Islam
terug

11. Hud

1Alief, Laam, Raa.1 ’n Boek waarvan die verse deur wysheid gekenmerk word, word verduidelik deur die Allerwyse, die Allerbewuste

2Sodat julle niemand moet aanbid behalwe Allah nie. Voorwaar, ek is vir julle ’n waarskuwer van Hom en ’n draer van blye tyding

3En vra om vergifnis van julle Heer, en wend julle tot Hom. Hy sal julle vir ’n vasgestelde tyd van ’n goeie lewensonderhoud voorsien, en Sy goedertierenheid gee aan elkeen wat daarop geregtig is. Maar as julle van Hom af wegdraai, dan vrees ek, om julle onthalwe, die straf van ’n Groot Dag

4Julle terugkeer is tot Allah, en Hy het mag oor alle dinge

5Waarlik, hulle bedek hulle boesems om hul vyandskap teenoor Hom te verberg. Waarlik dan, wanneer hulle hulself met hul klere bedek, weet Hy wat hulle verberg en wat hulle openbaar maak. Voorwaar Hy weet wat in hul harte omgaan

6En daar is geen dier op aarde nie, of Allah onderhou dit; en Hy ken sy rusplaas en wegkruipplek. Alles is in ’n duidelike verslagboek aangeteken

7En dit is Hy wat die hemele en die aarde in ses tydperke geskape het, en Sy Troon van Mag is vir ewig op die water, sodat Hy julle kan beproef om te sien wie van julle se gedrag die voortreflikste is. En as u sê: Voorwaar, julle sal ná die dood weer opgewek word, sal die ongelowiges sê: Dit is niks anders nie as duidelike bedrog

8En as Ons hulle straf vir ’n bepaalde tyd opskort, sal hulle sekerlik sê: Wat weerhou dit? Waarlik, dan, wanneer dit hulle tref, sal dit van hulle nie afgewend word nie, en dít wat hulle bespot het, sal hul omring

9En wanneer Ons die mens Ons barmhartigheid laat smaak en dit daarna van hom wegneem, word hy wanhopig en ondankbaar

10En as Ons hom ’n guns bewys nadat teenspoed oor hom gekom het, sê hy: Die rampspoed het van my gewyk. Voorwaar, hy is aanmatigend in sy jubeling

11Behalwe hulle wat geduldig is en goeie dade verrig. Vir hulle is daar vergifnis en ’n groot beloning

12Miskien sal u ’n gedeelte van die openbaringe laat vaar, en sal u hart benoud voel omdat hulle sê: Waaarom is daar nie vir hom ’n skat uit die hemel neergestuur, of waarom het ’n engel hom nie besoek nie? Waarlik, u is maar net ’n waarskuwer. En Allah hou toesig oor alle dinge

13Of hulle sê: Hy het dit versin. Antwoord hulle: Versin tien sulke Hoofstukke en roep buiten Allah wie julle kan om hulp aan, indien julle opreg is

14En as hulle julle nie kan antwoord nie, weet dan dat dit met die wete van Allah geopenbaar is, en dat daar geen God is nie behalwe Hy. Sal julle dan onderdanig wees

15Wie dan na die lewe van hierdie wêreld en na die aanloklikhede daarvan verlang ~ Ons sal hulle volgens hulle dade ten volle vergoed, en hulle sal hieroor geen verlies ly nie

16Dit is húlle vir wie daar in die Hiernamaals slegs Vuur is, en hulle dade is nodeloos, en wat hulle doen is vergeefs

17Is hy dan soos iemand wat ’n duidelike bewys van sy Heer besit, terwyl ’n getuie van Hom dit voordra; en dit voorafgegaan is deur die Boek van Moses ~ ’n leiding en genadegawe? ~ sulkes glo daarin. En vir dié wat nie daarin glo nie, vir hulle is die Vuur ’n beloofde bestemming. Twyfel nie daaraan nie. Voorwaar, dit is die waarheid van u Heer; maar die meeste mense wil dit nie glo nie

18En wie is onregverdiger as hy wat ’n leuen teen Allah versin? Hulle sal voor hul Heer gedaag word en die getuies sal sê: Dit is húlle wat teen hul Heer gelieg het. Voorwaar, die vloek van Allah rus op die boosdoeners

19wat mense van die pad van Allah aflei en probeer om dit te ver- draai. En hulle glo nie in die Hiernamaals nie

20Hulle sal nie in die wêreld kan ontvlug nie, nog minder het hulle buiten Allah enige beskermer. Vir hulle sal die straf verdubbel word. Hulle haat dit om te hoor, en hulle sien ook nie

21Dit is húlle wat hulle siele verloor het; en wat hulle versin het, ondersteun hul ook nie

22In die Hiernamaals sal hulle ongetwyfeld swaar verliese ly

23Voorwaar, hulle wat glo en goeie dade doen en hulself voor hulle Heer verootmoedig, hulle is die bewoners van die Hemel; daarin sal hulle bly

24Die gelowiges is teenoor die ongelowiges soos die wat sien en hoor, teenoor blindes en dowes. Is hulle toestand dieselfde? Wil julle dit nie in ag neem nie

25Voorwaar, Ons het Noag na sy volk gestuur: Waarlik, ek is vir julle ’n duidelike waarskuwer

26sodat julle niemand buiten Allah sal aanbid nie. Waarlik, ek is bevrees vir julle die vergelding van ’n smartlike Dag

27Maar die ongelowige hoofmanne van sy volk het gesê: Ons sien u nie aan vir iets anders as ’n sterfling nie, soos onsself ook is, en ons merk nie dat iemand anders u volg as juis die gemeenstes tussen ons nie. En ons sien ook nie in julle enige voortreflikheid bo ons nie; nee, ons beskou julle as leuenaars

28Hy het gesê: O my volk! Dink julle dat as daar duidelike bewyse van my Heer aan my getoon is, en Hy Sy barmhartigheid aan my bewys het maar dit vir julle verborge gehou het, dat ons julle kan dwíng om iets te aanvaar waarvan julle afkerig is

29En, my volk, ek vra julle daarvoor geen geld nie. My beloning is by Allah, en ek gaan nie die gelowiges verdryf nie ~ Voorwaar, hulle sal hul Heer ontmoet; maar ek sien júlle aan as ’n onkundige volk

30En, my volk, wie sal my teen Allah help as ek hulle sou verdryf? Sal julle dan omgee

31En ek gee nie teenoor julle voor dat ek die skatte van Allah besit nie, en die Onsigbare ken ek nie; ook doen ek my nie as ’n engel voor nie; ook sê ek nie van hulle, van wie julle selfs die aanblik haat, dat Allah hulle niks goeds sal skenk nie, want Allah alleen weet wat heimlik in hulle harte omgaan. As ek dít sou waag, sal ek waarlik een van die onregverdiges wees

32Hulle antwoord was: O Noag! U het met ons geargumenteer en die dispuut verleng; as u opreg is, bring dan nou die dinge te voorskyn waarmee u ons dreig

33Hy het gesê: Allah alleen sal dit aan julle toon as Hy wil, en julle sal dit nie ontvlug nie

34En ook my raad sal julle nie baat nie, as ek verkies om julle van goeie raad te bedien terwyl Allah voornemens is om julle te vernietig. Hy is julle Heer, en tot Hom sal julle versamel word

35Of sê hulle: Hy het dit versin? Sê: As ek dit versin het, sal die skuld op mý rus; maar ek is sonder blaam aangaande dít waarvan julle beskuldig word

36En dit is aan Noag geopenbaar: Niemand van u volk sal glo nie, behalwe hulle wat reeds gelowig is. Treur dus nie oor hulle dade nie

37En bou die ark voor Ons oë en volgens wat Ons geopenbaar het, en roep My ten behoewe van die onregverdiges nie aan nie. Hulle sal sekerlik verdrink word

38En hy het toe begin om die ark te bou. En telkens as die ower- stes van sy volk hom verbygegaan het, het hulle hom uitgelag. Hy het gesê: As julle ons uitlag, sal ons ook vir julle lag, soos julle ons uitlag

39dan sal julle weet wie dit is oor wie ’n vernederende straf sal kom, en op wie die blywende straf sal rus

40Uiteindelik, toe Ons gebod gekom en water uit die vallei gestroom het, het Ons gesê: Dra daarin twee paar van alle dinge, en u eie familie ~ met uitsondering van diegene teen wie die woord reeds uitgegaan het ~ en die gelowiges. En maar min het saam met hom geglo

41En hy het gesê: Gaan aan boord; in die Naam van Allah vaar en anker hy. My Heer is waarlik Vergewensgesind, Genadevol

42En op golwe soos berge het hulle voortbeweeg. En Noag het na sy wederstrewige seun geroep: O my seun! Kom saam met ons aan boord, en skaar jou nie by die ongelowiges nie

43Hy het geantwoord: Ek sal weldra my toevlug tot ’n berg neem wat my teen die water sal beskerm. Toe het hy gesê: Vandag is niemand veilig teen die gebod van Allah nie, met uitsondering van diegene aan wie Hy barmhartigheid betoon. En ’n golf het tussen hul gekom en hy was toe saam met die drenkelinge

44En daar is gesê: O aarde! Sluk u water op. En: O wolk! Trek weg! En die water het bedaar en die gebod was vervul, en die Ark het op die berg Al-Djoedie2 tot stilstand gekom, en daar is gesê: Weg met die onregverdige volk

45En Noag het sy Heer aangeroep en gesê: My Heer! My seun is waarlik een van my gesin, en U belofte is voorwaar standvastig, en U is die Regverdigste van alle regters

46Hy het gesê: O Noag! Hy is nie ’n lid van u gesin nie, omdat sy dade boos is. U moet My daarom nie uitvra omtrent dinge waarvan u geen kennis dra nie. Ek waarsku u sodat u nie een van die onkundiges moet wees nie

47Hy het gesê: My Heer! Ek neem my toevlug tot U sodat ek nie vrae sal stel oor dinge waarvan ek geen kennis dra nie. En as U my nie vergewe en barmhartigheid aan my betoon nie, sal ek een van die verloorders wees

48En daar is gesê: O Noag! Klim in Ons vrede van die berg af; Ons seën u en die volkere wat uit u lendene sal ontstaan. En daar is volkere vir wie Ons eers sorg en daarna smartlik kwel

49Dít is die mededelinge aangaande die Onsigbare wat Ons aan u openbaar; u het nie daarvan geweet nie ~ nóg u nóg u volk ~ vóór hierdie openbaring. Wees daarom geduldig. Waarlik, die geseënde einde is vir die godvresendes

50En ná Aad het Ons hul broer Hüd gestuur. Hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen God nie buiten Hom. Julle versin net leuens

51O my volk! Ek vra julle geen beloning hiervoor nie. My beloning is alleen by Hom wat my geskape het. Sal julle dan nie begryp nie

52En, o my volk, vra julle Heer om vergifnis, en wend julle daarna tot Hom; Hy sal wolke wat voldoende reëns neergiet, oor julle heen stuur, en krag by júlle kragte voeg. Moet tog nie soos skuldiges wegdraai nie

53Hulle het gesê: O Hüd! U het ons nie ’n enkele duidelike bewys gebring nie, en ons gaan nie ons gode in die steek laat vir u woord nie. In u glo ons nie

54Ons kan alleen sê dat ons gode u met kwaad getref het. Hy het geantwoord: Voorwaar, ek roep Allah as getuie aan, en ook júlle getuig dat ek onskuldig is aan dit wat julle met Allah vereen- selwig

55Laat julle almal dan komplotte teen my smee, en verleen aan my geen uitstel nie

56Sekerlik het ek my vertroue in Allah gestel, Hy wat my Heer en julle Heer is. Daar is geen lewende skepsel nie, of Hy neem hom by sy voorkuif. Voorwaar, my Heer is te vinde op die regte pad

57Maar indien julle wegdraai, dan het ek nog die boodskap waarmee ek na julle gestuur is aan jul meegedeel, en my Heer sal ’n ander volk julle plek laat inneem, en julle kan Hom nie die geringste kwaad aandoen nie. Voorwaar, my Heer is Bewaker oor alles

58En toe Ons gebod volbring is, het Ons Hüd deur Ons barm- hartigheid gered en ook hulle wat saam met hom geglo het, en Ons het hulle van ’n smartlike foltering gevrywaar

59En so was Aad: Die tekens van hulle Heer het hulle verwerp, en Sy boodskappers nie gehoorsaam nie, en die stem van elke opstandige teenstander van die waarheid gevolg

60En ’n vloek het hulle getref wat geld vir hierdie wêreld, sowel as vir die Weeropstandingsdag. So seker as wat Aad hulle Heer verwerp het, so gewis lui dit: Weg met Aad, die volk van Hüd

61En na Thamoed het Ons hul broer Salieg gestuur. Hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen God buiten Hom nie. Hy wek julle uit die aarde op en laat julle daarin woon; smeek Hom dus om vergifnis en bekeer julle tot Hom. Voorwaar, my Heer is Naby, Aanluisterend

62Hulle het gesê: O Salieg! Voorheen was u die mikpunt van ons hoop. Verbied u ons om te aanbid wat ons vaders aanbid het? Ons is waarlik in verontrustende twyfel oor dít waartoe u ons roep

63Hy het gesê: O my volk! Sien julle nie dat ek duidelike bewyse van my Heer kry en dat Hy Sy genade aan my geskenk het nie? Wie sal my dan teen Allah beskerm as ek Hom nie gehoorsaam nie? So sou julle slegs tot my verdoemenis bydra

64En, o my volk! Dít is die kamelin van Allah, ’n teken vir julle; laat haar op Allah se aarde wei en raak haar met kwaad nie aan nie, anders sal die eerste die beste straf julle tref

65Maar hulle het haar verlam, daarom het hy gesê: Vermaak julle vir drie dae in jul huise. Dit is ’n belofte wat nie ontken kan word nie

66En toe Ons gebod bewaarheid is, het Ons Salieg, en diegene wat saam met hom geglo het, deur Ons barmhartigheid van die smaad van daardie dag gered. Waarlik, u Heer ~ Hy is die Sterke, die Almagtige

67En ’n aaklige lawaai het die kwaaddoeners ingehaal, en in hulle wonings was hulle beweginglose liggame

68asof hulle nooit daarin gewoon het nie. Waarlik, Thamoed het nie in hul Heer geglo nie. Daarom: weg met Thamoed

69En waarlik, Ons boodskappers het met goeie nuus na Abraham gekom. Hulle het gesê: Vrede vir u! Hy het geantwoord: Vrede vir u; en hy het dadelik ’n geroosterde kalf gebring

70Maar toe hy sien dat hulle hul hande nie daarna uitsteek nie, het hy wantrouig geword en vreeslike gedagtes gekoester. Hulle het gesê: Vrees nie; ons is na Lot se volk gestuur

71En sy vrou het daar naby gestaan en haar verwonder, waarop Ons haar die blye tyding van die geboorte van Isak gegee het, en ná Isak van Jakob

72Sy het gesê: Wat ’n aardigheid! Sal ’n vrou soos ek ’n kind baar terwyl ek reeds ver gevorder het in jare en my man ook reeds oud is

73Hulle het gesê: Verwonder u u oor Allah se gebod? Die barmhartigheid van Allah en Sy seëninge is met julle, o bewoners van hierdie huis! Voorwaar, Hy is Veelgeprese, Glorieryk

74En toe die vrees Abraham verlaat en die blye tyding tot hom deurgedring het, het hy begin om by Ons te pleit vir die volk van Lot

75Abraham was voorwaar verdraagsaam, sagmoedig, en het hom dikwels tot Allah gewend

76O Abraham! Los dit uit! Die gebod van u Heer het reeds uitgegaan en ’n onafwendbare straf sal oor hulle kom

77En toe Ons boodskappers na Lot gekom het, was hy besorg oor hulle en onbekwaam om hulle te beskerm, en hy het gesê: Dit is ’n ongelukkige dag

78En sy volk het na hom gekom asof hulle gedryf was, en hulle was voorheen gewoond aan die dade van die kwaaddoeners. Hy het gesê: O my volk! Hier is my dogters ~ hulle is vir julle nog reiner; waak daarom teen die straf van Allah, en onteer my nie om my gaste se onthalwe nie. Is daar geen weldenkende man onder julle nie

79Hulle het geantwoord: U weet wel dat ons geen reg op u dogters het nie, en u weet ook wat ons verlang

80Hy het gesê: Ag, het ek maar die mag gehad om teen julle weerstand te bied! ~ liewers sal ek tot ’n magtige steun my toevlug neem

81Hulle het gesê: O Lot! Ons is die boodskappers van u Heer. Hulle sal u geen kwaad kan aandoen nie. Vertrek met u mense op ’n uur van die nag, en laat niemand van julle terugkeer nie behalwe u vrou. Sekerlik, wat met hulle gaan gebeur sal haar ook oorkom. Voorwaar, die vasgestelde tyd is die oggend. Is die môre nie naby nie

82En toe Ons gebod bewaarheid is, het Ons hulle onderstebo gekeer en klippe op hulle laat neerreën, soos voorheen bepaal, die een na die ander

83gemerk vir straf deur u Heer. En dit is nie ver weg van die kwaaddoeners nie

84En na Mede het Ons hulle broer Sjoe-eib gestuur: O my volk! Aanbid Allah, want julle het geen ander God buiten Hom nie. En verkort nie die maat of verminder die massa nie. Ek merk julle voorspoed en ek vrees vir julle die straf van ’n alomvattende dag

85En, o my volk! Gee die volle maat en ’n juiste massa met regverdigheid, en bedrieg die mense nie met wat hulle koop nie, en pleeg geen verderwende onheil op die aarde nie

86Wat by Allah berus, is vir julle beter, indien julle gelowiges is. En ek is geen bewaker oor julle nie

87Hulle het gesê: O Sjoe-eib, u gebied dat ons moet uitlos wat ons vaders aanbid het, of dat ons moet ophou om te maak met ons eiendom wat ons wil? U is gewis verdraagsaam, en u lei met waarheid

88Hy het gesê: O my volk! Sien julle dat ek ’n duidelike bewys van my Heer het en dat Hy my ’n goeie voorsiening geskenk het? En ek wil nie, in teenstelling met julle, myself veroorloof wat ek julle verbied nie. Ek wil alleen, sover ek kan, ’n verbetering aanbring. En by niemand anders as Allah het die rigting van my saak ’n regte uitloop nie. In Hom vertrou ek en tot Hom wend ek my

89En, o my volk! Laat vyandigheid teenoor my julle nie daraan skuldig maak nie, sodat dieselfde nie oor julle kom as wat oor die volk van Noag of die volk van Hüd of die volk van Salieg gekom het nie; en die volk van Lot is nie ver van julle nie

90En soek vergifnis by julle Heer, en bekeer julle tot Hom. Voorwaar, my Heer is Genadig, Liefdevol

91Hulle het geantwoord: O Sjoe-eib! Ons begryp nie veel van wat u sê nie, en ons sien dat u swak teenoor ons is. Was dit nie vir u gesin nie, sou ons u seker gestenig het, want u is nie baas oor ons nie

92Hy het gesê: O my volk! Is my gesin vir julle waardiger as Allah? En julle verontagsaam Hom soos iets wat julle agter die rug werp! Voorwaar, my Heer omvat alles wat julle doen

93En, o my volk! Handel op júlle manier; ek handel op myne. Julle sal weldra te wete kom wie ’n vernederende straf sal oorkom en wie ’n leuenaar is. En pasop; ek wag waarlik saam met julle

94En toe Ons oordeel gekom het, het Ons Sjoe-eib, en die gelo- wiges saam met hom, deur Ons barmhartigheid gered. En ’n jammerlike geween het die onregverdiges ingehaal, sodat hulle liggame in hulle huise bewegingloos was

95asof hulle nooit daarin gewoon het nie. Weg dan met Mede, net soos Thamoed vergaan het

96Sekerlik het Ons Moses met Ons tekens en met gesag

97na Farao en sy owerstes gestuur, maar hulle het die gebod van Farao gevolg; en die gebod van Farao was nie verstandig nie

98Hy sal op die Weeropstandingsdag voor sy volk uitgaan en hulle na die Vuur lei. En boos is die plek waarnatoe hulle gebring sal word

99En daar word vir hulle in hierdie wêreld en op die Weeropstan- dingsdag ’n vloek opgelê. Boos is die gawe wat aan hulle gegee sal word

100Dit is ’n verslag van die stede waarvan Ons u vertel het. Sommige van hulle het bly staan en ander is platgevee

101En Ons het hulle geen onreg aangedoen nie, maar hulle het hulself onreg aangedoen. En hulle gode wat hulle buiten Allah aangeroep het, het hulle niks gebaat toe die gebod van u Heer werklikheid geword het nie; en hulle het slegs verderf vir hulleself daaraan toegevoeg

102En so is die greep van u Heer wanneer Hy die stede gryp terwyl hulle kwaad verrig. Voorwaar, Sy greep is smartlik, hard

103Hierin is gewis ’n teken vir diegene wat die straf van die Hiernamaals vrees. Dit is ’n Dag waarop die mensdom versamel sal word, en dit is ’n Dag waarvan die mens getuie sal wees

104En slegs vir ’n bepaalde tyd stel Ons dit uit

105Op die Dag wanneer dit kom, sal geen enkele siel sonder Sy toestemming kan spreek nie; dan sal sommige van hulle ongelukkig en ander gelukkig wees

106Diegene dan wat ongelukkig is, sal in die Vuur vertoef, waarin hulle sal sug en steun

107en hulle sal daarin woon solank as die hemele en die aarde bestaan, behalwe as dit u Heer anders behaag. Sekerlik, u Heer bring teweeg wat Hy wil

108Maar diegene wat gelukkig is, sal in die Hemel wees en ook daarin vertoef solank as die hemele en aarde bestaan, behalwe as dit u Heer anders mag behaag ~ ’n gawe wat nie afgesny sal word nie

109Wees dus nie in twyfel omtrent dít wat die mense aanbid nie; hulle aanbid slegs soos hulle vaders voorheen aanbid het. En Ons sal hulle ten volle en onverminderd gee wat hulle toekom

110En waarlik het Ons Moses die Boek gegee, maar onenigheid het daaroor ontstaan. En was dit nie dat ’n woord van u Heer reeds uitgegaan het nie, sou die saak tussen hulle beslis gewees het; en waarlik, hulle is in ’n verontrustende twyfel daaroor

111En u Heer sal almal vir hulle dade ten volle uitbetaal. Hy is inderdaad heeltemal Bewus van wat hulle doen

112Gaan dan voort op die regte weg soos u beveel is; só moet ook diegene doen wat hulle saam met u tot Allah bekeer het. En handel nie buite die grense nie. Gewis, Hy sien wat julle doen

113En neig julle nie tot die kwaaddoeners nie, anders sal die Vuur julle ook aantas, en dan sal julle geen beskermers buiten Allah hê nie, en julle sal ook nie gehelp word nie

114Onderhou die gebed aan die twee uiterstes van die dag en gedurende die eerste ure van die aand. Waarlik, goeie dade verdryf die slegtes. Dit is ’n aanmaning vir diegene wat omgee

115En wees geduldig; voorwaar, Allah laat nie die loon van die weldoeners verlore gaan nie

116Waarom dan was daar nie onder die geslagte vóór julle verstandiges wat verderf op die aarde verbied het nie, behalwe ’n klein groepie wat deur Ons gered is? Maar die onregverdiges het die genot van oorvloed gevolg, en was skuldig

117En u Heer sou die stede nie ten onregte vernietig het as hulle inwoners opreg was nie

118En as dit u Heer behaag het, sou Hy die mensdom tot een volk gemaak het. Maar hulle hou nie op om te verskil nie

119met uitsondering van hulle aan wie u Heer barmhartigheid betoon het; en hiervoor het Hy hulle geskape. En die woord van u Heer is vervul: Voorwaar, Ek sal die Hel met djien en mense, almal tesame, vul

120En alles wat Ons aan u vertel van die dade van die boodskappers, is om u hart mee te versterk. Hierdeur het die waarheid en ’n vermaning en ’n les vir die gelowiges na u gekom

121En sê aan die ongelowiges: Handel na julle vermoë; ons handel ook

122En verwyl die tyd; ons wag ook

123En aan Allah behoort die geheimenisse van die hemele en die aarde, en tot Hom sal alles teruggebring word. Aanbid Hom daarom en vestig u vertroue op Hom. En u Heer is nie onbewus van julle dade nie

bron: Imam M. A. Baker

WEBREATH · 11:11

«If you are thankful, I will give you more» — Quran 14:7

Breath is one for all: everyone lives by it, whoever they are and whatever they believe. Every day at 11:11 local time people stop for sixty seconds, breathe, and thank GOD for the breath — each in their own words, each within themselves. In that minute we are One Breath.

WEBREATH — the Minute at 11:11, your own local time — we are One Breath