16. An-Nahl
1Die gebod van Allah sal geskied; probeer dus nie om dit te verhaas nie. Heilig is Hy, en hoog verhewe is Hy bo alles wat hulle met Hom vereenselwig
2Hy stuur deur Sy gebod engele met openbaringe na wie van Sy dienaars Hy verkies, en sê: Waarsku dat daar geen god is nie, behalwe Ek; so vrees My
3Hý het die hemele en die aarde in waarheid geskape. Hoog verhewe is Hy bo alles wat hulle met Hom vereenselwig
4Hy het die mens van ’n sperm geskape, maar kyk! dié is ’n openlike teenstaander
5En ook die vee het Hy vir julle geskape. Hulle verskaf warm klere aan julle, en ook ander voordele, en hulle is daar om van te eet
6En hulle is mooi om na te kyk wanneer julle hulle saans huis toe dryf, en wanneer julle hulle soggens uitjaag om te wei
7En hulle vervoer julle swaar laste na streke wat julle nie sonder baie moeite kan bereik nie. Voorwaar, julle Heer is Barmhartig, Genadevol
8En perde en muile en esels het Hy geskape, sodat julle op hulle kan ry, en ook as vertoonstukke vir julle. En Hy het ook dinge geskape waarvan julle nie weet nie
9En dit is Allah se plig om julle die regte weg aan te wys, want daar is sommige afwykende weë. As Hy wil, sal Hy julle almal reg lei
10Dit is Hy wat die water uit die wolke vir julle afstuur; dit verskaf drank, en daardeur groei die bome waarvan julle voedsel verkry
11Daardeur laat Hy die gesaaides vir julle groei, en die olywe, en die dadelpalms, en die druiwe en al die ander vrugte. Daarin is waarlik ’n teken vir ’n volk wat nadink
12En Hy het vir julle die nag en die dag en die son en die maan in diens gestel. En ook die sterre word aan julle diensbaar gemaak. Voorwaar, hierin is tekens vir ’n volk wat verstaan
13En wat Hy op die aarde vir julle geskape het, is van verskillende kleure. Voorwaar, hierin is ’n teken vir ’n volk wat onthou
14En dit is Hy wat die see tot julle beskikking gestel het, sodat julle van die vangste daaruit kan eet, en die ornamente wat julle dra daaruit kan haal. En julle sien die skepe daaroor vaar, sodat julle van Sy volheid kan vra, en sodat julle dankbaar kan wees
15En Hy het ferm berge op die aarde geplaas sodat dit nie saam met julle sal wankel nie, en riviere en paaie sodat julle die regte weg kan inslaan
16En vir hierdie doel is daar ook landmerke. En met behulp van die sterre vind hulle die regte rigting
17Is Hy wat kan skep dan soos hy wat nié kan skep nie? Sal julle dan nie onthou nie
18En as julle Allah se gunste wil tel, sal julle vind dat dit onmoontlik is. Voorwaar, Allah is Vergewensgesind, Genadevol
19En Allah weet wat julle verberg en wat julle bekend maak
20En diegene wat hulle buiten Allah aanroep, het niks geskape nie, terwyl hulle self geskape is
21Dood is hulle, nie lewendig nie. En hulle weet nie wanneer hulle opgewek sal word nie
22Julle God is één God. En diegene wat nie in die Hiernamaals glo nie se harte weier om dit te erken, en hulle is hoogmoedig
23Allah weet ongetwyfeld wat hulle verberg en wat hulle bekend maak. Voorwaar, Hy het die hoogmoediges nie lief nie
24En wanneer aan hulle gevra word: Wat is dit wat julle Heer geopenbaar het? sê hulle: Fabels oor die ou volkere
25Dat hulle op die Dag van Opstanding hulle laste ten volle mag dra, en ook die laste van diegene wat hulle deur onkunde mislei het. Kyk! Boos is dít wat hulle dra
26Diegene vóór hulle het planne beraam, maar Allah het hulle gebou tot op die fondamente vernietig, sodat die dak van bo af op hulle geval, en die straf tot hulle gekom het, uit ’n rigting wat hulle geen idee van het nie
27En Hy sal op die Opstandingsdag skande oor hulle bring, en sê: Waar is My deelgenote ter wille van wie julle wederstrewig geword het? Dan sal hulle wat kennis dra, sê: Skande en kwaad sal waarlik vandag oor die ongelowiges kom
28oor húlle vir wie die engele laat sterf het terwyl hulle hul siele onreg aangedoen het. Dan sal hulle onderdanig wees en sê: Ons het geen kwaad gedoen nie. Nee! Allah weet wat julle gedoen het
29Gaan daarom deur die deure van die Hel, en bly daarin. Boos inderdaad is die woonplek van die hoogmoediges
30En daar sal aan hulle wat teen die kwaad waak, gesê word: Wat het julle Heer geopenbaar? Dan sal hulle sê: Die beste. Op hulle wat goed doen in hierdie wêreld, wag daar goed. En die tuiste van die Hiernamaals sal vir hulle aangenaam wees. En die tuiste van húlle wat godvresend is, is uitmuntend
31Tuine van Ewigheid waardeur riviere vloei, sal hulle binnegaan; daarin sal hulle ontvang wat hulle verlang. Só beloon Allah diegene wat godvresend is
32húlle vir wie die engele laat sterf terwyl hulle rein is, en sê: Vrede vir julle! Gaan die Hemel binne as beloning vir wat julle gedoen het
33Wag hulle1 dan net dat die engele na hulle moet kom, of dat die gebod van u Heer moet geskied? So het die mense vóór hulle ook gedoen. En Allah het hulle geen onreg aangedoen nie, maar hulle het aan hulself onreg aangedoen
34So het die kwaad wat hulle gedoen het, hulle oorval, en dít wat hulle bespot het, het hulle omring
35En die heidene sê: As Allah dit wou, sou ons niemand buiten Hom gedien het nie, en so sou ook ons vaders gedoen het; ook sou ons niks sonder Sy toestemming verbied het nie. So het mense vóór hulle ook gedoen. Maar is die boodskappers dan vir iets anders verantwoordelik as slegs vir die duidelike aflewering van ’n boodskap
36En waarlik, onder elke volk het Ons ’n boodskapper verwek wat moet sê: Dien Allah, en vermy die duiwel. En daar was sommige wat deur Allah gelei is, maar ook sommige van wie gesê kon word dat hulle verdien het om te dwaal. Reis daarom deur die land en sien wat was die einde van die leuenaars
37As u reken dat ook húlle reg gelei moet word, weet dan dat Allah nie diegene lei wat Hy laat dwaal het nie, en dat daar vir hulle ook geen helpers sal wees nie
38En hulle sweer hul sterkste eed dat Allah die dooies nie sal opwek nie. Maar waarlik, dit is vir Allah ’n bindende belofte, hoewel die meeste mense dit nie weet nie
39sodat Hy vir hulle kan duidelik maak waaroor hulle verskil, en sodat die ongelowiges kan weet dat hulle leuenaars is
40Wanneer Ons iets bestem, sê Ons slegs: Wees! en dit is
41En hulle wat ter wille van Allah moes emigreer omdat hulle onderdruk is, aan hulle sal Ons ’n goeie verblyf in hierdie wêreld gee, en die beloning in die Hiernamaals sal vir hulle nog groter wees. Het hulle dit maar geweet
42Hulle wat geduldig is en hulle vertroue in hul Heer stel
43En Ons het vóór u niemand anders gestuur nie as manne aan wie Ons eers ’n openbaring gestuur het ~ vra gerus vir die volgelinge van die Vermaning, indien julle nie weet nie
44en met duidelike tekens en Geskrifte. En Ons het die Vermaning aan u geopenbaar sodat u aan die mense kan verduidelik wat aan hulle geopenbaar is, sodat hulle mag nadink
45Is húlle wat bose planne beraam, dan só veilig dat Allah hulle nie op die aarde sal verneder nie, of dat die straf hulle nie sal oorval van waar hulle dit nie vermoed nie
46Of dat Hy hulle in hul bedrywighede nie eendag skielik sal vasvat nie, en hulle dan nie kan ontsnap nie
47Of dat Hy hulle stukkie vir stukkie sal aftakel, en hulle so vernietig nie? Julle Heer is inderdaad Barmhartig, Genadevol
48Sien hulle dan nie elke ding wat Allah geskape het nie? Hul skaduwees draai van regs na links, en prostreer hulself voor Allah, terwyl hulle heeltemal nederig is
49En elke lewende skepsel wat in die hemele of op die aarde is, is onderdanig aan Allah; en so ook die engele, en húlle is nie hoogmoedig nie
50Hulle vrees hulle Heer bo hulle, en doen wat hulle beveel word
51En Allah het gesê: Neem nie twee gode nie. Daar is slegs Een God. Vrees daarom My alleen
52En aan Hom behoort wat in die hemele en op die aarde is, en gehoorsaamheid kom Hom altyd toe. Sal julle dan iets buiten Allah vrees
53En watter seëninge julle ook ontvang, dit kom van Allah. En wanneer ’n kwelling julle laat huiwer, dan roep julle na Hom om hulp
54Wanneer Hy julle van die kwelling verlos, kyk! dan vereenselwig sommige van julle andere met jul Heer
55en hulle ontken wat Ons aan hulle gegee het. Onthaal julself dan, want julle sal weldra te wete kom
56En ’n gedeelte van die lewensonderhoud waarvan Ons hulle voorsien, sit hulle opsy vir afgode waarvan hulle niks weet nie. By Allah! Julle sal sekerlik ondervra word oor alles wat julle versin het
57En hulle skryf dogters aan Allah toe ~ heilig is Hy! ~ en vir hulleself net wat hulle begeer
58En wanneer die geboorte van ’n dogter aan een van hulle bekend gemaak word, dan word sy gesig swart en is hy vol toorn
59Hy verberg homself vir die volk, vanweë die slegte nuus. Sal hy haar in weerwil van skande behou, of sal hy haar lewendig begrawe? Voorwaar, boos is dít waarop hulle besluit
60Vir hulle wat nie in die Hiernamaals glo nie, is daar slegte kentekens, terwyl die kentekens van Allah die allerbeste is. En Hy is die Alrmagtige, die Allerwyse
61En as Allah die mense vir hul ongeregtigheid moet straf, sal Hy niemand kan laat oorbly nie; maar Hy verleen aan hulle uitstel vir ’n vasgestelde tyd. Wanneer die tyd dan aanbreek, kan hulle dit selfs nie ’n uur lank uitstel nie, nóg kan hulle dit vervroeg
62En hulle skryf aan Allah toe wat hulle vir hulself nie begeer nie, en hul tonge spreek die leuen dat die beste vir húlle bedoel is. Sekerlik is die Vuur vir hulle bedoel, en hulle sal daarin verlate wees
63By Allah! Ons het inderdaad boodskappers na die volkere vóór u gestuur, maar die duiwel het hulle eie dade vir hul aantreklik gemaak. Daarom is hy vandag hul beskermheer en wag daar op hulle ’n smartlike straf
64En om geen ander rede het Ons die Boek aan u geopenbaar nie, as dat u aan hulle kan verduidelik waaroor hulle verskil, en as ’n leiding vir ’n volk wat glo
65En Allah stuur water van bo, en gee daardeur lewe aan die aarde ná sy gesterwe het. Voorwaar, hierin is ’n teken vir ’n volk wat luister
66En die vee hou vir julle waarlik ’n les in: Ons gee vir julle om te drink van wat in hulle buik is ~ van dít wat tussen die uit- werpsels en die bloed is ~ suiwer melk, smaaklik vir die drinkers
67En van die vrugte van die dadelpalms en druiwe verkry julle sterk drank en goeie voedsel. Daar is sekerlik ’n teken hierin vir ’n volk wat sake oorweeg
68En u Heer het aan die by geopenbaar en gesê: Maak neste in die berge en in die bome, en in wat hulle bou
69Eet dan van al die vrugte, en volg onderdanig in die weë van u Heer. Daar kom uit hulle buik ’n drinkstof voort in verskillende kleure, waarin daar genesing vir die mens is. Alte seker is daar ’n teken hierin vir ’n volk wat bepeins
70En Allah skep julle, dan laat hy julle sterf; en daar is sommige van julle wat ’n hoë ouderdom bereik, sodat hy niks meer weet nie, hoewel hy voorheen kennis gehad het. Voorwaar, Allah is Alleswetend, Allermagtig
71En Allah het aan sommige van julle groter rykdom gegee as aan ander. Maar hulle aan wie Hy meer gegee het, gee nie van hulle besittings aan diegene wat hul regterhand besit, sodat hulle gelyk kan wees nie. Sal hulle dan die guns van Allah verloën
72En Allah het uit julleself eggenote vir julle gemaak, en deur húlle seuns en dogters aan julle gegee, en julle van goeie dinge voorsien. Sal hulle dan in valse dinge glo en die guns van Allah verloën
73En hulle aanbid buiten Allah dít wat vir hulle geen lewens- onderhoud, van die hemel of van die aarde, kan bewerk nie; ook besit hulle geen mag nie
74Maak daarom geen vergelykenis met Allah nie. Voorwaar, Allah weet, en julle weet nie
75Allah self vertel hierdie verhaal: Daar is ’n slaaf wat aan iemand behoort en geen gesag uitoefen nie, en daar is iemand aan wie Ons ’n groot lewensonderhoud geskenk het, sodat hy daarvan, heimlik of openlik, kan bestee. Is dié twee gelyk? Alle lof kom Allah toe! Nee, die meeste van hulle is onkundig
76En Allah verduidelik deur die verhaal van die twee mans: Een is stom, oefen geen gesag uit oor enigiets nie, en is ’n las vir sy meester. Waarheen hy hom ook al stuur, hy bring niks goeds terug nie. Kan hy dan die gelyke wees van hom wat geregtigheid voorstaan, en wat op die regte pad wandel
77En aan Allah behoort die Onsigbare dinge van die hemele en die aarde. En die Uur sal kom soos ’n oogwink, en die koms daarvan is naby. Voorwaar, Allah het mag oor alle dinge
78En Allah het julle voortgebring uit die baarmoeders van julle moeders, terwyl julle niks geweet het nie; en Hy het aan julle gehoor en gesig, asook harte, gegee sodat julle dankbaar kan wees
79Sien julle nie hoedat die voëls in die gewelf van die hemel in onderdanigheid gehou word nie? Niemand hou hulle teë nie, behalwe Allah. Voorwaar, daar is ’n teken hierin vir ’n volk wat glo
80En Allah het van julle huise ’n rusplek vir julle gemaak, en ook van die huide van julle vee vir julle woonplekke gemaak wat lig is om rond te dra gedurende die tyd wanneer julle reis, en ook wanneer julle rus; en Hy gee aan julle van hulle wol en hulle pelse en hulle hare, huishoudelike stowwe, en ’n voorsiening vir ’n tyd
81En uit wat Allah geskape het, het Hy vir julle skuiling gemaak, en Hy het vir julle skuilplekke in die berge gemaak; en Hy het vir julle klere gegee om julle teen hitte te beskerm, en pantsers as ’n beskerming in tye van oorlog. So vervolmaak Hy Sy gunste aan julle, sodat julle onderdanig kan wees
82Maar indien hulle hulself wegdraai, dan is u slegs verant- woordelik vir die duidelike aflewering van die boodskap
83Hulle herken die guns van Allah, en tog verloën hulle dit; en die meeste van hulle is ondankbaar
84En op die Dag wanneer Ons ’n getuie uit elke volk sal opwek, sal toestemming om hulself te verontskuldig nie aan die onge- lowiges toegestaan word nie, ook sal hulle nie toegelaat word om vir hul ongeregtighede te vergoed nie
85En wanneer die kwaaddoeners die straf ’n werklikheid sien word, sal dit vir hulle nie verlig word nie, en aan hulle sal ook nie uitstel verleen word nie
86En wanneer hulle wat deelgenote aan Allah toegeskryf het, hulle afgode sien, sal hulle sê: Ons Heer! Hier is ons afgode wat ons buiten U aanbid het. Maar hulle sal aan hulleself sê: Julle was voorwaar leuenaars
87En op daardie Dag sal hulle onderdanig wees aan Allah; en wat hulle versin het, sal hulle in die steek laat
88Hulle wat nie glo nie en ander van die weg van Allah afhou ~ Ons sal nog meer straf by hulle straf voeg, omdat hulle onheil gesaai het
89En dink aan die dag wanneer Ons onder elke volk ’n getuie teen hulle uit hul midde sal opwek, en u2 as getuie teen hulle sal inroep. En Ons het die Boek wat alle dinge verduidelik, aan u geopenbaar as leiding en genade, as goeie nuus vir diegene wat hulle oorgegee het
90Voorwaar, Allah gelas geregtigheid, en om goed te doen aan ander, en om aan naasbestaandes te gee wat hulle nodig het; en Hy verbied onbetaamlikheid en boosheid en opstandigheid. Hy vermaan julle sodat julle na kan dink
91En kom die verbond met Allah na wanneer julle ’n verbond sluit, en breek nie die eed ná dit bekragtig is nie, terwyl julle Allah tot julle Borg gemaak het. Voorwaar, Allah weet wat julle doen
92En wees nie soos sy wat haar gare uitrafel en dit stukkend skeur nadat sy dit stewig geweef het nie. Julle maak ’n eed as ’n middel tot bedrog tussen julle, omdat een volk talryker is as ’n ander. Allah beproef julle slegs hiermee. En op die Dag van Opstanding sal Hy dít waaroor julle verskil het, sekerlik duidelik maak
93En as Allah wou, sou Hy van julle ’n enkele volk gemaak het, maar Hy laat in dwaling verkeer wie Hy wil. En julle sal sekerlik ondervra word aangaande julle doen en late
94En moenie julle ede ’n middel tot bedrog tussen julle maak nie, anders kan ’n voet dalk glip nadat dit stewig was, en sal julle slegte gevolge moet dra omdat julle ander van die weg van Allah afgehou het; en dan sal daar ’n swaar straf vir julle wees
95En moenie Allah se verbond vir ’n geringe prys verkoop nie. Wat by Allah is, is voorwaar beter vir julle; het julle dit maar geweet
96Wat julle het, sal verbygaan, maar wat by Allah is, is ewig. En Ons sal diegene wat volhard, waarlik hulle beloning gee vir al die goeie dinge wat hulle gedoen het
97Wie ook al goeie dade verrig, hetsy man of vrou, en ’n gelowige is, Ons sal hom sekerlik ’n goeie lewe laat lei; en waarlik, Ons sal hulle beloon vir hul beste dade
98En wanneer julle die Qur’ãn voordra, soek dan julle toevlug tot Allah teen die vervloekte duiwel
99Voorwaar, hy het geen gesag oor diegene wat glo en hul vertroue in hulle Heer stel nie
100Sy gesag heers alleen oor diegene wat vriendskapsbande met hom aanknoop, en wat ander dinge met Allah vereenselwig
101En wanneer Ons een boodskap deur ’n ander boodskap vervang ~ en Allah weet die beste wat om te openbaar ~ dan sê hulle: U is slegs ’n bedrogpleger. Nee, die meeste van hulle weet nie
102Sê: Die Gees van Heiligheid het dit met die waarheid van u Heer geopenbaar, sodat dit diegene wat glo kan versterk, en sodat dit as leiding en blye tyding kan dien vir die onderdaniges
103En Ons weet inderdaad dat hulle sê: Dit is slegs ’n sterfling wat hom onderwys. Die tong van hóm wat hulle bedoel, is vreemd, terwyl hierdie ’n duidelike Arabiese taal is
104Hulle wat nie in Allah se tekens glo nie ~ Allah lei hulle nie; en vir hulle is daar ’n pynlike straf
105Net hulle wat nie in Allah se tekens glo nie, versin leuens; en húlle is die leuenaars
106Diegene wie Allah verwerp nadat hy geglo het ~ nie hy wat daartoe gedwing word terwyl sy hart met die geloof tevrede is nie, maar hý wat sy boesem vir die ongeloof oopmaak ~ op hulle rus die toorn van Allah, en vir hulle is daar ’n smartlike straf
107Dit is omdat hulle hierdie lewe meer liefhet as die Hiernamaals, en omdat Allah die ongelowige volk nie lei nie
108Hulle is dié wie se harte en ore en oë Allah verseël het, en húlle is die agtelosiges
109Ongetwyfeld sal hulle in die Hiernamaals die verloorders wees
110Dan is u Heer voorwaar ~ vir diegene wat moes vlug omdat hulle vervolg is, en daarna hard strewe en geduld toon ~ Vergewensgesind, Genadevol
111Op die Dag wanneer elke siel vir homself sal pleit, sal elke siel ten volle vergoed word vir wat hy gedoen het, en geen onreg sal hom aangedoen word nie
112En Allah stel dit voor deur die gelykenis van ’n stad waarin rus en vrede was, en waarheen voorsiening in oorvloed van alle kante gekom het; maar sy was nie dankbaar oor die gunste van Allah nie, en daarom het Allah veroorsaak dat smart en honger en vrees haar oorval, as ’n gevolg op hulle dade
113En waarlik, daar het ’n boodskapper uit hul midde na hulle gekom, maar hulle het hom verwerp, en daarom het die straf hulle ingehaal terwyl hulle boosdoeners was
114Eet daarom van wat Allah aan julle gegee het, wettige en goeie dinge; en wees dankbaar vir die guns van Allah, as dit Hy is wat julle aanbid
115Hy het slegs dít wat reeds dood was, bloed, varkvleis, en dít waaroor ’n ander naam uitgeroep is as dié van Allah, vir julle verbode verklaar; maar vir hom wat deur noodsaak gedwing word om te eet, terwyl hy dit nie so wou hê nie en ook nie die perke wou oorskry nie, is Allah Vergewensgesind, Genadevol
116En sê nie ~ vanweë die leuens wat julle tong spreek ~ dít is wettig en dít is onwettig nie, om sodoende ’n leuen teen Allah te versin. Voorwaar, hulle wat ’n leuen teen Allah wil versin, slaag nooit nie
117’n Kortstondige genot ~ en dan is daar vir hulle ’n pynlike straf
118En Ons het vir die Jode ook al die dinge verbied waarvan Ons aan u reeds melding gemaak het; en Ons het hulle geen onreg aangedoen nie, maar hulle het hulself onreg aangedoen
119U Heer is voorwaar ~ vir diegene wat onwetend kwaad doen en daarna berou het en daarvoor vergoed ~ Vergewensgesind, Genadevol
120Abraham was inderdaad ’n voorbeeld van deug: gehoorsaam aan Allah, opreg, nie een van die heidene nie
121en dankbaar vir Sy gunste. Hy het hóm verkies en hom op die regte weg gelei
122En Ons het aan hom die goeie in hierdie wêreld geskenk; en in die Hiernamaals sal hy sekerlik saam met die regverdiges wees
123En Ons het aan u geopenbaar: Volg die geloof van Abraham, die opregte, want hy was nie een van die heidene nie
124Die Sabbat is slegs vir húlle opgelê wat daaromtrent van mening verskil het. En op die Dag van Opstanding sal u Heer sekerlik tussen hulle oordeel oor dít waaroor hulle verskil het
125Roep tot die weg van u Heer met wysheid en goeie raad, en argumenteer met hulle op ’n gepaste wyse. Voorwaar, u Heer weet goed wie van Sy weg afgedwaal het, en Hy weet ook wie reg gelei is
126En indien julle jul kans waarneem, straf dan met ’n soortgelyke straf as dít waarmee júlle gekwel is. Maar as julle geduld kan beoefen, sal dit beter wees
127En wees geduldig; voorwaar, u geduld is alleen moontlik met die hulp van Allah. En treur nie oor hulle nie, en wees ook nie onrustig oor wat hulle beplan nie
128Voorwaar, Allah is met diegene wat Hom vrees, en met hulle wat goeddoen aan ander
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath