Islam
terug

18. Al-Kahf

1Alle lof kom Allah toe! Wat die Boek aan Sy dienaar geopenbaar het en geen valsheid daarin toegelaat het nie

2regleidend, om teen ’n strenge kastyding van Hom te waarsku; en aan die gelowiges, wat goeie werke doen, die blye tyding te bring dat hulle ’n uitnemende beloning sal ontvang

3waarin hulle vir ewig sal vetoef

4en om diegene te waarsku wat sê: Allah het ’n seun vir Hom verwek

5Hulle het geen kennis daarvan nie, en hulle vaders ewemin. Griewend is die woorde wat hulle monde voortbring. Wat hulle sê, is niks anders nie as ’n leuen

6Miskien sal u van droefheid wil beswyk, uit jammerte vir hulle, omdat hulle nie in hierdie aankondiging wil glo nie

7Voorwaar, Ons het alles wat op die aarde is, vir haar as ’n ornament gemaak, om te beproef wie van hulle se werke die beste is

8En wat daarop is, sal Ons stof maak, sonder gras

9Of dink u dat die metgeselle van die Spelonk en van die Inskrip- sie ook van Ons wonderlike tekens was

10Toe die jongelinge in die Spelonk herberg gesoek het, het hulle gesê: Ons Heer! Skenk ons u genade, en wys ons ’n regte weg aan in ons saak

11Daarom het Ons hulle vir ’n aantal jare in die Spelonk doofgemaak

12Daarna het Ons hulle weer opgewek, sodat Ons kon sien wie van die twee partye die beste rekenskap kan gee van die tyd wat hulle daarin vertoef het

13Ons vertel u hulle geskiedenis met waarheid. Voorwaar, hulle was jongelinge wat in hul Heer geglo het, en Ons het hulle in leiding laat toeneem

14En Ons het hulle harte versterk toe hulle opgestaan en gesê het: Ons Heer is die Heer van die hemele en die aarde; ons roep geen ander god buiten Hom aan nie, want as ons dít doen, sal ons gruwelike woorde moet uitspreek

15Hierdie volk van ons het gode buiten Hom aangeneem. Waar- om bring hulle geen duidelike bewyse omtrent hulle nie? Wie is meer onregverdig as hy wat ’n leuen teen Allah versin

16En daar is aan hulle gesê: Wanneer julle van hulle en dít wat hulle buiten Allah aanbid, afskeid neem, neem dan julle toevlug tot die Spelonk; julle Heer sal Sy barmhartigheid aan julle bewys en vir julle die saak gunstig laat besleg

17En u sal die son, wanneer dit opkom, effens aan die regterkant van hulle spelonk kan sien, en wanneer dit ondergaan, aan hul linkerkant. Daartussen, in die wye holte, was hulle tuiste. Dit is ’n teken van Allah; Hy wat deur Allah gelei word, is op die regte weg; maar vir hom wat Hy in dwaling laat, sal u geen vriend vind om hom reg te lei nie

18En u sou dink dat hulle wakker is, terwyl hulle in werklikheid geslaap het, en Ons hulle van links na regs gedraai het; terwyl hulle hond met uitgestrekte pote by die drumpel gelê het. En as u na hulle gekyk het, sou u vlugtend van hulle weggedraai het, en hulle sou u met vrees vervul het

19En Ons het hulle laat ontwaak sodat hulle mekaar kon onder- vra. ’n Spreker uit hulle midde het gesê: Hoe lank het u vertoef? Hulle het geantwoord: Ons het ’n dag of ’n gedeelte van ’n dag vertoef. Ander weer het gesê: Julle Heer weet goed hoe lank julle vertoef het. Stuur nou een van julle met hierdie silwermuntstuk na die stad en laat hy sien watter voedsel goed en wettig is, en vir julle lewensmiddele daarmee saambring, en laat hy homself vriendelik gedra, en julle saak aan niemand bekend maak nie

20Want as hulle die oorhand oor julle kry, sal hulle jul met klippe doodgooi, of julle na hulle godsdiens dwing, en dan sal julle nooit slaag nie

21En so het Ons die mense inligting omtrent hulle laat kry, sodat hulle kan weet dat die belofte van Allah waar is en dat daar geen twyfel omtrent die Uur bestaan nie. Toe hulle onder mekaar oor hulle eie saak geargumenteer en gesê het: Rig ’n gebou oor hulle op. Hul Heer weet wat die beste is. Diegene wat die oorhand behaal het, het gesê: Ons sal sekerlik ’n plek van aanbidding oor hulle bou

22Sommige sê: Daar was drie en die vierde was hulle hond; en andere sê: Vyf, die sesde was hulle hond; terwyl hulle slegs gis. En nog ander sê: Sewe, en die agste was hulle hond. Sê: My Heer ken hulle getal. Niemand ken hulle nie, behalwe enkeles. Argumenteer daarom nie oor hulle saak nie, behalwe met duidelike bewyse, en vra ook nie een van hulle om inligting nie

23En sê nie aangaandie iets: Ek sal dit môre doen nie

24sonder om daarby te sê: As dit Allah behaag. En wanneer u dit vergeet, dink dan aan u Heer en sê: Dit mag wees dat my Heer my nader as tans na die regte weg sal lei

25En hulle het driehonderdjaar in hulle Spelonk gebly, en nog nege

26Sê: Allah weet goed hoe lank hulle gebly het. Aan Hom behoort die geheime van die hemele en die aarde. Hoe duidelik kan Hy sien en hoor! Daar is geen voog vir hulle buiten Hom nie, en Hy laat niemand toe om aan Sy besluite deel te neem nie

27En verkondig dít wat van die Boek van u Heer aan u geopenbaar is. Daar is niemand wat Sy woorde kan verander nie. En u sal geen toevlug buiten Hom vind nie

28En uself moet vertoef met diegene wat hulle Heer soggens en saans aanroep, en wat verlang na Sy welbehae. En laat u oë nie van hulle afdwaal omdat u verlang na die prag en praal van die lewe van hierdie wêreld nie. En volg nie vir hom wie se hart Ons agteloos ten aansien van Ons gedagtenis gemaak het nie, aangesien hy sy slegte begeerte volg, en hy die vasgestelde perke oorskry

29En sê: Die Waarheid kom van julle Heer; laat dié wat wil, glo, en dié wat nie wil nie, ongelowig bly. Voorwaar, vir die kwaaddoeners het Ons ’n Vuur voorberei wat hulle sal insluit. En indien hulle om hulp vra, sal daar water soos gesmelte geelkoper vir hulle gegee word, wat hulle gesigte sal verbrand. Hoe verskriklik die drank! Hoe verskriklik die rusplek

30Wat diegene betref wat glo en goeddoen, voorwaar, Ons sal die beloning van hom wat goeddoen, nie verlore laat gaan nie

31Vir hulle is daar Tuine van Ewigheid waardeur riviere vloei; hulle sal daarin met armbande van goud getooi word, en hulle sal groen gewade van fyn sy en swaar brokaat dra, terwyl hulle hul op verhewe sofa’s daarin sal neervly. Hoe uitmuntend die beloning! Hoe uitstekend die rusplek

32En vertel aan hulle die gelykenis van die twee manne. Vir een van hulle het Ons twee tuine met wingerde gemaak, en Ons het dit met dadelpalms omhein, en tussen hulle het Ons koringvelde aangelê

33Hierdie tuine het albei vrugte voortgebring en het nie gebrek geken nie, en Ons het ’n rivier tussen hulle deur laat stroom

34En hy het vrugte gehad. Aan sy maat het hy gesê terwyl hy met hom geargumenteer het: Ek het meer rykdom as u, en my volgelinge is magtiger

35En hy het in sy tuin gegaan, terwyl hy onregverdig teenoor homself was, en gesê: Ek dink nie dat dít ooit sal vergaan nie

36en ek dink nie dat die Uur sal kom nie; en al word ek na my Heer teruggebring, sal ek sekerlik ’n beter oord as dít vind

37Sy maat het vir hom gesê terwyl hy met hom geredekawel het: Glo u nie in Hom wat u uit stof geskape het, daarna uit ’n sperm, en u toe ’n volmaakte mens gemaak het nie

38Maar wat my betref: Hy, Allah, is my Heer, en ek vereenselwig niemand met Hom nie

39En waarom het u nie gesê toe u die tuin binnegegaan het nie: Dit is soos dit Allah behaag het; daar is geen mag nie behalwe in Allah? As u my as u mindere in rykdom en kinders beskou

40sal my Heer my waarskynlik iets beter as u tuin gee, en op u s’n ’n afrekening uit die hemel afstuur, sodat dit stof sonder plante sal word

41of die water daarvan sal in die grond sink, sodat u nie in staat sal wees om dit weer te vind nie

42En sy vrugte is vernietig, en hy het sy hande begin wring weens alles wat hy aan die tuin bestee het, en omdat dit nou vewoes lê met ingestorte latwerk. En hy het gesê: Wee my! Het ek maar niemand met my Heer vereenselwig nie

43En hy het geen leërskaar gehad om hom teen Allah te help nie, nog minder kon hy homself verdedig

44Beskerming kom dus alleen van Allah, die Ware. Hy is die Beste beloner en die Beste betaler

45En hou die volgende voor as ’n gelykenis van hierdie wêreld: dit is soos water wat Ons uit die wolk afstuur sodat die gras op die aarde daardeur weelderig kan groei, en daarna word dit droog en breek op in stukkies wat die wind verstrooi. En die mag van Allah oorheers alle dinge

46Rykdom en kinders is sierade van die lewe van hierdie wêreld; maar die ewigdurende, die goeie werke, sal deur u Heer beter beloon word, en u sal op meer kan hoop

47En dink aan die Dag waarop Ons die berge sal versit, en u die aarde sal sien soos ’n uitgestrekte vlakte, en Ons hulle almal bymekaar sal maak en niemand sal laat agterbly nie

48En hulle sal in rye voor u Heer gebring word, en daar sal gesê word: Sekerlik het julle na Ons gekom soos Ons julle die eerste maal geskape het. Nee, julle het gedink dat Ons nie ’n afspraak met julle gemaak het nie

49En die boek sal voorgelê word: dan sal u die skuldiges sien vrees weens dít wat daarin staan, en hulle sal sê: Wee ons! Wat se boek is dit? Dit slaan nie klein of groot oor nie, maar dit som alles op. En hulle sal alles sien wat hulle gedoen het. En u Heer sal niemand onreg aandoen nie

50En toe Ons aan die engele gesê het: Prostreer voor Adam, het hulle geprostreer, behalwe Iblies. Hy was een van die djien, daarom dat hy die gebod van sy Heer oortree het. Sal julle hom en sy nageslag dan tot vriende neem en nie vir My nie, terwyl hulle julle vyande is? Boos is die ruil van die onregverdiges

51En Ek het julle nie as getuies van die skepping van die hemele en die aarde ingeroep nie, ook nie van julle eie skepping nie. Ook het Ek nie die misleiers as helpers gehad nie

52En eendag sal Hy sê: Roep diegene aan van wie julle gesê het dat hulle deelgenote van My is. Dan sal hulle hul aanroep maar geen antwoord ontvang nie, en Ons sal ’n skeiding tussen hulle maak

53En die skuldiges sal die Vuur raaksien, en hulle sal weet dat hulle enige oomblik daarin kan val; en hulle sal dit nie vryspring nie

54En waarlik, Ons het in hierdie Qur’ãn allerlei gelykenisse ver- meld, maar die mens is in baie dinge twissiek

55En niks belet die mense om te glo wanneer daar leiding tot hulle kom, en om hulle Heer om vergifnis te vra nie, behalwe dat hulle weet dat daar met hulle moet gebeur wat met die ou volke gebeur het, of dat hulle die straf in die gesig moet staar

56En Ons stuur nie boodskappers nie, behalwe as draers van blye tydings en as waarskuwers; en diegene wat nie glo nie worstel met valsheid om die Waarheid daardeur te verswak, en hulle dryf die spot met My tekens en die waarskuwinge

57En wie is onregvediger as hy wat herinner word aan die tekens van sy Heer, en dan sy rug daarop draai en vergeet wat sy hande vooruitgestuur het? Voorwaar, Ons het sluiers oor hulle harte gelê, sodat hulle dit nie kan verstaan nie, en doofheid in hulle ore. En al vermaan u hulle om te volg, hulle sal nooit gehoor gee nie

58Maar u Heer is Vergewensgesind, uiters Genadevol. Indien Hy hulle wou straf vir wat hulle verdien het, sou Hy ongetwyfeld die straf vir hulle verhaas het. Maar vir hulle is daar ’n vasgestelde tyd waaraan hulle nie sal ontkom nie

59En hierdie stede! Ons het hulle vernietig toe hulle onreg gedoen het. En Ons het ’n tyd vir hulle verdelging vasgestel

60En toe Moses aan sy dienaar gesê het: Ek sal nie ophou voordat ek die samevloeiing van die twee riviere bereik nie, anders sal ek jare voortgaan

61En toe hulle die samevloeiing van die twee riviere bereik het, het hulle hul vis vergeet, en dit het weer sy weg in die rivier gevind terwyl dit ’n kans daartoe gehad het

62Maar toe hulle verder gaan, het hy aan sy dienaar gesê: Bring vir ons ons oggendmaal. Waarlik, hierdie reis het ons vermoei

63Sy antwoord was: Toe ons ons skuiling by die rots gesoek het, het ek die vis vergeet, en niemand anders as die duiwel nie het my laat vergeet om daarvan te praat, en dit het sy weg in die rivier gevind; hoe wonderlik

64Hy het gesê: Dít is waarna ons gesoek het. Daarom het hulle op hulle spore teruggegaan

65Toe het hulle ’n dienaar van Ons gevind aan wie Ons barmhartig- heid bewys het, en wat Ons met kennis van Onsself onderwys het

66Moses het aan hom gesê: Mag ek u volg sodat u my onderwys kan gee in die goeie kennis waarin u reeds onderrig is

67Hy het geantwoord: U sal nie geduldig wees met my nie

68En hoe kan u geduldig wees in sake waarvan u geen behoorlike kennis het nie

69Hy het gesê: As dit Allah behaag, sal u my geduldig vind, en ek sal u bevele nie ongehoorsaam wees nie

70Hy het gesê: Nou goed, as u my wil volg, moet u my oor niks uitvra totdat ek self met u daaroor praat nie

71So het hulle dan vertrek, totdat hulle later in ’n boot geklim en hy ’n gat daarin gemaak het. Moses het gesê: Het u ’n gat daarin gemaak om die varendes te laat verdrink? Voorwaar, u het iets gruweliks aangerig

72Hy het geantwoord: Het ek u nie gesê dat u nie geduldig kan wees nie

73Sy antwoord was: Verwyt my nie omdat ek vergeet het nie, en wees nie hardvogtig oor wat ek gedoen het nie

74Hulle het toe verder gereis totdat hulle ’n seun teengekom en hy hom vermoor het. Moses het gesê: Het u ’n onskuldige gedood wat niemand kwaad aangedoen het nie? U het inderdaad ’n gruwelike daad begaan

75Hy het geantwoord: Het ek nie gesê dat u nie in staat is om saam met my geduldig te wees nie

76Hy het gesê: As ek u weer iets vra, moet u my nie langer in u geselskap hou nie. U sal rede daartoe hê

77So het hulle hul gang gegaan totdat hulle by die inwoners van ’n stad gekom het, waar hulle om kos gevra het. Maar die inwoners het geweier om gasvryheid aan hulle te betoon. Toe het hulle daar ’n muur gevind wat enige oomblik kon instort, en hy het dit weer herstel. Moses het gesê: As u wou, kon u ’n loon daarvoor gevra het

78Hy het gesê: Dít is die skeiding tussen u en my. Ek sal u nou die verklaring van die dade gee waaroor u ongeduldig was

79Wat die boot betref, dit het aan arm mense behoort wat op die rivier gewerk het, en dit was my voorneme om dit onbruikbaar te maak, want agter hulle was ’n koning wat op elke boot met geweld beslag gelê het

80En wat die seun betref, sy ouers was gelowiges en Ons het ge- vrees dat hy skande oor hulle sou bring deur sy opstandigheid en ongeloof

81Derhalwe het Ons gewens dat hulle Heer hulle in sy plek ’n beter seun moet skenk, een wat reiner en sagmoediger sal wees

82En wat die muur betref, dit het aan twee weesseuns in die stad behoort, en daaronder was skatte wat aan hulle behoort het, en hulle vader was ’n regverdige man. Daarom was dit hulle Heer se verlange dat hulle volwasse sou word en hulle skatte uit- grawe ~ ’n genade van u Heer ~ en dit alles het ek nie uit myself gedoen nie. Dít is die betekenis van dit waaroor u nie geduldig was nie

83En hulle vra u uit omtrent Zoel-Kornein. Sê: Ek sal julle sy verhaal meedeel

84Voorwaar, Ons het hom in die land gevestig en hom toegang tot alles verleen

85en hy het ’n weg gevolg

86totdat hy die verste punt bereik het in die rigting van die onder- gaande son, waar dit in die swart see ondergegaan het, en waar hy ’n volk gevind het. Ons het gesê: O Zoel-Kornein! Bestraf hulle, of behandel hulle met vriendelikheid

87Hy het gesê: Wat diegene betref wat kwaad doen, ons sal elkeen van hulle bestraf, dan sal hy na sy Heer terugkeer, en Hy sal hom met ’n streng kastyding straf

88En wat hom betref wat glo en goeddoen, hy sal ’n goeie belo- ning ontvang, en hy sal deur Ons gebod gemak ontvang

89Daarna het hy ’n ander weg ingeslaan

90totdat hy die land van die opkomende son bereik het, waar hy ontdek het dat dit oor ’n volk opkom aan wie Ons geen beskutting daarteen gegee het nie

91So was dit. En Ons het volledige kennis gehad van wat hy besit het

92Daarna het hy weer ’n ander weg ingeslaan

93totdat hy ’n plek tussen twee berge bereik het, aan die ander kant waarvan hy ’n volk aangetref het wat skaaars ’n woord kon verstaan

94Hulle het gesê: O Zoel-Kornein! Gog en Magog rig onheil aan in die land. Ons sal graag aan u eer bewys mits u ’n versperring tussen hulle en ons oprig

95En hy het geantwoord: Dít waarmee my Heer my beklee het, is beter as eerbewyse; help my, en ek sal ’n verskanste versperring tussen hulle en julle oprig

96Bring vir my blokke yster. Uiteindelik, toe hy die ruimte tussen die twee berge opgevul het, het hy gesê: Blaas; totdat hy dit soos ’n vuur laat lyk en hy gesê het: Bring vir my gesmelte geelkoper om daaroor te giet

97En hulle was nie in staat om daaroor te klim of om ’n gat daarin te maak nie

98Hy het gesê: Dit is ’n genade van my Heer, maar wanneer die belofte van my Heer vervul sal word, sal Hy dit laat instort; en die belofte van my Heer bly ewig waar

99En op daardie Dag sal Ons sommige van hulle teen andere in opstand laat kom, en die basuin sal geblaas word; dan sal Ons hulle almal bymekaarversamel

100En Ons sal die Hel op daardie Dag vir die ongelowiges oopstel

101hulle wie se oë gesluier was teen herinneringe aan My, en wat selfs nie kon hoor nie

102Dink hulle wat nie glo nie, dat hulle My dienaars as vriende buiten My kan neem? Voorwaar, Ons het die Hel as ’n onthaal vir die ongelowiges voorberei

103Sê: Sal Ons julle meedeel wie se werke die grootste verlies sal toon

104Dit is hulle wie se moeite in hierdie lewe tevergeefs was, maar wat nogtans dink dat hulle goeie dinge vervaardig het

105Dit is hulle wat nie in die tekens van hulle Heer en in die ontmoeting met Hom glo nie. Daarom sal hulle werke tevergeefs wees. En op die Dag van Herrysing sal Ons geen weegskaal vir hulle opstel nie

106Dít is hulle beloning ~ Hel, omdat hulle nie geglo het nie en met My tekens en My boodskappers die spot gedrywe het

107Voorwaar, hulle wat glo en goeie werke doen, vir hulle is die Tuine van die Paradys bestem. ’n Onthaal

108vir hulle om in te vertoef; en hulle sal nie begeer om daaruit weg te gaan nie

109Sê: Al was die oseaan ink vir die woorde van my Heer, sou dit uitgeput raak voordat die woorde van my Heer ten einde sou kom, selfs al sou Ons nog soveel daarby voeg

110Sê: Ek is maar ’n sterfling net soos julle, maar dit is aan my geopenbaar dat julle God slegs één God is. Laat hulle dan wat uitsien na die ontmoeting met hulle Heer, goeie dade doen en by die aanbidding niemand anders met Hom vereenselwig nie

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath