegaan het, en toe hy gemeen het dat Ons hom nie in benoudheid sou bring nie, maar eindelik in sy smeekgebede uitgeroep het: Daar is geen God buiten U nie; Heilig is U! Ek was inderdaad een van die onregverdiges
88Toe het Ons sy gebed beantwoord en hom van sy kwellings verlos. En sodoende verlos Ons die gelowiges
89En Sagaria, toe hy tot sy Heer geroep het: My Heer! Laat my nie alleen nie! U is die Beste van die erfgename
90Toe het Ons sy gebed beantwoord en Johannes aan hom gegee en sy vrou vir hom vrugbaar gemaak. En sekerlik het hulle met mekaar in goeie werk gewedywer, en Ons aangeroep in hoop en vrees; en hulle was ootmoedig voor Ons
91En dink aan haar wat haar kuisheid bewaar het; Ons het Ons inspirasie in haar ingeblaas, en vir haar en haar seun ’n teken vir die nasies gemaak
92Voorwaar, dít is julle gemeenskap: één gemeenskap; en Ek is julle Heer; aanbid My daarom
93Tog verbreek hulle hul verbintenisse met mekaar; maar hulle sal almal tot Ons terugkeer
94Hy wat goeie werk doen en gelowig is, sy pogings sal nie verwerp word nie, en Ons sal dit sekerlik tot sy voordeel aanteken
95En vir ’n stad wat Ons verdelg het, is dit ’n onherroeplike gebod dat die volk daarvan nie sal terugkeer nie
96Selfs wanneer Gog en Magog losgelaat sal word en op elke hoogte afstorm
97En as die Uur van die Ware Belofte nader kom, kyk dan! die oë van hulle wat nie glo nie, sal wyd oop staar: Wee ons! Voorwaar, ons was agteloos; nee, ons was onregverdig
98Voorwaar, julle en wat julle buiten Allah aanbid, is brandstof vir die Hel; daarin sal julle bymekaar gebring word
99As hierdie dinge werklik gode was, sou dié lot hulle nie getref het nie. En almal sal daarin vertoef
100Vir hulle sal daar geweeklaag wees, en hulle sal daarin ook nie hoor nie
101Maar hulle wie se goeie beloning reeds vooruitgegaan het, sal ver daarvandaan gehou word
102hulle sal nie die geringste geluid daarvan hoor nie, en hulle sal bly in die plek wat hulle siele begeer het
103Die groot Ontsetting sal hulle nie bangmaak nie en die engele sal hulle ontmoet en sê: Dít is julle Dag, die Dag wat aan julle belowe is
104Die Dag waarop Ons die hemel sal oprol soos ’n perkamentrol opgerol word. Soos Ons die eerste skepping begin het, so sal Ons dit weer voortbring. Dit is ’n belofte wat bindend vir Ons is. Voorwaar, Ons sál dit teweegbring
105En Ons het inderdaad in die Boek geskryf, ná die vermaning, dat My opregte dienaars die land sal beërwe
106Voorwaar, hierin is ’n boodskap vir ’n volk wat Ons aanbid
107En Ons het u2 nie as iets anders gestuur nie, maar as ’n genade vir die nasies
108Sê: Voorwaar, dit is aan my geopenbaar dat julle God slegs een God is: sal julle jul dan aan Hom onderwerp
109Maar indien hulle wegdraai, sê dan: Ek het julle op ’n regverdige wye gewaarsku, en ek weet nie of dít waarmee julle bedreig word, naby of ver is nie
110Voorwaar, Hy weet wat openlik gesê word, en Hy weet wat julle verberg
111En ek weet nie of dit ’n beproewing vir julle sal wees, en of dit ’n voorsiening vir ’n bepaalde tyd is nie
112Hy het gesê: My Heer! Oordeel in waarheid. En ons Heer is die Barmhartige, Wie se hulp ingeroep moet word teen wat julle aan Hom toeskryf
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath