14. Ibrahim
1Alief, Laam, Raa.1 ’n Boek wat Ons aan u geopenbaar het, sodat u die mense deur die gebooie van hul Heer uit die duisternis na die lig kan bring, op die pad van die Almagtige, die Lofwaardige
2van Allah, aan Wie alles behoort wat in die hemele en op die aarde is. Maar wee die ongelowiges, op wie ’n swaar straf wag
3Hulle wat die teenswoordige lewe bo die Hiernamaals verkies en afdraai van die weg van Allah, en begeer om dit krom voor te stel. Hulle het ver afgedwaal
4Ons stuur elkeen van Ons boodskappers in die taal van sy volk, sodat hy vir hulle ’n duidelike vertolking kan gee. Dan laat Allah in dwaling bly wie Hy wil, en Hy lei wie Hy wil. En Hy is die Almagtige, die Allerwyse
5En waarlik, Ons het Moses met Ons tekens gestuur, en gesê: Bring u volk uit die duisternis na die lig, en herinner hulle aan die dade van Allah. Daarin is waarlik tekens vir elkeen wat geduldig en dankbaar is
6En toe Moses aan sy volk gesê het: Dink aan die guns van Allah, hoe Hy julle gered het van Farao se volk, wat julle met ’n smartlike foltering gekwel het, julle seuns doodgemaak het en julle vroue gespaar het; daarin was ’n swaar beproewing van jul Heer
7En toe julle Heer verklaar het: As julle dankbaar is, sal Ek julle meer gee, maar as julle ondankbaar is, is My straf inderdaad streng
8En Moses het gesê: Al is julle ondankbaar ~ julle en almal wat op die aarde is ~ dan is Allah voorwaar nóg Selfgenoegsaam, Lofwaardig
9Het julle nie gehoor van hulle wat vóór julle was nie, van die volk van Noag en Aad en Thamoed ~ en diegene ná hulle? Niemand behalwe Allah ken hulle nie. Boodskappers het met duidelike bewyse na hulle gegaan, maar hulle het hul hande in hul monde gestop en gesê: Ons glo nie in dít waarmee u gestuur is nie, en ons twyfel aan dít waartoe u ons aanspoor
10Hulle boodskappers het geantwoord: Bestaan daar twyfel oor Allah, die Skepper van die hemele en die aarde? Hy roep julle sodat Hy julle sonde kan vergewe en aan julle uitstel kan verleen vir ’n vasgestelde tyd. Hulle het gesê: Julle is slegs sterflinge soos ons; julle wil ons verwyderd maak van wat ons vaders aanbid het. Bring vir ons daarom ’n duidelike bewys
11Hulle boodskappers het aan hulle gesê: Ons is inderdaad sterflinge soos julle, maar Allah bewys gunste aan wie Hy wil van Sy dienaars. En dit kom ons nie toe om aan julle gesagheb- bende tekens te toon nie, behalwe as Allah dit beveel. En op Allah moet die gelowiges vertrou
12En waarom sou ons nie op Allah vertrou wanneer Hy ons waarlik na die regte weg gelei het nie? En waarlik, ons sal sekerlik al die kwaad wat julle ons aandoen, met geduld dra. En laat diegene wat wil vertrou, hulle vertroue in Allah stel
13En die ongelowiges het aan die boodskappers gesê: Ons sal julle waarlik uit die land verdryf, tensy julle na ons godsdiens terug keer. Toe het hulle Heer aan hul geopenbaar: Voorwaar, Ons sal die kwaaddoeners vernietig
14en Ons sal julle ná hulle in die land vestig. Dít is bestem vir hom wat vrees as hy in My teenwoordigheid staan, en wat My dreigemente vrees
15En hulle het om ’n oordeel gevra, en elke hoogmoedige teenstander was teleurgestel
16Die Hel is voor hom, en kokende water word hom gegee om te drink
17Hy drink dit bietjie vir bietjie, en sal dit skaars kan sluk; en die dood sal van alle kante na hom toe aankom, en tog sal hy nie sterf nie. En voor hom is ’n verskriklike straf
18Die werke van die ongelowiges is soos as, waaroor die wind op ’n stormagtige dag waai. Hulle sal hul verdienste nie kan vasstel nie. Dit is ’n groot dwaling
19Sien u dan nie dat Allah die hemele en die aarde in waarheid geskape het nie? As dit Sy wil is, sal Hy julle wegneem en ’n nuwe skepping voortbring
20En vir Allah is dit nie moeilik nie
21Hulle sal almal voor Allah verskyn, dan sal die swakke aan die hoogmoedige sê: Ons was waarlik julle volgelinge; kan julle nie ’n deel van Allah se straf van ons afweer nie? Hulle sal sê: As Allah óns gelei het, sou ons sekerlik vir júlle gelei het. Dit maak nie saak of ons huil of geduldig is nie, want daar is vir ons geen toevlug nie
22En wanneer die saak beslis is, sal die duiwel sê: Waarlik Allah het Sy belofte aan julle gestand gedoen, maar ek het belowe en julle toe in die steek gelaat. En ek het geen gesag oor julle nie, behalwe dat ek julle geroep en julle my gehoorsaam het. Verwyt my daarom nie, maar beskuldig julself. Ek kan julle nie bystaan nie, nóg kan julle mý bystaan. Ek ontken dat julle my voorheen met Allah vereenselwig het. Voorwaar, daar sal vir die onregverdiges ’n smartlike straf wees
23En hulle wat glo en goeie dade doen, sal toegelaat word in Tuine waardeur riviere stroom, en daarin sal hulle bly deur die bevel van hul Heer. Hulle groet daarin sal wees: Vrede
24Merk julle dan nie hoe Allah ’n goeie woord vergelyk met ’n boom waarvan die wortels diep en die takke hoog is nie
25Dit bring in elke jaargety vrugte voort volgens die bevel van sy Heer. En Allah leer die mense deur gelykenisse, sodat hulle nadenkend kan wees
26En ’n slegte woord is soos ’n boom wat uit die grond geruk is omdat dit geen standvastigheid gehad het nie
27Allah versterk die gelowiges met die vestigende woord in hierdie wêreld en in die Hiernamaals, en Allah laat die kwaaddoeners dwaal; en Allah doen wat Hy wil
28Sien u nie hoe hulle die guns van Allah vir ongeloof verruil en hul volk in die huis van verderf inlei nie
29Dit is die Hel. Daarin sal hulle brand. En dit is ’n bose rusplek
30En hulle stel gelykes op naas Allah, om die mense van Sy weg af te lei. Sê: Vermaak julleself, want julle terugkeer is voorwaar na die Vuur
31Sê aan My dienaars wat daaraan glo, om die gebed te onderhou en om van dít waarmee ons hulle voorsien het, heimlik en openlik te bestee voordat daar ’n Dag kom wanneer daar nóg handel nóg vriendskap sal wees
32Dit is Allah wat die hemele en die aarde geskape het, en water uit die wolke neerstuur, en daarmee vrugte vir julle onderhoud voortbring; en Hy het die skepe vir julle dienstig gemaak sodat hulle oor die see kan vaar deur Sy gebod, en Hy het ook die riviere in julle diens gestel
33En Hy het die son en die maan vir julle dienstig gemaak; beide lê hulle omwentelings ywerig af; en Hy het die nag en die dag vir julle dienstig gemaak
34En Hy gee julle alles wat julle Hom vra. En as julle die gunste van Allah tel, sal julle dit nie kan klaar tel nie. Voorwaar, die mens is baie onregverdig, baie ondankbaar
35En toe Abraham gesê het: My Heer! Maak hierdie stad veilig, en weerhou my en my seuns van die aanbidding van afgode
36My Heer! Hulle het waarlik baie mense op ’n dwaalspoor gebring. Wie mý daarom ook volg, hy is stellig ván my; en wie my nie gehoorsaam nie, dan is U voorwaar Vergewensgesind, Genadevol
37Ons Heer! Ek het ’n deel van my nageslag in ’n onvrugbare dal digby U Heilige Huis gevestig, sodat hulle die gebed kan onderhou; laat die harte van sommige mense gunstig teenoor hulle gestem wees, en voorsien hulle van vrugte sodat hulle dankbaar kan wees
38Ons Heer! U weet voorwaar wat ons verberg en wat ons openbaar maak. En niks op die aarde of in die hemel is vir Allah verborge nie
39Alle lof kom Allah toe, wat in weerwil van my ouderdom Ismael en Isak aan my geskenk het! Voorwaar, my Heer is die Hoorder van die Gebed
40My Heer! Maak my en my nageslag onderhouers van die gebed. Ons Heer! Aanvaar ook mý gebed
41Ons Heer! Vergewe my en my ouers en die gelowiges, op die Dag wanneer die afrekening sal plaasvind
42En dink nie dat Allah geen ag slaan op wat die kwaadstokers doen nie. Hy verleen hulle slegs uitstel tot die Dag wanneer hulle in afgryse sal staar
43en voorthaas met opgehefte hoofde, terwyl hulle hul blik nie kan wegkeer nie, en hulle harte leeg sal wees
44En waarsku die mense teen ’n Dag wanneer die straf oor hulle sal kom; dan sal die kwaaddoeners sê: Ons Heer! Verleen ons uitstel vir ’n klein rukkie. Ons sal U roep beantwoord en die boodskappers volg. Het julle nie voorheen gesweer dat daar vir julle geen heengaan sal wees nie
45En julle woon tans in die huise van diegene wat hulself onreg aangedoen het, en dit is vir julle duidelik hoe Ons met hulle gehandel het en hoe Ons van hulle ’n voorbeeld gemaak het
46En hulle het reeds hul planne beraam, maar hulle planne is vir Allah bekend, al was hulle planne ook so dat berge daardeur versit kon word
47Moenie dink dat Allah Sy beloftes aan Sy boodskappers nie gestand sal doen nie. Allah is voorwaar Almagtig, die Heer van Vergelding
48Op die Dag wanneer die aarde deur ’n ander aarde vervang sal word, en so ook die hemel; en hulle sal voortkom na Allah, die Een, die Verhewene
49en u sal die misdadigers op daardie Dag in kettings gebind vind
50hulle hemde sal van pik gemaak wees, en hulle gesigte sal met vuur omhul word
51sodat Allah elke siel kan vergeld vir wat hy gedoen het. Voor- waar, Allah is vlug in die vereffening
52Dit is ’n boodskap aan die mense, sodat hulle daardeur gewaarsku kan word en dat hulle kan weet dat Hy Een God is, en sodat mense van begrip kennis kan neem
bron: Imam M. A. Baker
WEBREATH · 11:11
«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7
Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.
WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath