Islam
terug

19. Maryam

1Kaaf, Haa, Jaa, Ein, Sôd

2’n Vermelding van die barmhartigheid van u Heer aan Sagaria

3Toe hy sy Heer in die geheim aangeroep het

4Hy het gesê: My Heer! My gebeente het swak geword en my hoof glans met grys hare, en my gebed tot U, o my Heer, was nooit vergeefs nie

5Maar ek vrees my bloedverwante ná my; en my vrou is onvrugbaar; skenk my ’n opvolger van Uself

6sodat hy my en die huis van Jakob tot erfgenaam mag wees. En maak hom, my Heer, U welgevallig

7Allah het geantwoord: Sagaria, Ons bring u die goeie nuus van ’n seun wie se naam Johannes sal wees: Sy gelyke het Ons nog nooit voorheen gemaak nie

8Hy het gesê: My Heer, hoe kan daar aan my ’n seun gegee word terwyl my vrou onvrugbaar is en ek reeds die laaste grens van die ouderdom bereik het

9Hy het gesê: So sal dit wees. U Heer sê: Dit is maklik vir My; Ek het u voorheen geskape toe u niks was nie

10Hy het gesê: My Heer! Gee my ’n teken. Hy het gesê: U teken is dat u vir drie agtereenvolgende dae en nagte met niemand sal praat nie, terwyl u tog blakende gesondheid sal geniet

11So het hy dan uit die allerheiligste vertrek na sy volk gegaan en aan hulle verkondig: Verheerlik Allah soggens en saans

12O Johannes! Hou vas aan die Boek met krag. En Ons het aan hom wysheid verleen terwyl hy nog ’n kind was

13en sagmoedigheid van Ons, en reinheid. En hy was opreg

14en goed vir sy ouers, en nie parmantig en ongehoorsam nie

15Vrede was met hom op die dag van sy geboorte, en op sy sterf- dag, en dit sal so wees op die Dag waarop hy weer opgewek sal word

16En vermeld Maria in die Boek. Hoe sy haarself van haar familie onttrek het en na ’n afgeleë plek in die Ooste vertrek het

17en sy het haar van hulle afgesluier. Toe het Ons Ons gees tot haar gestuur en hy het aan haar verskyn in die gestalte van ’n volmaakte man

18Sy het gesê: Ek neem my toevlug tot die Barmhartige teen u, indien u iemand is wat teen die kwaad waak

19Hy het geantwoord: Ek is maar net ’n boodskapper van u Heer wat sê: Ek sal haar ’n rein seun gee

20Sy het geantwoord: Hoe kan ek ’n seun baar terwyl geen man my aangeraak het nie, en ek ook nie ontugtig was nie

21Hy het gesê: So sal dit wees. U Heer sê: Dit is maklik vir My; Ons sal hom ’n teken vir die mense maak, en ’n genade van Ons. En dit is ’n beslote saak

22En sy het hom ontvang en met hom na ’n afgeleë plek vertrek

23En die smarte van die bevalling het haar na die stam van ’n palmboom gedryf. Sy het gesê: Het ek maar liewer voorheen gesterf en vergete geraak

24Maar ’n stem van benede het na haar geroep: Moenie treur nie; waarlik, u Heer het ’n stroompie vir u laat ontspring

25en trek die stam van die palmboom na u toe; dit sal vars, ryp dadels vir u laat afval

26Eet, drink en spoel u oë uit. En indien u iemand sien, sê dan: Waarlik, ek het aan die Barmhartige ’n gelofte afgelê om te vas; daarom sal ek vandag met niemand praat nie

27En sy het haar kind na haar volk teruggedra. Hulle antwoord was: O Maria, u het iets vreemds gedoen

28O suster van Aäron! U vader was geen verdorwe man en u moeder nie ’n onkuise vrou nie

29Maar sy het na hom gewys. Hulle het gesê: Hoe kan ons praat met ’n kind wat nog in die wieg lê

30En hy het gesê: Ek is waarlik ’n dienaar van Allah. Hy het my die Boek gegee en van my ’n profeet gemaak

31en Hy sal my geseënd laat wees, waar ek my ook al mag bevind; en Hy het my die gebed en die gee van gunste opgelê solank as wat ek lewe

32en ook dat ek my moeder gehoorsaam moet wees; en Hy het nie van my ’n weerspannige en ongeseënde gemaak nie

33En vrede was met my op die dag van my geboorte en sal met my wees op die dag van my afsterwe, en so ook weer op die Dag wanneer ek opgewek sal word

34So was Jesus, die seun van Maria. En dit is oor hierdie ware verklaring dat hulle argumenteer

35Dit pas nie by Allah dat Hy ’n seun vir Homself moet neem nie. Heilig is Hy! Wanneer Hy ’n beslissing vel, sê Hy slegs: Wees! en dit word

36Voorwaar, Allah is my Heer en julle Heer; daarom moet julle Hom dien. Dít is die regte weg

37Maar sektes onder hulle het met mekaar van mening verskil. Wee dan die ongelowiges, omdat hulle aanwesig sal wees op ’n smartlike dag

38Hoe helder sal hulle hoor en sien op die Dag wanneer hulle tot Ons sal terugkeer; waarlik, die kwaaddoeners verkeer vandag in duidelike dwaling

39En waarsku hulle teen die Dag van Spyt, wanneer die oordeel gevel sal word. Tans is hulle agteloos en ongelowig

40Voorwaar, Ons sal die aarde en wie daarop is, beërwe, en tot Ons sal hulle terugkeer

41En vermeld Abraham in die Boek. Voorwaar, hy was waar- heidliewend, ’n profeet

42Toe hy aan sy vader gesê het: O my vader! Waarom aanbid u dinge wat nie hoor nie, ook nie sien of u op enige wyse van nut kan wees nie

43O my vader! Aan my is daar kennis geskenk wat aan u nie geskenk is nie. Volg daarom vir my en ek sal u op die regte pad lei

44O my vader! Moenie die duiwel dien nie. Voorwaar, die duiwel is die Barmhartige ongehoorsaam

45O my vader! Ek vrees dat die straf van die Barmhartige u sal tref en dat u ’n vriend van die duiwel sal word

46Sy antwoord was: Versaak u my gode, o Abraham? As u nie nou ophou nie, sal ek u moet verdryf. Laat my dan ’n tyd lank met rus

47Hy het gesê: Vrede vir u! Ek sal by my Heer om vergifnis vir u smeek. Waarlik, Hy is altyd Goed vir my

48En ek sal my ver hou van u en van die dinge wat u buiten Allah aanroep; en ek sal my Heer aanroep. Miskien sal my gebede nie ongeseënd wees nie

49Daarom dat Ons ~ toe hy van hulle en die dinge wat hul aanbid het, afskeid geneem het ~ Isak en Jakob aan hom geskenk het. En van elkeen van hulle het Ons ’n profeet gemaak

50En Ons het hulle van Ons barmhartigheid geskenk, en Ons het hulle ’n ware en verhewe erenaam geskenk

51En vermeld Moses in die Boek. Voorwaar, hy was ’n opregte persoon, ’n boodskapper en ’n profeet

52En Ons het hom van die geseënde kant van die berg af geroep, en Ons het hom nader laat tree vir ’n gesprek

53En deur Ons genade het Ons aan hom sy broer Aäron gegee, ’n profeet

54En vermeld Isma-eel in die Boek. Voorwaar, hy het sy belofte gestand gedoen, en hy was ’n boodskapper, ’n profeet

55En hy het sy volk die gebed en die gee van gunste opgelê; en sy Heer het welbehae gehad in hom

56En vermeld Iederies2 in die Boek. Voorwaar, hy was ’n waarheidliewende man, ’n profeet

57En Ons het vir hom ’n hoë aansien gegee

58Húlle is dit oor wie Allah Sy seëninge uitgestort het onder die profete van die nageslag van Adam, en van diegene wat Ons saam met Noag vervoer het, en van die nageslag van Abraham en Israel, en van diegene wat deur Ons gelei en uitverkies is. Toe die tekens van die Barmhartige aan hulle voorgedra is, het hulle hul in onderdanigheid wenend neergewerp

59Maar ná hulle het daar ’n slegte nageslag gekom, wat gebede verspil en aan hulle lae begeertes gehoor gegee het. Hulle sal weldra hul verdoemenis tegemoetgaan

60behalwe diegene wat berou toon, glo en goeie werke verrig ~ hulle sal die Tuin binnegaan, en hulle sal geen onreg aangedoen word nie

61Tuine van Ewigheid wat die Barmhartige in die Onsigbare aan Sy dienaars beloof het. Voorwaar, Sy belofte sal geskied

62Hulle sal geen ydele gesprek daarin hoor nie, net: Vrede! En soggens en saans sal hulle hul lewensonderhoud ontvang

63Dít is die Paradys wat Ons as erfenis aan Ons dienaars wat godvresend is, sal skenk

64En Ons engele daal nie af nie, behalwe op die bevel van u Heer. Aan Hom behoort alles wat voor en alles wat agter ons is, en wat daartussen is; en u Heer vergeet nooit

65Heer van die hemele en die aarde en wat tussen hulle is! Dien Hom daarom en wees geduldig in Sy diens. Ken u enigeen wat aan Hom gelyk is

66En die mens sê: Wanneer ek dood is, sal ek dan werklik weer tot die lewe teruggebring word

67Onthou die mens dan nie dat Ons hom voorheen geskape het toe hy niks was nie

68By u Heer dan! Ons sal hulle sekerlik almal tesame, en net so ook die duiwels, bymekaarbring; dan sal Ons hulle op hulle knieë rondom die Hel versamel

69Dan sal Ons sekerlik uit elke sekte diegene onder hulle uitkies wat die opstandigste teen die Barmhartige was

70Ons weet goed wie die verbranding daarin die meeste verdien

71Daar is niemand onder julle wat nie daarnatoe sal kom nie. Dit is ’n onvermydelike gebod van u Heer

72En Ons sal diegene red wat teen kwaad waak; en die kwaad- doeners sal Ons op hulle knieë daarin verlaat

73En wanneer Ons duidelike tekens aan hulle voorgedra word, dan sê die ongelowiges aan hulle wat glo: Wie van die twee partye verkeer in die gunstigste posisie, en wie se samekomste is die grootste

74En hoeveel geslagte vóór hulle het Ons nie vernietig nie, geslagte wat méér besittings en aansien gehad het

75Sê: Die Barmhartige verleen uitstel aan hulle wat in dwaling verkeer, totdat hulle die bedreiging sal sien: óf die straf óf die Uur. Dan sal hulle weet wie se posisie die haglikste en wie se strydkragte die swakste is

76En Allah laat hulle wat bereid is om leiding te volg, in navolging toeneem. En dade wat sal bly staan ~ die goeie dade ~ sal by u Heer die grootste beloning kry en die meeste winste afwerp

77Het u hom gesien wat weier om in Ons tekens te glo, en wat sê: Aan my sal seker tog ook rykdom en kinders geskenk word

78Het hy toegang tot die Onsigbare gehad, of het hy ’n verbond met die Barmhartige aangegaan

79Geensins! Ons verwerp wat hy sê; en Ons sal die duur van die kastyding vir hom verder verleng

80en Ons sal van hom erf wat hy sê; en hy sal alleen tot Ons terugkeer

81En hulle het gode buiten Allah geneem, sodat dit ’n bron van mag vir hulle kon wees

82geensins! Hulle sal inteendeel ontken dat hulle aanbid is, en ook hulle teenstanders wees

83Merk u dan nie dat Ons die duiwels tussen hulle, aanhits om hulle op te sweep nie

84Wees daarom nie haastig teen hulle nie. Ons sal hulle slegs ’n bepaalde aantal dae uitstel verleen

85Die Dag waarop Ons die godvresendes tot die Barmhartige sal bymekaar bring om eerbewyse te ontvang

86sal Ons ook die skuldiges soos dorstige kuddes na die Hel aandryf

87Vir hulle sal daar geen bemiddeling wees nie, behalwe vir hom wat ’n verbond met die Barmhartige gesluit het

88En hulle sê: Die Barmhartige het vir Homself ’n seun geneem

89Voorwaar, julle maak bose bewerings

90Dis om die hemele vanmekaar te laat skeur en die aarde te kloof en die berge in stukkies te laat val

91omdat hulle ’n seun aan die Barmhartige kon toeken

92En dit is die Barmhartige onwaardig dat Hy vir Hom ’n seun sou neem

93En daar is niemand in die hemele en die aarde nie, of hy kom tot die Barmhartige as ’n dienaar

94Voorwaar, Hy ken hulle, en Hy het hulle almal getel

95En elkeen van hulle sal op die Dag van Opstanding na Hom kom, alleen

96Hulle wat glo en goeie dade doen ~ aan hulle sal die Barm- hartige voorwaar liefde betoon

97Daarom het Ons dit vir u tong maklik gemaak, sodat u daarmee ’n blye tyding kon bring aan almal wat teen die kwaad waak, en sodat u ’n twissieke volk kon waarsku

98En hoeveel geslagte vóór hulle het Ons nie vernietig nie! Kan u nog enigeen van hulle sien of ’n geluid van hulle hoor

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath