17. Al-Israa
1Heilig is Hy wat Sy dienaar by nag, van die Heilige Moskee1 vervoer het na die Verre Moskee,2 waarvan Ons die omgewing geseën het, sodat Ons aan hom Ons tekens kon wys! Voorwaar, Hy is die Allerhorende, die Allessiende
2En Ons het aan Moses die Boek gegee, en dit ’n leiding vir die Kinders van Israel gemaak, en gesê: Neem vir julle geen Voog buiten My nie
3O nageslag van diegene wat Ons saam met Noag in die Ark vervoer het! Hy was inderdaad ’n dankbare dienaar
4En Ons het aan die Kinders van Israel in die Boek bekend gemaak: Voorwaar, twee maal sal julle in die land onheil saai; en julle gedrag sal uitermate aanmatigend wees
5Toe die tyd dan ook vir die eerste van die twee bedreigings aangebreek het, het Ons Ons dienaars met ontsaglike toerus- ting teen julle laat opruk, sodat hulle julle huise verwoes het. En dit was ’n vervulde belofte
6Toe het Ons julle weer ’n kans teen hulle gegee, en Ons het julle met rykdom en kinders geseën en julle getalle aansienlik laat toeneem
7En Ons het gesê: Indien julle goeddoen, doen julle dit aan julself. En indien julle kwaaddoen, is dit aan julself. En toe die tweede waarskuwing gekom het, het Ons ’n ander volk teen julle uitgestuur, sodat hulle julle in die verdriet kon bring en sodat hulle weer die Moskee kon binnegaan soos hulle dit die eerste maal binnegegaan het; en sodat húlle wat hulle verower het, met volslae verwoesting kon vernietig
8Dit mag wees dat julle Heer aan julle genade sal betoon. En indien julle tot die kwaad terugkeer, sal Ons die straf laat terugkeer. En Ons het die Hel ’n tronk vir die ongelowiges gemaak
9Voorwaar, hierdie Qur’ãn lei tot opregte dade; en bring ’n blye tyding aan die gelowiges wat goeie werke doen, dat hulle ’n groot beloning sal ontvang
10en dat Ons vir hulle wat nie in die Hiernamaals glo nie, ’n smartlike straf voorberei het
11En die mens vra na die kwaad soos hy na die goeie behoort te vra; en die mens is altyd haastig
12En Ons het die nag en die dag as twee tekens gemaak; Ons laat die teken van die nag verdwyn en Ons maak die teken van die dag helder, sodat julle die oorvloed van julle Heer kan soek, en sodat julle daarmee die jare kan tel en die tyd bereken. En Ons het alles duidelik gemaak
13En Ons het die dade van elke mens aan sy nek laat vaskleef, en Ons sal op die Dag van Opstanding aan hom ’n boek toon wat hy wyd oop sal vind
14Lees u boek. U eie siel is hierdie dag voldoende as rekenaar teen uself
15Wie die regte weg volg, volg dit slegs vir sy eie heil; en wie dwaal, dwaal slegs tot sy eie nadeel; en niemand sal die las van ’n ander dra nie. En Ons straf nooit voordat Ons ’n boodskapper gestuur het nie
16En wanneer Ons voornemens is om ’n stad te verwoes, stuur Ons Ons gebooie na sy volk wat luilekker lewe; maar hulle oortree dit, daarom word die woord teen haar bewaarheid, en Ons verwoes haar geheel en al
17Hoeveel geslagte het Ons nie al ná Noag verdelg nie! En u Heer is voldoende Bewus, en sien die sonde van Sy dienaars
18Wie hierdie verganklike lewe verkies: Ons verhaas vir hom daarin wat Ons behaag, en aan wie Ons wil; daarna sal Ons die Hel aan hom toesê. Verneder en verworpe sal hy dit binnegaan
19En wie na die Hiernamaals verlang en daarna strewe soos hy behoort te streef, en gelowig is ~ dit is húlle wie se ywer toereikend beloon sal word
20Aan almal gee Ons hulp ~ hierdie sowel as daardie ~ uit die gawe van u Heer; en die gawe van u Heer is nie beperk nie
21Kyk hoe Ons sommige van hulle bo ander laat uitblink. En voorwaar, in die Hiernamaals is ’n rang met groter heerlikheid
22Vereenselwig geen ander god met Allah nie, anders sal u verag en verlate gaan sit
23En julle Heer het verorden dat julle niemand buiten Hom sal aanbid nie, en dat julle aan beide ouers sal goeddoen. En indien enigeen van die twee of albei ’n hoë ouderdom by julle bereik, sê dan nie vir hulle: Foei! nie; en moet hulle ook nie afjak nie, en spreek met hulle ’n welgevallige woord
24En laat sak vir hulle die vleuel van ootmoed en erbarming, en sê: My Heer! Ontferm U oor hulle, omdat hulle my opgevoed het toe ek jonk was
25Julle Heer weet wat in julle gedagte omgaan. Indien julle opreg is, dan is Hy voorwaar Vergewensgesind tenoor diegene wat hulself bekeer
26En gee aan die naasbestaandes, en die behoeftiges, en die reisigers, wat hulle toekom, en vermors nie op ’n spandabele wyse nie
27Voorwaar, die verkwisters is die duiwel se broers. En die duiwel is altyd ondankbaar teenoor sy Heer
28En indien u u van hulle af wegdraai om die genade van u Heer te soek waarop u hoop, spreek dan sagte woorde met hulle
29En bind nie u hand aan u nek vas nie, en strek dit ook nie tot die uiterste nie, anders sal u in selfverwyt en gebrek gaan sit
30Voorwaar, u Heer gee ’n ruim lewensonderhoud vir wie Hy wil, maar Hy beperk ook. Voorwaar, Hy is altyd Bewus, Siener van Sy dienaars
31En moenie julle kinders doodmaak uit vrees vir armoede nie ~ Ons is dié wat húlle sowel as julle van die nodige voorsien. Voorwaar, om hulle dood te maak is ’n groot sonde
32En bly ver weg van onwetlike geslagsgemeenskap: waarlik, dit is liederlik. En boos is dié weg
33En moenie ’n siel doodmaak nie, want Allah verbied dit, tensy dit vir ’n regverdige saak is. En wie onregverdig doodgemaak word, aan sy erfgenaam het Ons inderdaad gesag verleen ~ maar in die teregstelling moet hy nie buitensporig optree nie. Voorwaar, hy sal deur die wet gesteun word
34En raak die eiendom van die weeskind nie aan nie, behalwe tot sy voordeel, totdat hy mondigheid bereik. En vervul die belofte; voorwaar, na die belofte sal uitgevra word
35En gee ’n volle maat wanneer julle afmeet, en weeg af met ’n behoorlike skaal. Dít is billik, en uiteindelik ook beter
36En volg nie iets waarvan julle geen kennis het nie. Waarlik, die gehoor en die gesig en die hart, almal tesame, sal ondervra word
37En gaan nie op die aarde rond op ’n hoogmoedige manier nie, want u kan die aarde nie ooptrap nie, ook kan u die berge nie in hoogte oortref nie
38Die sonde van al hierdie dinge is afskuwelik in die oë van u Heer
39Dit is wysheid wat u Heer aan u geopenbaar het. En vereensel- wig geen ander god met Allah nie, anders sal u in die Hel gewerp word, beskuldigd en verworpe
40Het julle Heer dan verkies om vir julle seuns te gee, en dogters vir Homself uit die engele geneem? Voorwaar, julle spreek ’n griewende woord
41En waarlik, in hierdie Qur’ãn het Ons herhaaldelik waarsku- wings verduidelik sodat hulle kan nadink; maar dit vererger hulle net
42Sê: As daar afgode saam met Hom is, soos hulle beweer, dan sou hulle tog sekerlik in staat gewees het om ’n weg na die Heer van die Troon te vind
43Heilig is Hy! En hoog verhewe is Hy bo wat hulle sê
44Die sewe hemele en die aarde en dít wat daarin is, loof en prys Hom. En daar is niks wat Hom nie loof met die lof wat Hom toekom nie, maar julle begryp nie hulle lof nie. Voorwaar, Hy is Verdraagsaam, Vergewensgesind
45En wanneer u die Qur’ãn voorlees, plaas Ons ’n verborge sluier tussen u en diegene wat nie in die Hiernamaals glo nie
46en Ons plaas bedekkings oor hulle harte en ’n doofheid in hulle ore, sodat hulle dit nie kan begryp nie. En wanneer u in die Qur’ãn u Heer ~ Die Enige ~ noem, keer hulle u in afkeur die rug toe
47Ons weet goed waarna hulle luister wanneer hulle u aanhoor, en wanneer hulle in die geheim beraadslaag, en wanneer die kwaaddoeners sê: U volg slegs ’n man sonder verstand
48Kyk waarmee vergelyk hulle u! So het hulle verdwaal geraak, en hulle kan die weg nie meer vind nie
49En hulle sê: Wanneer ons tot beendere en stof vergaan het, sal ons weer soos ’n nuwe skepping opgewek word
50Sê: Wees klippe of yster
51of enige ander skepsel wat volgens julle te hard is om lewendig te word. Maar hulle sal sê: Wie sal ons dan laat herlewe? Sê: Hý wat julle die eerste maal geskape het. Tog sal hulle hulle hoofde teen u skud en sê: Wanneer sal dit geskied? Sê: Waarskynlik is dit naby
52Die Dag wanneer Hy julle te voorskyn sal roep, sal julle Hom gehoorsaam wees en Hom loof, en julle sal dink dat julle slegs ’n rukkie vertoef het
53En sê aan My dienaars dat hulle moet praat wat welgevallig is. Voorwaar, die duiwel saai onenigheid tussen hulle. Die duiwel is sekerlik ’n openlike vyand van die mens
54Julle Heer ken julle die beste. Indien dit Hom behaag, sal Hy aan julle genade betoon; of, as dit Hom behaag, sal Hy julle straf oplê. En Ons het u nie as voog oor hulle gestuur nie
55En u Heer weet goed wie in die hemele en op die aarde is. En Ons het waarlik sommige profete bó ander laat uitmunt, en aan Dawid het Ons die Zaboer3 geopenbaar
56Sê: Roep diegene aan wat julle aan Hom gelykstel; hulle het geen mag om kwellings van julle te verwyder nie, ook nie om dit te verander nie
57Diegene wat hulle aanroep, soek self ’n toegangsmiddel tot hul Heer ~ wie van hulle ook al die naaste is ~ en hulle hoop op Sy barmhartigheid en vrees Sy straf. Voorwaar, die straf van u Heer is iets om van weg te bly
58En daar is nie ’n stad nie, of Ons sal dit vóór die Dag van Opstanding vernietig of met ’n kwaai kastyding bestraf. Dít staan in die Boek geskryf
59En niks het Ons verhinder om tekens te stuur nie, behalwe dat die vroeëre volke dit verwerp het. En Ons het aan Thamoed die kamelin gegee, ’n duidelike teken, maar hulle het haar kwaad aangedoen; en Ons stuur net tekens om te waarsku
60En Ons het aan u gesê: Voorwaar, u Heer omring al die mense. En Ons het nie die visioen wat Ons u getoon het, vir iets anders laat verskyn nie, as ’n beproewing vir die mense; en net so die vervloekte boom in die Qur’ãn. En Ons waarsku hulle, maar dit laat hulle slegs meer in oortreding toeneem
61En toe Ons aan die engele gesê het: Prostreer voor Adam! het almal prostreer, behalwe Iblies. Hy het gesê: Sal ek prostreer voor hom wat U uit stof geskape het
62Hy het verder gesê: Sien U? Dit is hý vir wie U bo my geëer het! Indien U my uitstel tot die Dag van Opstanding verleen, sal ek sekerlik sy nageslag mislei, behalwe ’n paar
63Hy het gesê: Gaan weg! En wie van hulle u ook al volg, die Hel sal sekerlik julle vergelding wees, en ’n volle beloning
64En bekoor wie u kan met u stem, en versamel teen hulle u ruitery en u voetsoldate, en wees hulle en hulle kinders se deelgenoot in weelde, en belowe hulle baie. En die duiwel se beloftes is slegs om mee te bedrieg
65My dienaars ~ oor húlle het u voorwaar geen gesag nie. En u Heer is voldoende as Beskermer
66Dit is u Heer wat die skepe vir julle oor die see laat vaar, sodat julle van Sy voordeel mag soek. Voorwaar, Hy is altyd Genade- vol
67En indien kwellinge julle op see oorval, verdwyn diegene wat julle buiten Hom aanroep; maar wanneer Hy julle veilig aan wal bring, draai julle weg. En die mens is altyd ondankbaar
68Voel julle dan seker dat Hy julle nie op land sal verneder, of ’n sterk wind oor julle sal afstuur nie? Dán sal julle nie ’n beskermer kan vind nie
69of voel julle gerus dat Hy julle nie op ’n ander geleentheid sal besoek, en dan ’n vreeslike stormwind oor julle sal afstuur, en julle só oorstelp, weens julle ondankbaarheid nie? Dan sal julle geen helper teen Ons in dié saak vind nie
70En voorwaar, Ons het die Kinders van Adam geëer en Ons vervoer hulle oor die land en die see, en Ons voorsien hulle van goeie dinge, en Ons laat hulle uitmunt bo die meeste van diegene wat Ons geskape het
71Op die Dag wanneer Ons elke volk met hulle leier sal oproep: aan wie hulle boeke in die regterhand gegee word, hulle sal hulle boeke lees, en hulle sal nie die minste onreg aangedoen word nie
72En wie blind is in hierdie wêreld, sal blind wees in die Hiernamaals; hy het ver van die regte pad afgedwaal
73En sekerlik het hulle probeer om u weg te kry van wat Ons aan u geopenbaar het, sodat u teen Ons iets moes versin; dan sou hulle u tot vriend geneem het
74En as Ons u nie versterk het nie, sou u inderdaad tot hulle geneig gewees het
75dan sou Ons u ’n dubbele straf in hierdie lewe en ’n dubbele straf ná die dood laat verduur het; en dan sou u teen Ons geen helper gevind het nie
76En waarlik, hulle het probeer om u te verskrik sodat hulle u van die land kon verdryf; maar dan sou hulle ná u vertrek tog maar ’n kort tydjie daarin vertoef het
77Dit is Ons weg met Ons boodskappers wat Ons vóór u gestuur het, en u sal geen verandering in Ons weg vind nie
78Onderhou die gebed gereeld, vanaf middag tot die donker van die nag, en dra die Qur’ãn voor met die daeraad. Voorwaar, die voordra van die Qur’ãn met die daeraad, word opgemerk
79En bly wakker daarby gedurende ’n gedeelte van die nag, buiten dít waartoe u verplig is; dit mag wees dat u Heer u tot ’n hoë rang sal verhef
80En sê: O my Heer! Laat my intrede ’n goeie intrede wees, en laat my uitgang ’n goeie uitgang wees, en skenk my van U gesag om my te help
81En sê: Die Waarheid het gekom en die valsheid het verdwyn. Voorwaar, die valsheid sal sekerlik verdwyn
82En van die Qur’ãn openbaar Ons dít wat ’n genesing en ’n genade vir die gelowiges is, maar dit vererger slegs die oordeel van die kwaaddoeners
83En wanneer Ons aan die mens gunste bewys, draai hy hom weg en gedra hom hoogmoedig; en wanneer die kwaad hom kwel, word hy wanhopig
84Sê: Elkeen gaan te werk op sy eie manier, maar julle Heer weet goed wie op die regte pad die beste gelei is
85En hulle stel u vrae omtrent die openbaring. Sê: Die openbaring geskied op die bevel van my Heer, en daarvan word aan julle maar min kennis gegee
86En as Ons wou, kon Ons sekerlik van u wegneem wat Ons aan u geopenbaar het, dan sal u niemand vind om u saak teen Ons te bepleit nie
87maar dit is ’n genade van u Heer. Voorwaar, Sy goedheid jeëns u is oorvloedig
88Sê: Indien die mens en djien sou saamspan om die gelyke van hierdie Qur’ãn voort te bring, sal hulle nie daarin slaag nie, ofskoon sommige van hulle helpers van ander was
89En voorwaar, Ons het dit aan die mens in die Qur’ãn op alle moontlike maniere verduidelik, maar die meeste mense toon slegs ondankbaarheid
90En hulle sê: Ons sal geensins in u glo nie, tensy u vir ons ’n bron uit die aarde kan laat ontspring
91of tensy u ’n tuin met dadelpalms en druiwe besit, wat u oorvloediglik uit riviere kan benat
92of tensy u die hemel in stukke op ons kan laat neerval, soos u blykbaar dink; of tensy u Allah en die engele van aangesig tot aangesig aan ons kan toon
93of tensy u ’n huis van goud het; of tensy u na die hemel opvaar: En ons sal nie in u hemelvaart glo nie tensy u ’n boek vir ons neerstuur waarin ons kan lees. Sê: Heilig is my Heer! Is ek iets anders as ’n menslike boodkskapper
94En niks het die mense belet om te glo toe die leiding na hulle gekom het nie, behalwe dat hulle sê: Het Allah ’n méns as boodskapper gestuur
95Sê: As daar op die aarde engele in veiligheid rondgedwaal het, sou Ons uit die hemel ’n engel as boodskapper na hulle gestuur het
96Sê: Voldoende is Allah as getuie tussen julle en my. Voorwaar, Hy is ewig Bewus, en Hy sien Sy dienaars
97En hy wat deur Allah gelei word, is op die regte pad; en dié wat Hy laat dwaal, vir hulle sal u geen voogde buiten Hom vind nie. En Ons sal hulle op die Dag van Opstanding op hulle aangesigte bymekaar bring; doof, stom en blind. Hulle tuiste is die Hel. Telkemale as die vuur afneem, sal Ons die vlam vir hulle aanstook
98Dít is hulle vergelding omdat hulle nie in Ons tekens glo nie, en gesê het: Sal ons weer in ’n nuwe skepping opgewek word wanneer ons beendere en stof geword het
99Sien hulle nie dat Allah, wat die hemele en die aarde geskape het, in staat is om hulle ewebeeld te skep nie? Hy het vir hulle ’n termyn vasgestel waaromtrent daar geen twyfel bestaan nie. Dog die kwaaddoeners toon slegs ondankbaarheid
100Sê: Indien julle die skatte van barmhartigheid van my Heer beheer, sou julle dit nogtans terughou uit vrees dat dit sou opraak. En die mens is altyd suinig
101En waarlik, Ons het Moses nege duidelike tekens gegee; vra gerus die Kinders van Israel daarna. Toe hy by hulle kom, het Farao aan hom gesê: Moses, ek dink dat u waarlik getoor is
102Hy het gesê: Voorwaar, u weet dat niemand anders nie as die Heer van die hemele en die aarde hierdie dinge as duidelike bewyse gestuur het; en ek glo, o Farao, dat u verlore is
103Aldus was hy voornemens om hulle uit die land te verwyder, maar Ons het hom en diegene wat by hom was, almal saam laat verdrink
104En Ons het aan die Kinders van Israel ná hom gesê: Woon in die land; maar toe die laaste belofte vervul was, het Ons julle almal opgerol
105En met waarheid het Ons dit geopenbaar, en met waarheid het dit gekom. En Ons het u slegs as ’n draer van blye tydings en as ’n waarskuwer gestuur
106En Ons het die Qur’ãn opverdeel, sodat u dit stuksgewys aan die volk kan voorlees; Ons het dit in stadia geopenbaar
107Sê: Glo daarin, of verwerp dit. Diegene aan wie reeds voorheen kennis daarvan geskenk is, val op hulle aangesig neer wanneer dit aan hulle voorgelees word
108en hulle sê: Lof en eer aan ons Heer! Die belofte van ons Heer sal sekerlik vervul word
109En wenend val hulle op die aangesig neer; en dit vermeerder hulle nederigheid
110Sê: Roep Allah aan of roep die Barmhartige aan. By welke naam julle Hom ook aanroep, Hy het die beste name. En sê julle gebed nie te hard en ook nie te sag nie, maar soek ’n middeweg
111En sê: Alle lof kom Allah toe, wat geen seun vir Homself geneem het nie, en wat geen deelgenoot in die Koninkryk het nie; nóg het Hy ’n helper weens swakheid; en verkondig Sy allesoortreffende grootheid
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath